Netcare wil glo honderde werkers aflê

Netcare

Die privaat hospitaalgroep Netcare is glo van voornemens om honderde werkers binne die volgende twee maande by verskeie hospitale af te lê.

Ramasela Mokonyama, groepsbestuurder van arbeidsverhoudinge by Netcare, het in ʼn verklaring bevestig dat die maatskappy onlangs ʼn artikel 189-kennisgewing uitgereik het om met konsultasies te begin oor die voorgestelde strukturele hersiening binne sy hospitaal-afdeling. Die kennisgewing is aan verteenwoordigende vakbonde en werknemers in die hospitaal-afdeling, wat moontlik hierdeur geraak mag word, gestuur.

“Altesaam 516 Netcare-werknemers het ʼn brief ontvang dat die maatskappy van voornemens is om die voorwaardes van hul indiensneming te hersien, maar die meeste werknemers wat dié kennisgewing ontvang het, sal gekonsulteer word oor voorgestelde wysigings aan hul bestaande werksure of poste,” het Mokonyama bygevoeg.

“Die getal persone wat afgelê gaan word, sal na verwagting nie meer as 0.7% verteenwoordig van die 20 000 persone wat in diens van Netcare staan nie. Ons wil graag geskikte alternatiewe vir die betrokke persone vind.”

Volgens Mokonyama volg dit ná sorgvuldige assessering deur die maatskappy van eksterne invloede insluitend huidige en verwagte marktoestande en die hospitaal-afdeling se huidige indiensneming- en sakeprosesse.

“Die proses het nou eers begin en Netcare en die vakbonde het ooreengekom om die KVBA te nader vir die konsultasieproses.”

Die vakbond Denosa, wat verpleegpersoneel verteenwoordig, het vroeër in ʼn verklaring gesê Netcare is van plan om “honderde personeellede af te lê”.

“Dié uitlating is ietwat misleidend en verwarrend, aangesien geen verpleegsters, wat pasiëntsorg verskaf, deel vorm van die hersiening nie. Dit word beperk tot personeel wat in ander kategorieë aangestel is.”

Mokonyama het bygevoeg Netcare en Denosa het vandeesweek met jaarlikse salarisonderhandelinge begin. “Denosa se aanvanklike eise strek tussen 10% en 20%, ondanks hul verwysing na die inflasiekoers as 5.2%.”

Simon Hlungwani, president van Denosa, het gesê die afleggingskennisgewing volg ʼn maand ná die maatskappy goeie winste aangekondig het en ʼn spesiale dividend van 40c per aandeel verklaar het. Die dividend kom bykomend tot ʼn gewone dividend van 60c per aandeel.

“Denosa is sterk gekant teen hierdie voortydige skuif deur Netcare, wie se winste in November is te danke aan die harde werk van dieselfde werkers wat nou afgelê kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dafer

Daar begin dit. Die begin van die ellende van die einde is hier!

Jerry

Baie geluk aan Netcare se Direksie. Uitstekende manier van werkskepping. Probleme word al hoe groter. Wie is volgende??

Harrie1501

Die korrupsie in die privaat mediese sektor wek kommer.Die hoeveelheid “bottom hand deals” wat elke dag gedoen word moet ondersoek word. Dr’s wat kommisie verdien wanneer hulle pasiënte na sekere hospitale verwys, farma maatskappye wat dik kommisies betaal aan hospitale indien hulle medikasie en daaglikse gebruiksvoorraad by spes farma maatskappye aankoop, dan styg die premies vir gemid persoon en weinig kan privaat mediese versorging bekostig.DAN..paar maande van nou af lees ons van hierdie groep se uitstekende finansiële jaar…

Wonder maar net

Ek wonder maar net of die wat die trekpas gaan kry diegene is wat dalk werklik hulle werk doen en nog trots het wat hulle doen.

Anti-swak diens Noordwes

Ek hoop van harte dat die suurstofdiewe in die spervuur is in Noordwes. Wat eens ‘n pragtige gerespekteerde hospitaal was is deesdae ‘n seer oog. Ek voel jammer vir die handjie vol wat dit nie verdien nie. Die houdings van party en veral die skoonmaak personeel laat veel te wense, hulle sal vir jou uit ‘n hysbak loop. Geen mens kan in vrede gesond word met die verskriklike geraas in die hospitale nie. Clicks se mense (sommige) is ook maar nors en lyk of jy vir hulle moeite is. Die sogenaamde kafeteria is belaglik duur en jy kan nie kla… Lees meer »