Netflix stoot SA pryse op

Argieffoto.

Staal jouself om meer op te dok om gewilde reekse en rolprente te stroom. Nuwe plaaslike intekenare op Netflix se twee duurste hoëdefinisiepakkette, die standaard- en premiumplan, sal nou reeds meer betaal, terwyl bestaande intekenare oor die volgende paar weke ’n verhoging op hul state sal sien, het die groep in ’n verklaring gesê.

Die prys van die standaardplan verhoog met R20 (14,4%) van R139 tot R159 per maand, terwyl premiumintekenare byna 18% meer gaan opdok. Die premiumpakket se prys styg met R30 van R169 tot R199 per maand. Die ander twee pakkette, die mobiele en basiese planne, se pryse bly onveranderd op onderskeidelik R49 en R99 per maand.

Volgens Netflix, wat sy buiging in 2016 in Suid-Afrika gemaak het, kom die drastiese verhoging nie op die rug van wisselkoersskommelings nie. “Dit is ons eerste prysverhoging in Suid-Afrika en weerspieël die verbetering in gehalte en groter verskeidenheid van rolprente en programme wat ons tans bied.

“Nog belangriker wil ons al hoe meer opsies insluit en ons waarde-aanbod voortdurend verbeter, ook wat plaaslike inhoud betref. Ons hooffokus is om ’n vermaakervaring te bied wat ons intekenare se verwagtinge ver oortref,” sê die groep.

Squid Game, een van Netflix se oorspronklike reekse wat ook in Suid-Afrika te sien is, laat die stroomrekords spat. Dié Suid-Koreaanse rillerreeks het $21,4 miljoen gekos om te vervaardig ($2,4 miljoen per episode), maar volgens Netflix het dit reeds meer as $900 miljoen aan impakwaarde ontsluit.

Die impakwaarde weerspieël nie die inkomste wat die program gegenereer het nie, maar is ’n interne maatstaf wat Netflix gebruik om die sukses van ’n program te meet. Dit sluit in hoeveel mense daarna gekyk het, wie gekyk het en hoe lank hulle gekyk het.

Squid Game handel oor ’n groep mense met hope skuld wat in ’n dodelike reeks kinderspeletjies om ’n reuse-kontantprys meeding. Ongeveer 132 miljoen mense het in die eerste 23 dae sedert sy vrystelling minstens twee minute van Squid Game gekyk.

Die vorige rekord is gehou deur Bridgerton, wat deur 82 miljoen mense in sy eerste 28 dae gekyk is. Die koms van die derde seisoen van You het Squid Game egter van sy toptien-topposisie op Netflix onttroon.

Netflix het die afgelope paar jaar baie bestee om internasionale groei aan te vuur deur in programme in ander tale soos Money Heist te belê. Die maatskappy het vroeër vanjaar gesê hy beplan om vanjaar $500 miljoen te bestee om inhoud in Suid-Korea, waar vervaardigingskoste baie laer as in die VSA is, te ontwikkel. Die intekenaartal in dié land het einde 2020 op 3,8 miljoen gestaan.

Intussen het ’n raad in die suide van Engeland ouers aangeraai om nie hul kinders na Squid Game te laat kyk nie, ná berigte dat kinders so jonk soos ses jaar oud die gewelddadige speletjies in dié program by die skool naboots, berig The Guardian. Squid Game het ’n ouderdomsbeperking van 16 in Suid-Afrika.

Netflix se finansiële resultate vir die derde kwartaal vanjaar word binnekort bekend gemaak en ontleders verwag dat sy inkomste met sowat 17% tot $7,5 miljard en sy netto wins met 47% tot $1,2 miljard sal styg.

Wall Street verwag dat Netflix in die derde kwartaal ongeveer 4 miljoen intekenare bygevoeg het, om die algehele getal wêreldwye kykers op 213,3 miljoen te staan te bring. ’n Nog groter styging – meer as 8 miljoen intekenare tot 221,4 miljoen – word vir die vierde kwartaal voorspel.

Netflix se aandeelprys het sedert begin vanjaar met bykans 20% gestyg.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Steeds die moeite werd en 10x beter as DSTV met al hul heruitsendings en 5x goedkoper.

Jacobus

Net nog ‘n item wat skaamteloos verhoog word. Baie groot ooreenkoms met belasting- die melkkudde word al minder!

Magda

Ek betaal nog elke maand R169. 00 waar kom hulle nou aan R159. 00 per maand, waar is R169. 00 se verhoging of is ek nog elke maand in gedoen??

ESTELLE

Netflix se manier om hulle nuwe beursprogram vir jong BBB-EE te ‘sponsor’

Harley Davidson

Rasistiese organisasie wat ek in die toekoms sal boikot todat hulle verander na ‘n nie rassige organisasie wat alle mense dieselfde behandel.