Netbal SA-president toets positief vir Covid-19

Cecilia Molokwane, president van Netbal SA (Foto: Netball South Africa/Facebook)

Netbal Suid-Afrika se president, Cecilia Molokwane, het positief vir Covid-19 getoets.

Dit volg nadat sy die afgelope maand onderskeidelik na die Verenigde Koninkryk en Skotland vir sake gereis het.

Molokwane het in ʼn verklaring van Netbal SA gesê sy het Dinsdagoggend toe sy van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika teruggekeer het, by die OR Tambo-lughawe positief vir die virus getoets.

Volgens Netbal SA het Molokwane vergaderings as ʼn bestuurslid van die Internasionale Netbalfederasie (INF) in die Verenigde Koninkryk bygewoon. Hierdie vergaderings is ter voorbereiding van Suid-Afrika wat die Netbal-wêreldbeker in 2023 in Kaapstad gaan aanbied.

Sy is tans in kwarantyn, maar toon nog geen simptome van die virus nie.

“Ek wil die publiek in kennis stel dat ek die nodige voorsorg tref om seker te maak dat ek ten volle herstel en ook nie iemand rondom my aansteek nie,” het Molokwane gesê.

Molokwane versoek ook die publiek om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om die vinnige verspreiding van die virus te bekamp.

“Was jou hande met seep of ontsmettingsmiddels vir ten minste 20 sekondes. Hou ook ʼn twee meter sosiale afstand tussen mekaar. As jy positief toets, maak seker jy isoleer jouself vir 14 dae.”

Netbal SA se kantore gaan tot 17 April gesluit wees.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Remlut ·

Die ministers/amptenare en hulle families het nou n gulde geleentheid om met ons geld besigheid/vakansie oorsee te gaan.

Cherokee ·

Nòu? Hulle doen dit sedert die jare toet! Neem selfs sokkerspanne saam, somtyds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.