Netcare sê oor Omikron-simptome

Argieffoto. (Foto: Elaine Krige)

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, het Woensdag gesê ná meer as drie weke die Omikron-variant in Suid-Afrika gemonitor word, is daar belangrike waarnemings uit data van hospitale en primêre sorgfasiliteite.

“Ons pasiënte in ons Gautengse hospitale se simptome is geringer as enigiets wat ons tydens die eerste drie golwe gesien het,” sê Friedland. “Sowat 90% van Covid-19-pasiënte tans in ons hospitale het nie enige vorm van suurstofterapie nodig nie. Ons besef dit is nog maar net die begin, maar as dié neiging voortduur, kan die vierde golf waarskynlik voldoende op ʼn primêresorgvlak behandel word.”

Tydens die eerste drie golwe het die opnames in die hospitaal toegeneem saam met die koers van gemeenskapsoordrag (die getal mense wat positief getoets het).

Friedland sê tydens die eerste drie golwe van die pandemie het Netcare 126 000 Covid-19-pasiënte by sy 49 akute hospitale behandel, waarvan 55 000 (44%) opgeneem moes word en 26% van dié pasiënte in die hoësorgeenheid en intensiewesorgeenheid behandeling moes ontvang. “Alle Covid-19-pasiënte wat opgeneem was, was siek en hulle het een of ander vorm van suurstofterapie benodig. Die hoë opnamekoers en die hoë persentasie pasiënte wat hoë sorg benodig het, was ʼn teken van die erns van die gevalle in die eerste drie golwe.”

Teen Woensdag (8 Desember 2021) is 337 Covid-19-pasiënte in Netcare-hospitale opgeneem (72% van dié pasiënte is in Gauteng en 18% in KwaZulu-Natal). Van dié pasiënte het 10% (33 pasiënte) een of ander vorm van suurstof benodig teenoor 100% in die eerste drie golwe. Agt van die pasiënte (2%) is op ventilators en twee is primêre traumagevalle wat ook Covid-19-positief is.

Netcare se beleid is om alle pasiënte vir Covid-19 te toets voor hulle opgeneem word. Pasiënte wat vir ander prosedures of diagnoses opgeneem word wat positief toets vir Covid-19 maar nie enige vorm van suurstof benodig nie, word as toevallige Covid-19-gevalle beskou. Tans is 90% van Covid-19-gevalle in Netcare-hospitale toevallige gevalle.

“Tydens die eerste drie golwe, toe die algemene positiwiteitskoers in die land 26% verbygesteek het, is ons oorval met Covid-19-opnames. By Netcare het ons tydens die eerste golf meer as 2 000 Covid-19-pasiënte in hospitale gehad. Meer as 2 250 tydens die tweede golf en meer as 3 000 pasiënte in die derde golf. Tans verteenwoordig die 337 pasiënte ʼn breukdeel in vergelyking met vorige golwe,” voeg Friedland by.

Volgens Friedland was 75% van die 800 Covid-19-pasiënte wat sedert 15 November opgeneem is, nie ingeënt nie. Netcare het vier Covid-19-sterftes beleef tydens dié periode in hierdie groep pasiënte. Die ouderdomme van die vier pasiënte was tussen 58 en 91 jaar en hulle het almal ernstige komorbiditeite onder lede gehad. Drie van die pasiënte was nie ingeënt nie.

“Wat betref ouderdomme, is Covid-19-pasiënte wat sedert 15 November opgeneem is, oor die algemeen jonger as tydens die eerste drie golwe met meer as 71% jonger as 50 en ʼn gemiddeld van 38.5 jaar. Dit is in vergelyking met slegs 40% jonger as 50 tydens die eerste drie golwe met ʼn gemiddelde ouderdom van 54 jaar.”

Van die 32 000 pasiënte wat sedert 15 November deur algemene praktisyns by 21 Netcare Medicross Medical en tandheelkundige sentrums in Gauteng gesien is, het 1 100 positief getoets vir Covid-19 en hulle was simptomaties. ʼn Bykomende 22 000 pasiënte is by Netcare se noodgevalle-afdelings in Gauteng gesien, waarvan 816 positief getoets het. Byna alle pasiënte het ligte tot matige griepsimptome gehad insluitend ʼn toe neus, hoofpyn en ʼn seer keel wat simptomaties behandel is.

Friedland benadruk egter dat Suid-Afrikaners steeds Covid-19 in ʼn baie ernstige lig moet beskou en net so versigtig moet bly as vroeër. “Netcare ondersteun ten sterkste die behoefte dat alle Suid-Afrikaners ingeënt moet word. Daar is bewys dat entstowwe veilig en hoogs doeltreffend is om oordrag te verminder en lewens te red. Ons het reeds onder ons personeel gesien watter positiewe impak inentings gehad het tydens die derde golf. Daar was beduidend minder personeel wat die virus opgedoen het, gehospitaliseer moes word of gesterf het, in vergelyking met die eerste twee golwe.”

Friedland sê Netcare benadruk die behoefte aan inentings en alle niefarmaseutiese voorsorgmaatreëls, veral die dra van gesigmaskers. “Dit bly ʼn uiters doeltreffende manier om oordrag te voorkom. Was jou hande gereeld, vermy sosiale byeenkomste, maak seker dat jou werk en huis goed geventileer is, voldoen aan sosiale distansiëring, en dra altyd ʼn masker in die publiek of wanneer jy ander mense sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jeepie ·

75% van die 800 gevalle wat in die hospitale opgeneem was, was nie in geënt nie. Dan moet ons ook verstaan dat Covid nog nie verby is nie. Die is een van die variante.

Marius ·

Dit klink na ‘n eensydige statistiek. Dit beteken ook 120 van die nuwe opnames was wel ingeënt. Nou hoe nou? Hoeveel van die pasiënte wat nou opgeneem is het gedurende die laaste ses maande covid onder lede gehad? Heel waarskynlik het minder netcare personneel siek geword omdat hul alreeds covid gehad het. Statistiek wat nie al die aspekte dek nie beteken niks.

Durban Afrikaner ·

So basies hulle gaan hospitaal toe vir griep? Ek is nog ou skool, ons drink n panado, en as die neus geblok is stoom ons met vicks, en dan gaan ons aan. Flip, vandag se kinders is maar sag jong.

Miskruier ·

Familie in Nederland het al 3 spuite gehad en tog positief getoets en een het in die hospitaal beland. Ek glo God het die virus hier in ons land minder dodelik gemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.