Netcare-hospitale berei voor vir Covid-19-aanslag in Gauteng

(Argieffoto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Die hospitaalgroep Netcare sê hy ondervind, soos verwag, reeds ʼn kommerwekkende styging in opnames van Covid-19-pasiënte in al sy Gautengse hospitale.

“Dit is ʼn situasie wat na verwagting oor die volgende twee weke beduidend gaan vererger,” het dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van die Netcare-groep, Woensdag gewaarsku.

Ten spyte van strenger inperkingsmaatreëls wat verlede week ingestel is in ʼn poging om die styging in infeksies te help stuit, is nog 14 410 Covid-19-gevalle en ʼn bykomende 513 Covid-19-verwante sterftes Dinsdagaand bevestig.

Friedland sê daar was ʼn bemoedigende daling in hospitaalopnames in die Oos-Kaap – vir die vierde agtereenvolgende week. Die streek sal na verwagting later vandeesmaand na dieselfde Covid-19-vlak terugkeer as voor die aanvang van die tweede vlaag. Volgens hom begin Netcare-hospitale in die Wes-Kaap ook ʼn plato bereik wat betref die getal pasiënte wat opgeneem word.

Hy sê die strenger afsondering en beperkings op die verkoop van alkohol het ook bygedra tot ʼn daling in geweld en ongelukverwante traumagevalle, wat die las op die groep se noodgevalle-afdelings verlig het.

“Limpopo ondervind in hierdie stadium ʼn ongekende aanvraag na hospitalisering, met Netcare se fasiliteit in Polokwane, die Pholoso-hospitaal, wat meer as 100% vol is.

“As deel van ons rampbestuursbeplanning, het ons ʼn tydelike kliniese besluitnemingseenheid op die been gebring wat tot 80 pasiënte kan akkommodeer. Dit sal die las op die ongevalle-afdeling by die hospitaal verlig en die stabilisering van pasiënte voor hospitaalopname moontlik maak.”

Die eenheid word Donderdag in gebruik geneem. Dit is toegerus met suurstof, badkamers en veilige ruimtes waar dokters en verpleegpersoneel persoonlike beskermingstoerusting kan aan- en uittrek. Nog 60 personeellede is reeds by die hospitaal ontplooi.

Friedland sê hospitale in KwaZulu-Natal ondervind ook ʼn enorme vraag na beddens en dié neiging sal na verwagting die res van die maand voortduur.

Hy sê die hospitaalgroep het uit die eerste vlaag geleer en is goed toegerus om versorging tydens die verwagte styging in Gauteng se getalle en die toenemende styging in Covid-19-gevalle in KwaZulu-Natal en Limpopo te hanteer.

Netcare het vroeër reeds sy personeel van verlof teruggeroep en almal behoort teen die einde van hierdie week reeds weer op hul poste te wees.

Die groep het reeds verskeie dokters en klinici aangestel om hand by te sit en het verskeie werklose maatskaplike werkers in diens geneem om as tussengangers op te tree tussen pasiënte en hul gesinne sodat mediese personeel op hul primêre pligte kan konsentreer.

Netcare het ook ʼn bykomende 1 100 suurstofopwekkers aangekoop wat hierdie week nog in die land sal aankom. “Die masjiene, wat tot vier liter suurstof per minuut kan produseer, bring die algehele vloot suurstofopwekkers op 1 400 te staan en gaan die las op suurstofvoorraad in ons hospitale verlig,” het Friedland gesê.

Netcare ook verskeie ander toerusting, onder meer ventilators, aangekoop.

Bedkapasiteit

Volgens Friedland het Netcare altesaam 10 411 hospitaalbeddens in sy groep, waaronder 425 in Lesotho. Dit sluit in 5 699 beddens in 29 hospitale in Gauteng en 1 956 beddens in tien hospitale in KwaZulu-Natal.

In Gauteng het die groep 1 716 akute sorg (hoë sorg en intensiewe sorg)-beddens beskikbaar, waarvan 1 055 in Gauteng en 261 in KwaZulu-Natal is.

“Ons is deurlopend besig om meer beddens na Covid-19-beddens om te skakel om die verwagte styging in Gauteng te kan hanteer,” het Friedland gesê.

Om die las by ongevalle-afdelings te verlig en lang wagtye te verminder, word kliniese besluitnemingseenhede by sekere hospitale op die been gebring. Dit sal bestuur word deur ongevalle-dokters om druk op beddens in die hospitaal te verlig.

Suurstof

Friedland sê Netcare het ook sy reeds sy bergingskapasiteit vir suurstof by die meeste van sy hospitale opgegradeer en is besig met verdere opgradering by 17 fasiliteite in Gauteng.

“Omdat die land so ʼn kommerwekkende styging in nuwe Covid-19-infeksies ondervind – wat baie mense angstig en bekommerd maak – gaan Netcare sy bes doen om die publiek op hoogte te hou van verwikkelinge en sy pogings om veilige en volhoubare sorg te verseker.”

Friedland sê die situasie in alle hospitale word fyn dopgehou sodat die gepaste sorg vir elke pasiënt gegee kan word, asook om te verseker hulpbronne word vir optimale pasiëntesorg ingespan.

Hy sê die beste manier om ʼn humanitêre krisis te voorkom, is vir almal om Covid-19 ernstig op te neem en waaksamer as ooit te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.