Netcare-ongeluk: Plaaseienaar vertel van gru-ongelukstoneel

(Foto: Netcare 911)

Marietjie Warden (76), die eienaar van die plaas waar die Netcare-helikopter Donderdag neergestort het, vertel dat sy hard probeer om die ongelukstoneel te vergeet. Sy en haar man, Eric Freshwater (73), was van die eerstes op die toneel.

Maroela Media het vroeër berig dié helikopter het die middag op Warden se plaas reg langs die N3 by die Colenso- en Winterton-afrit in KwaZulu-Natal neergestort. Al die insittendes, onder wie die vlieënier en vier mediese personeel, het tydens die ongeluk gesterf. Die oorsaak van die ongeluk is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

“Ek en my man het die middag ’n harde slag gehoor. Toe kom ons werker na ons toe aangehardloop en skree dat ’n vliegtuig geval het. Ons het dadelik in die bakkie geklim om te gaan kyk wat gebeur het,” vertel Warden.

Warden sê hulle het rook by hul beeskamp gesien en in daardie rigting gery. Soos hulle al hoe nader aan die kamp gekom het, het hulle ’n digte bol rook en toe die helikopterwrak gesien.

“Ons kon nie te naby aan die wrak kom nie weens die vlamme en rook. Ons kon wel die stukke van die wrak deur die rook uitmaak. Die stert van die helikopter en die res van die wrak het meters ver uitmekaar gelê.”

Warden se een buurman was heel eerste op die toneel.

“Van die mense op die N3 wat die ongeluk aanskou het, het afgedraai en ook na die toneel toe gegaan.”

Warden en haar man het ’n plaaslike nooddiens in Winterton na die toneel ontbied.

Bo: Mark Stoxreiter, vlieënier (links bo) en Sinjin Joshua Farrance, ʼn gevorderde lewensondersteuningsparamedikus. Onder (van links): Mpho Xaba, ʼn spesialiasteaterverpleegster, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu, ʼn kardiotorakale chirurg en dr. Kgopotso Rudolph Mononyane, ʼn narkotiseur, (Foto: Facebook)

“Terwyl ons vir die nooddiens gewag het, was daar skielik ’n geweldige ontploffing. Vlamme en rook het in die lug opgegaan. Ons vermoed dit kon dalk die brandstoftenk wees wat ontplof het. Ons was darem ’n veilige afstand van die wrak af.”

Van die buurplase se boere het intussen met voertuie en watertenks daar aangekom nadat van die gras aan die brand geslaan het.

Die nooddienste, brandweer, verkeersdepartement en polisie het ’n rukkie later daar aangekom.

“Gisteraand toe ek en my man stiltetyd gehou het, het ek die Here gevra om daardie ongelukstoneel uit my geheue te blok.

“Dit gaan konstant deur my gedagtes. Die wete dat dit dalk jou kind of geliefde in daardie helikopter kon gewees het. Jy besef ook hoe nietig die mens en kort die lewe is. Dit is net deur die Here se genade dat ons daagliks bewaar bly.”

Warden het haar medelye met die oorledenes se families en vriende betuig.

“Ek hou hulle in my gebede.”

Honderde boodskappe van medelye het ingestroom ná die ongeluk vir dr. Kgopotso Rudolph Mononyane, ʼn narkotiseur, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu, ʼn kardiotorakale chirurg, en Mpho Xaba, ʼn spesialisteaterverpleegster, wat in die ongeluk omgekom het. Al drie was verbonde aan die Netcare Milpark-hospitaal.

Die ongeluk het ook die lewe geëis van Sinjin Joshua Farrance, ʼn gevorderde lewensondersteuningsparamedikus by Netcare 911, en dié van die vlieënier, Mark Stoxwreiter.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, het gesê die spesialisintensiewesorgspan was van die Milpark-hospitaal in Johannesburg na Hillcrest in KwaZulu-Natal onderweg om ʼn uiters siek pasiënt na Johannesburg oor te plaas.

Kollegas by die Milpark-hospitaal het Donderdagaand byeengekom om hulde aan die vyf te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sêmanet ·

Oppad om ‘n goeie daad te gaan verrig. Dis sooooo hartseer.

Cecilia ·

Tragies. Oppad om n ander se lewe te gaan red en kom self om in n ongeluk.
Sterkte vir d families.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.