NG Kerk in Namibië wil wegbreek oor gays

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Aaron Burden / Unspalsh)

Die Namibiese sinode van die NG Kerk het Saterdag aangekondig dat hy sy bande met die kerk se algemene sinode (AS) sal verbreek indien dié nie besluite oor onder meer selfdegeslag-verhoudings hersien nie. Die AS is ses maande gegun om sy besluite wat in 2019 geneem is te herroep, hoewel die sinode se volgende sitting eers in 2023 plaasvind.

Maroela Media het in Oktober 2019 berig dat die AS ’n besluit aanvaar het waarvolgens daar ruimte is vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Die Namibiese sinode is ook ontevrede oor die bestuur van teologiese opleiding aan universiteite se teologiese fakulteite waarmee die AS geassosieer is.

Ds. De Wet Strauss, assessor van die Namibiese sinode, het in ʼn verklaring gesê die sinode sal sy bande met die AS kragtens artikel 37 van die kerkorde verbreek indien daar nie gehoor aan sy versoek gegee word nie.

Ingevolge artikel 37 “staan dit samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings en name uit die kerkverband te tree wanneer hulle so ʼn stap voor God in die lig van sy woord kan regverdig”.

Na afloop van die AS se besluit in 2019 word kerkrade aangemoedig om by die aanwysing van persone in die ampte lidmate se doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe; toegang tot die sakramente; integriteit van verhoudings, asook geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem, ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en identiteit.

Die besluit wat in 2019 geneem is, was egter nie van toepassing op die Namibiese sinode nie aangesien die Namibiese regering homoseksuele huwelike verbied.

“Die sinode van Namibië is van oordeel dat die AS nie die NG Kerk met kerklike leierskap dien nie.

“Die sinode is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die NG Kerk se AS te stap soos uitgespel deur Jesus in Matteus 18:15-17,” lui die sinode se verklaring.

Dié Bybelvers sê “as jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen”.

Die sinode sê hy vertrou dat die AS tot inkeer sal kom en het ander streeksinodes uitgenooi om deel te neem aan die ontmoeting met verteenwoordigers van die AS in verband met hierdie saak.

Dit is nie duidelik wanneer hierdie ontmoeting sal plaasvind nie.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê die AS is positief oor die geleentheid om met ʼn groepering van die Namibiese sinode in gesprek te tree.

Claassen sê daar is ook ʼn spesiale taakspan wat gemoeid is met dié soort gesprekke.

“Ons kom agter daar is baie misverstande en wanpersepsies oor die besluite wat deur die AS geneem is. Hierdie [aankondiging deur die sinode] skep nou geleentheid vir gesprekvoering, wat vir ons uiters belangrik is.

“Daar is nie altyd gewilligheid om met die AS in gesprek te tree nie. Dus sien ons die sinode se versoek as ʼn geleentheid om beter begrip vir mekaar se sienings te verkry.”

Hy meen dit sal hartseer wees indien die groepering wel voortgaan met sy besluit om bande met die AS te verbreek.

“Kerkeenheid is baie belangrik. Dit sal hartseer wees as daar ’n skeuring kom.”

Claassen sê voorts dat die bestek van ses maande wat deur die Namibiese sinode gegee is, wel baie kort is aangesien die volgende AS-sitting eers in 2023 is. Dit vind elke vier jaar plaas.

Volgens Claasen was die verklaring deur die Namibiese sinode ook die eerste keer wat hulle van dié sinode se besluit verneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.