Newzroom-nuusspan besteel

(Argieffoto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het sy misnoeë te kenne gegee nadat nog ʼn nuusspan die afgelope naweek helder oordag besteel is.

ʼn Span van Newzroom Afrika was Vrydag besig met ʼn regstreekse uitsending in Oos-Londen in die Oos-Kaap toe boewe in hul voertuig ingebreek het.

“Ons Oos-Kaapse verslaggewer en kameraoperateur is van hul besittings beroof. Hulle was besig met ʼn regstreekse uitsending toe rowers by in die nuusvoertuig ingebreek en toerusting en hul sakke met al hul klere en persoonlike besittings gesteel het,” sê Katy Katopodis, direkteur van nuus by die kanaal.

Die voorval het naby die ANC se kantoor in Oos-Londen plaasgevind.

Dit volg op ʼn voorval vroeër vanjaar toe ʼn nuusspan van eNCA in Khayelitsha in Kaapstad oorrompel en beroof is.

Sanef het die “oneerbiedigheid, verontagsaming en absolute wetteloosheid” veroordeel en ʼn beroep op wetstoepassingsowerhede gedoen om diegene betrokke aan te keer en te laat vervolg.

Sanef sê die sielkundige uitwerking wat ʼn voorval soos dié op ʼn nuusspan – of enige ander werker het – kan nie onderskat word nie en rig blywende skade aan.

“Ons het nou gesien hoe plofbaar dit geword het vir nuusspanne om uit te gaan en toegelaat te word om hul werk te doen.

“Die veiligheid van verslaggewers is van uiterste belang vir Sanef en ons sal maniere soek om ons nuusspanne in die veld ten beste te beskerm,” sê die organisasie.

Daar sal onder meer gekyk word na maniere om verslaggewers op te lei oor persoonlike veiligheidsmaatreëls en wat om te doen wanneer hulle enige storie – ook oproer, diensleweringsbetogings en politieke saamtrekke – gaan dek.

“Sanef het waardering vir die begrip wat Suid-Afrikaners het vir die werk wat die media doen en wil ʼn beroep op gemeenskappe doen om misdadigers wat steel, dreig, boelie en die media verhoed om sy werk te doen, aan die pen te laat ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

Danksy die Regering het kriminele SA oorgeneem soos die TAXI drywers. Hoed is te besig met onbenullighede daarom word kriminele dade net meer en meer. Moet maar lygwagte kry vir hierdie nuus spanne – laat die Rerering daarvoor betaal. Hoed moet maar eerder aftree – dink hoeka hy is al hopeloos te oud vir hierdie werk, geld eintlik vir al die ANC Kaders.

marius ·

As hulle dink misdaad gaan aan die pen ry het ons nuus vir hulle .

Pierre ·

En SANEF want van al die landsburgers wat daaglikes beroof word, wat maak julle so spesiaal?

Swerwer ·

Ai en weereens is die “Boewe” naamloos en stel ons land weer in ‘n verleentheid. Ken die die “Boewe” by name nie, maar weet wie agter dit sit.

Chris dupreez ·

By die anc kantoor gebeur, definitief inside info gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.