Netwerktorings moontlik geteiken oor 5G-, Covid-19-gerugte

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, veroordeel die verwoesting van netwerktorings in die lig van samesweringsteorieë dat die 5G-netwerk verband hou met die uitbreking van die koronavirus.

Ndabeni-Abrahams het Donderdag in ’n verklaring gesê drie selfoontorings wat aan die diensverskaffers Vodacom en MTN behoort, is Dinsdag en Woensdag in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek en verwoes.

“Dit is betreurenswaardig dat broodnodige netwerkinfrastruktuur vernietig word. Die land benodig veerkragtige en hoëspoedverbindings vir elke burger om hulle in staat te stel om sinvol aan die digitale ekonomie deel te neem. Mobiele telefoonverbindings is verder van kardinale belang in die stryd teen die Covid-19-pandemie,” sê Ndabeni-Abrahams.

Die minister sê verder die vernietiging van die land se netwerktorings stel verskeie pogings en inisiatiewe om die verspreiding van die virus te stuit, boonop in gevaar. “Ons doen ʼn beroep op die polisie om enigiemand in hegtenis te neem wat dreig om infrastruktuurnetwerkstasies of -torings te verwyder.”

Verskeie veldtogte op sosiale media het sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie die lig gesien waarin die 5G-netwerk met die virus verbind sou kon word.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het egter die bespiegelings in die kiem gesmoor, wys die minister daarop.

Die WGO het in sy mees onlangse verklaring oor die aangeleentheid gesê geen navorsing het tot op hede nog daarop gedui dat draadlose tegnologie nadelige gevolge vir mense se gesondheid inhou nie.

Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid het dit ook beaam.

Ndabeni-Abrahams het Suid-Afrikaners daaraan herinner dat die verspreiding van fopnuus rakende Covid-19 ʼn strafbare oortreding is. “Diegene wat betrokke is by die vernietiging van infrastruktuur oortree nie net die wet nie, maar skend ook mense se reg op toegang tot inligting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.