NG Kerk se gay-besluit van die baan

gay-kerkDie besluit wat tydens die NG Kerk se algemene sinode in 2015 geneem is rakende selfdegeslagverhoudings is van die baan.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, het aan die e-Kerkbode gesê die appèlkommissie wat die 2015-besluit ondersoek het, het die appèlle gehandhaaf. “Dit beteken dat die 2015-besluit van die tafel af is en dat ons van voor af moet dink en van voor af ʼn besluit moet neem.”

Janse van Rensburg het gesê die buitengewone algemene sinode wat tans in Pretoria plaasvind, bied die geleentheid om nou weer diepgaande oor die kwessie van selfdegeslagverhoudings te dink en ʼn nuwe besluit te neem.

Die algemene sinode het verlede jaar besluit gay mense mag wél in die kerk trou. Die sinodebesluit is egter kort ná die sinode vir eers tersyde gestel toe verskeie lidmate daarteen appèl aangeteken het. Tydens ʼn moderamen van die algemene sinode (ASM) se onlangse vergadering is die besluit egter herroep en het die 2015-besluit weer gegeld voor dit Maandag weer van die baan was.

Die appèlkommissie se bevinding is vervat in die agenda van die buitengewone algemene sinode. Die lede van die appèlkommissie is mense wat nie teenwoordig was by 2015 se algemene sinode nie.

Verskeie appèlle is teen die 2015-besluit ontvang en deur die appèlkommissie ondersoek. “Die appèlkommissie het bevind dat daar wesenlike onreëlmatighede was in die prosedure wat tydens 2015 se algemene sinode gevolg is om tot die besluit oor selfdegeslagverhoudings te kom. Indien die prosedure soos die Kerkorde 2013 dit voorskryf, korrek gevolg is, sou die besluit oor selfdegeslagverhoudings nie geneem kon word nie.”

Die appèlkommissie het ook die 2015-besluit rakende belydenisgrondslag opgeskort. Daar is tydens die algemene sinode in 2015 besluit om dit vir sinodes moontlik te maak om ander belydenisskrifte deel van (die sinode se) belydenisgrondslag te maak. Die besluit sou dit byvoorbeeld vir die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaapland en ander sinodes moontlik gemaak het om die Belydenis van Belhar deel van die sinode se belydenisgrondslag te maak.

Die appèlkommissie het die buitengewone algemene sinode versoek om as ʼn saak van uiterste dringendheid ʼn deeglike studie te doen oor die aard en rol van belydenisskrifte in die kerk, die aard en wese van kerkverband, en die wedersydse invloed wat die twee sake op mekaar het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.