Netcare: Toename in Covid-19-pasiënte by hospitale

Argieffoto

Die Netcare-groep se hospitale het ’n aansienlike toename gesien in die vraag na die behandeling van Covid-19-pasiënte. Dié toename is veral in die groep se hospitale in die Oos-Kaap en Gauteng te sien waar die bevestigde Covid-19-gevalle daagliks styg.

Jacques du Plessis, die besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling, sê hul hospitale verwag ’n vlaag Covid-19-pasiënte in die komende paar weke.

Met die toename in Covid-19-pasiënte wat verwag word, evalueer die groep deurlopend die vraag na hospitalisasie van Covid-19- en ander pasiënte. Dit is om te verseker die beskikbare hulpbronne word doeltreffend bestuur.

Du Plessis het gesê die publiek is bekommerd oor die kapasiteit van die hospitale, gegewe die onlangse toename in Covid-19-gevalle. Hy sê die vals nuus wat versprei word dat hospitale gesluit is weens Covid-19 en dat pasiënte by die noodafdelings weggewys word, dra by tot die kommer.

“Ons het tans kapasiteit in ons hospitale vir Covid-19-pasiënte sowel as ander pasiënte in ons kritiekesorgeenhede en algemene sale. Nie alle Covid-19-pasiënte wat opgeneem word, benodig kritieke sorg in ons hoësorgeenhede of moet op ventilators gesit word nie.”

Du Plessis het gesê hulle het wel noodplanne gereed om te verseker dat indien een hospitaal op ’n gegewe tydstip nie kapasiteit het nie, die pasiënte na ’n ander hospitaal vervoer en behandel word.

In sekere gevalle waar ’n hospitaal ook ’n onverwagse tekort aan personeel ervaar, word die fasiliteit tydelik “gesluit”. Noodverskaffers word dadelik in kennis gestel om pasiënte dan na ’n ander Netcare-hospitaal in die gebied te neem. “Hierdie praktyk word al jare lank toegepas. ’n Pasiënt in nood sal altyd die nodige mediese sorg kry,” het Du Plessis gesê.

“Van Netcare se kant af waardeer ons die gesondheidsorgwerkers se bydrae in dié onsekere tyd geweldig baie. Hulle toewyding en veerkragtigheid in die tyd word raakgesien.”

Du Plessis doen ook ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die nodige voorsorgmaatreëls toe te pas om sodoende die verspreiding van die virus te help stuit. “Hierdie maatreëls is vir elke persoon se eie beswil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daleen ·

Dink nie ons weet watter emosionele en fisiese stres die Covid-19 op mediese personeel het nie. Ek weet want my suster is ‘n matrone by’ n hospitaal en kan sien hoe dit sy tol eis. Al wat ons kan doen is bid dat die Here sy beskermde hand oor haar en al die mediese personeel hou want hulle het GEEN keuse nie hulle MOET met die virus in aanraking kom en vir pasiente sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.