Netflix krabbel terug oor foto’s vir rolprent ‘wat kinders seksualiseer’

(Foto: Netflix)

Die aanlyn stroomdiens Netflix het om verskoning gevra vir die “onvanpaste” materiaal wat gebruik is om die rolprent Cuties (Mignonnes in die Frans waarin die rolprent oorspronklik uitgereik is) te bemark.

ʼn Herrie het die afgelope paar dae oor die film losgebars. Woedende kykers het onder meer gesê dit seksualiseer jong meisies en ʼn beroep is op Netflix gedoen om die film van sy platform te verwyder.

Die fliek handel oor ʼn 11-jarige meisie wat by ʼn dansgeselskap wil aansluit.

“Amy, deur verhoogde bewusmaking van haar groeiende feminiteit, spoor die groep aan tot ʼn toenemend seksuele dansroetine wat die meisies se hoop aanvuur om hulle pad na beroemdheid by ʼn plaaslike danskompetisie oop te werk,” lui ʼn beskrywing van die rolprent.

(Foto: Twitter)

Die foto’s wat Netflix vir die bemarking van die rolprent gebruik het, het mense aanvanklik die josie in gehad. Hulle was erg omgekrap oor die foto’s van die skraps geklede kinders en het dit as onvanpas bestempel.

ʼn Petisie om die rolprent van Netflix se platform te laat verwyder het sedertdien gevolg en is reeds meer as 220 000 keer onderteken.

Allison Mitchell, wat die petisie begin het, beskryf Cuties as “walglik” omdat dit ʼn 11-jarige meisie “seksualiseer” vir die “kykplesier van pedofiele”. Volgens Mitchell het dit ook ʼn negatiewe uitwerking op ander kinders.

“Daar is geen behoefte vir dié soort inhoud in daardie ouderdomsgroep nie, veral omdat sekshandel en pedofilie so algemeen voorkom. Daar is geen verskoning nie; dit is gevaarlike inhoud.”

Netflix het nou die bemarkingsfoto’s vir die rolprent aangepas.

“Dit was nie OK nie en dit was ook nie verteenwoordigend van die Franse rolprent wat ʼn toekenning by Sundance gewen het nie. Ons het nou die foto’s en die beskrywing bygewerk,” het Netflix in ʼn kort verklaring gesê.

Mitchell het in reaksie egter gesê mense moenie geflous word deur dié wysigings nie en dat dit niks verander aan die inhoud van die rolprent nie.

Ook op tuisbodem was sommige mense omgekrap oor die rolprent.

Die bekende aktrise Christi Panagio het op Twitter gevra hoe ʼn rolprent soos Gone With the Wind van die stroomdiens verwyder word, maar dié film toegelaat word.

Die skrywer Claire Heuchan het op Twitter geskryf dat Netflix kon kies om stories te vertel van jong mesies wat op avonture gaan, mekaar ondersteun en kinders is. “Maar met Cuties leer Netflix meisies om hulself as seksobjekte te sien. En dit is nie eens naastenby aanvaarbaar nie,” het Heuchan getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Maar Leon Shuster se flieks word verban en Gone with the Wind. Dit wys net watter soort agenda bevorder word. Ons is in die wêreld maar nie van hierdie wêreld nie.

Cheryl ·

Slaan hulle waar dit die seerste maak. Hulle sakke. Boikot Netflix.

katerinadiekat ·

Siek. Hierdie wereld is siek. Ons leef in n Monty Python episode. Maar nie n snaakse een nie. Die “Walg tot jy jou doodkots” episode.

Sarel ·

Bemarking aangepas maar nog steeds nie verwyder nie.Masr ander rolprente wat minder skade bring word verwyder. In ‘n werekd van toenemende Kindermolestering kan die prent nie toegelaat word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.