NFP wil grondwethof nader oor verkiesing

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Die National Freedom Party het Woensdag gesê hy sal die konstitusionele hof nader rakende die party se diskwalifikasie om aan die munisipale verkiesing op 3 Augustus deel te neem.

Die party is gediskwalifiseer nadat hy versuim het om die registrasiegeld vir die komende verkiesing betyds te betaal. Die party het by die verkiesingshof geappelleer, maar dit is van die hand gewys.

“Ons is besig om die nodige dokumentasie te finaliseer en ons sal Vrydag die konstitusionele hof nader,” het Bheki Gumbi, die party se waarnemende nasionale voorsitter, gesê.

“Ons is van mening dat die uitsluiting van die NFP van die munisipale verkiesing onregverdig sal wees aangesien 1,2 miljoen ondersteuners van die party nie hul grondwetlike reg om te stem sal kan uitoefen nie” het Gumbi gesê.

Die party is van mening dat die konstitusionele hof tot ʼn ander gevolgtrekking sal kom as die verkiesingshof.

Die NFP het gesê dit is voormalige werknemers se skuld dat die registrasiegeld nie betyds betaal is nie.

Nhlanhla Khubisa, sekretaris-generaal van die party, en Maliyakhe Shelembe, nasionale voorsitter, het Saterdag bedank. Scelo Mabika, adjunk nasionale voorsitter, en Xolani Ndlovu, tesourier-generaal, is ná die glips geskors.

Khubisa het verlede week die blaam vir die glips op Ndlovu gepak en gesê dat hy die OVK se sperdatum verkeerd verstaan het.

Canaan Mdletshe, woordvoerder vir partyleier Zanele KaMagwaza-Msibi, het gesê ʼn “derde mag” sit agter dié glips. Volgens Mdletshe is die party besig om ʼn interne ondersoek te doen om “diegene op te spoor wat saam met ander partye werk om ons te sink”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Wat ‘n flippin grap!
Hulle het NIE betaal op die voorgeskrewe datum of tyd nie, hulle het NIE die by die reels gehou nie, maak nie saak watse patetiese verskoning vorendag mee kom nie! Of gaan dit ook nou weer apartheid se skuld wees??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.