Netcare se St. Augustine-hospitaal tydelik gesluit

Netcare se St Augustine-hospitaal in Durban. (Foto: Netcare)

Netcare se St. Augustine-hospitaal in Durban word voorlopig gesluit, met net ʼn enkele saal wat sal oopbly om pasiënte wat positief vir die nuwe koronavirus getoets het, te behandel.

“Ons het die hospitaal gesluit, maar ons doen dit in fases,” het Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, Dinsdagaand bevestig.

Tot dusver is 66 gevalle van Covid-19 in die hospitaal bevestig. Vier mense het reeds daar weens die virus gesterf.

Sedert Woensdag word geen nuwe pasiënte in die hospitaal opgeneem nie. Pasiënte wat gesond genoeg is, word ontslaan. Pasiënte wat nié positief vir Covid-19 getoets het nie maar steeds behandeling benodig, is na ander hospitale oorgeplaas, het Simelane-Zulu gesê.

Almal is vir Covid-19 getoets.

Simelane-Zulu het ook gesê die hospitaal sal ʼn tyd lank heeltemal in kwarantyn geplaas en ontsmet word voordat dit weer gebruik gaan word.

KwaZulu-Natal se premier, Sihle Zikalala, het gesê die getal voorvalle van Covid-19 in die hospitaal is uiters kommerwekkend, maar dat geen oordeel in dié stadium gevel word oor wat tot die hoë getal besmettings gelei het nie. Die uitslag van ʼn omvattende ondersoek na die oorsaak word ingewag.

Richard Friedland, uitvoerende hoof van die Netcare-groep, het vroeër gesê die bekende epidemioloog Salim Abdool Karim sal ʼn span kenners lei om ondersoek in te stel na die getal voorvalle van die virus by die hospitaal.

Die vakbond vir gesondheid en dienspersoneel (Hospersa) het ook daarop aangedring dat die hospitaal tydelik gesluit word. Hospersa het onder meer beweer daar word van gesondheidswerkers in die hospitaal verwag om dieselfde masker vir vyf tot sewe dae te dra.

Friedland het egter ontken dat enige Netcare-fasiliteit ooit van ʼn personeellid sal verwag om sonder die nodige beskerming te werk.

Netcare het by navraag gesê hy sal later vandag kommentaar oor die jongste verwikkelinge by die hospitaal kommentaar lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

dit kom nou van regstellende aksie waar NET die regte velkleur verseker dat mense werk kry, SONDER dat opleiding en ondervinding in ag geneem word
ek SIDDER vir die gevolge as ‘n regstellende aksie aangestelde Eskom werker eendag die verkeerde knoppie by Koeberg kernkragstasie druk. BAIE meer as net 3 mense sal sterf.

Cherokee

En hierdie is een van ons beterste hospitale. Hoe gaan dit dan in staatshospitale!

seeskulp

St Augustine’s is n puik hospitaal met bekwame vriendelike en behulpsame personeel- my dogter was daar 2 jaar gelede. Jammer om te hoor dat die virus van daar af gekom het.