Neurowetenskap en onderwys ontmoet by dié konferensie

dr-lieb-liebenberg-itsi

Dr. Lieb Liebenberg is ‘n navorsingsgenoot aan die departement informatika aan die Universiteit van Pretoria en is sedert 2006 die uitvoerende hoof van ITSI. Foto: ITSIeducation.com

Dr. Lieb Liebenberg, uitvoerende hoof van ITSI, sê daar word nog nie genoeg in Suid-Afrika gepraat oor hoe om die jongste navorsing in neurowetenskap in plaaslike klaskamers te gebruik nie.

Dit het hom genoop om werkswinkels te begin aanbied waar hy kenners op die gebied na die vasteland bring wat onderwysers en skoolleiers help om te verstaan hoe die brein werk en watter invloed dit op leer in die klaskamer het.

“My missie is om mense anders te laat begin dink oor hoe leer werk en hoe onderrig kan plaasvind in die lig van die jongste navorsing hieroor,” sê Liebenberg.

ITSI, ʼn maatskappy wat tegnologie‑gebaseerde onderrig verskaf, het in 2018 die eerste werkswinkel oor neurowetenskap en die onderwys in Afrika aangebied. Die skrywers Glenn Whitman en dr. Ian Kelleher van die sentrum vir transformatiewe onderrig en leer in die VSA het dié geleentheid gefasiliteer wat deur 200 onderwysers, skoolleiers en opvoedkundige spesialiste bygewoon is.

Die opvolg op hierdie suksesvolle werkswinkel word volgende week aangebied waar die jongste bevindinge oor navorsing in die neurowetenskap en die onderwys ondersoek sal word. Daar sal ook gekyk word na hoe ʼn mens leer en wat gedoen kan word om dit te verbeter.

Dr. Daisy Pellant, die direkteur van die Peter Clark sentrum vir neurowetenskap en die onderwys in Minnesota in die VSA, is vanjaar se spreker wat onder meer sal gesels oor dié sentrum se missie om ʼn kultuur van lewenslange leer by leerders te ontwikkel.

Volgens Liebenberg is die laaste ding wat hy wil hê dat onderwysers nou alles in hulle klaskamer moet verander want hy is deeglik bewus van die administratiewe druk wat daar op die onderwysers is.

“Vir my gaan dit daaroor dat ons mense met tegnieke toerus wat hulle kan gebruik terwyl hulle klasgee om te verseker dat optimale leer plaasvind.”

Liebenberg glo ook tegnologie kan hierdie onderwysers en leerders ondersteun in die proses van leer.

“Daar was aanvanklik hierdie groot opgewondenheid dat tegnologie wonderwerke in die klaskamer gaan verrig en noudat dit nie gebeur nie, wil mense sommer weer tegnologie heeltemal van die tafel afvee.

“Ek stem saam met die navorsing wat voorstel dat kinders nie voor die ouderdom van twee aan digitale toestelle blootgestel moet word nie, maar daarna kan tegnologie gebruik word soos wat ʼn mens steierwerk vir die bou van ʼn gebou sal gebruik.

“Dit is ook belangrik dat kinders ‘analoog’ leer lees met hulle oë op papier en tog is daar ook ʼn saak uit te maak dat hulle ‘digitaal’ moet kan lees. Dink maar hoe doen ons die meeste van ons leeswerk deesdae,” sê Liebenberg.

Hy meen ouers kan hulle kinders en onderwysers ondersteun deur self op te lees oor die jongste navorsing in die veld.

“Ek dink dit is belangrik dat mense sommer begin deur op te lees oor neuromites soos dat jy linker- of regterbrein dominant is, of dat ʼn mens met ʼn vaste intelligensievlak gebore word.

“Dit sal ook help as ouers ʼn ingesteldheid van groei, of soos hulle dit in Engels noem ʼn ‘growth mindset’ by hulle kinders kweek.”

  • Lieb Liebenberg, uitvoerende hoof van ITSI, het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor vanjaar se werkswinkel vir onderwysers oor die jongste bevindinge in die neurowetenskap. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.
  • ITSI se volgende werkswinkel wat handel oor neurowetenskap en die onderwys vind op 27 en 28 Mei by The Capital in Menlyn Maine, Pretoria, plaas. Besoek www.it.si vir meer inligting of om jou sitplek vir die werkswinkel te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PJC ·

Wat is die kanse dat die ANC regering gaan inkoop op hierdie een?

NW ·

Dis die dilemma, die regering bring 30% en seksonderrig in, en andere trek al by neurowetenskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.