NG Kerk sê oor gays

gay-kerkDie besluit van die NG Kerk se buitengewone algemene sinode waar die gay kwessie weer onder die loep gekom het, is bekendgemaak.

Die algemene sinode het herbevestig “dat die huwelik deur God ingestel is as ʼn heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ʼn vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou”.

Volgens die e-Kerkbode “is daar geen ruimte meer dat predikante van die NG Kerk toegelaat kan word om gay verbintenisse te bevestig nie”. Die algemene sinode het rakende gays in leierskapposisies in die kerk gesê kerkrade behou die reg om self te besluit wie in die posisies mag dien en kan nie “verplig word om enige persoon wat in ʼn selfdegeslag- burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie”.

Daar is wel gesê dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ʼn volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk. “Die algemene sinode beklemtoon dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar inteendeel dat met respek en liefde teenoor alle mense opgetree moet word. Ons erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind onsself opnuut tot die bevordering van die Godgegewe waardigheid van alle mense.

Die algemene sinode het alle lidmate en ampsdraers versoek “om, ongeag seksuele oriëntasie, mekaar met die liefde van Christus te aanvaar”. Volgens die sinode is die besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid benader.

Die algemene sinode het verlede jaar besluit gay mense mag wél in die kerk trou. Die sinodebesluit is egter kort ná die sinode voorlopig tersyde gestel toe verskeie lidmate daarteen appèl aangeteken het. Tydens ʼn onlangse vergadering van die moderamen van die algemene sinode (ASM) is die besluit egter herroep en het die 2015-besluit weer gegeld voordat dit Maandag weer van die baan was en Donderdag finaal laat vaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.