Netcare onttrek uit Verenigde Koninkryk

Foto: Facebook

Netcare, Suid-Afrika se privaat hospitaal- en mediese nooddienste groep, het Woensdag aangekondig die groep het besluit om uit die Verenigde Koninkryk (VK) te onttrek.

Volgens Netcare is ʼn proses reeds van stapel gestuur om van die groep se belange in die General Healthcare Group (GHG) ontslae te raak. Netcare het gesê dié besluit is geneem omdat hulle nie in staat was om laer huurgeld in die VK te onderhandel nie.

Netcare het GHG in Mei 2006 as deel van ʼn konsortium verkry. Kort ná die verkryging is GHG geherstruktureer in ʼn bedryfsmaatskappy, BMI Healthcare, en ʼn reeks eiendomsmaatskappye wat die hospitaaleiendomme besit het, het deur middel van langtermynhuurkontrakte die eiendomme aan BMI Healthcare verhuur.

Die groep het gesê hulle het omvattende hulpbronne en tyd bestee om ʼn transaksie vir verminderde huurgeld met BMI Healthcare se grootste verhuurder aan te gaan op 35 van die verhuurder se 59 hospitaal-eiendomme.

Ná vyf jaar se onderhandelinge het Netcare egter tot die gevolgtrekking gekom dat dit hoogs onwaarskynlik is dat hulle op ʼn verminderde huurtransaksie ooreen sal kom wat BMI Healthcare in staat sal stel om kompeterend te bly en terselfdertyd ʼn gepaste risiko-gedrewe opbrengs te genereer wat ooreenstem met die res van die Netcare-groep se besighede.

Dr. Richard Friedland, Netcare se uitvoerende hoof, het gesê toe dié VK-huurkontrakte afgehandel is, is die kontrakte as markverwant beskou en voorsiening gemaak vir ʼn vasgestelde huurverhoging van 2,5% per jaar.

“Ná die wêreldwye finansiële krisis van 2008, saam met die gepaardgaande afnemende vraag na private mediese fondse en die volgehoue tydperk van besondere lae inflasie in die onlangse jare, het BMI Healthcare se huurverpligtinge onbekostigbaar geword. Die volgehoue huurverhogings is nie volhoubaar nie.”

Friedland het gesê in 2017 het verhuringskoste sowat 20% van die groep se Britse inkomste verteenwoordig. “Dit is kapitaal wat BMI Healthcare andersins nodig het vir huidige en toekomsbeleggings.”

Friedland het gesê die Britse gesondheidsbedryf het fundamenteel verander sedert Netcare GHG in 2006 verkry het, hoofsaaklik as gevolg van die wêreldwye finansiële krisis en die gevolglike resessie.

Volgens Friedland het dit die vraag na privaat mediese fondse in die VK aansienlik verminder. “Dit is deels vergoed deur die verhoogde getal van nasionale gesondheidsdienspasiënte (NHS) wat teen laer tariewe in die privaat sektor behandel is.

“Onlangs, en veral sedert 2017, het NHS-ingrypings om opsionele chirurgie te verminder al die verskaffers beïnvloed.”

Friedland het gesê dat hierdie prysdruk die onderneming genoodsaak het om te reageer en doeltreffendheidsmaatreëls te implementeer nadat Netcare vroeër aangedui het dat hy nie verdere kapitaal in BMI Healthcare sal belê indien ʼn ooreenkoms vir ʼn vermindering in huurkostes nie in plek is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.