NFP blameer tesourier vir OVK-blaps

Zanele Magwaza-Msibi, NFP-leier en adjunkminister van wetenskap en tegnologie (Foto: NFP)

Zanele Magwaza-Msibi, NFP-leier en adjunkminister van wetenskap en tegnologie (Foto: NFP)

Die National Freedom Party (NFP) het Dinsdag sy nasionale tesourier beskuldig vir die rede waarom die Onafhanklike Verkiesingskommissie die party gediskwalifiseer het uit die munisipale verkiesing op 3 Augustus.

Mawethu Mosery, OVK-verkiesingshoof in KwaZulu-Natal, het Dinsdag aangekondig dat die NFP, tesame met 2 000 ander kandidate, nie aan die komende verkiesing gaan deelneem nie, nadat die party versuim het om die registrasiefooi van ongeveer R92 000 voor 2 Junie te betaal.

“Die NFP is gediskwalifiseer,” het Mosery bevestig. “Sommige partye het nie betaal nie, terwyl ander partye te laat betaal het ná die sperdatum van 2 Junie. Die NFP val in hierdie kategorie. Die registrasiegeld is eers heelwat later ontvang.”

Nhlanhla Khubisa, algemene sekretaris van die NFP, het Maandagaand op UkhoziFM se aktuelesakeprogram gesê die tesourier het die sperdatum, waarop die geld betaal moet word, verkeerd verstaan.

Khubisa het gesê toe die registrasiefooi betaal is, het die OVK vir hulle gesê dit is te laat, maar hulle aangeraai om die saak na die verkiesingshof te verwys.

“Die saak is nou by die verkiesingshof,” het hy bygevoeg.

Die NFP se tesourier is Xolani Ndlovu.

Zanele Magwaza-Msibi, NFP-leier en adjunkminister van wetenskap en tegnologie, het vir die eerste keer in 17 maande die publiek toegespreek toe die party sy manifes by die Cecil Emmet-stadion in Vryheid in die noorde van KwaZulu-Natal vrygestel het.

Magwaza-Msibi, wat by die huis aansterk ná ʼn ernstige beroerte wat haar in November 2014 vir ʼn paar dae lank in ʼn koma gelaat het, kon nie die manifestoespraak lees nie en haar dogter het dit namens haar gelees.

Khubisa het gesê aangesien die dispuut tussen die party en die OVK voortduur, sal die party se prokureurs Woensdag in die verkiesingshof verskyn.

Khubisa het die party se ondersteuners aangemoedig om nie hoop te verloor nie en hy het gerugte, dat die NFP dalk finansieel sukkel, verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa B ·

Die verkiesing is nog ‘n hele paar weke weg en hulle begin klaar hul planne uitvoer. Vry en Regverdig word daar vir ons gesê………………….

Edward ·

Snaaks hoe alle sperdatums “verkeerd verstaan” kon word. African time /= sperdatums.

Lance ·

Altyd iemand anders se skuld of ” I did not know ” PARETIES !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.