Ngcobo-polisiemoord: Beskuldigdes skop vas teen regshulp

Die verdagtes in die hof. Foto: Verskaf.

Vyf van die ses verdagtes wat tereg staan in verband met die opspraakwekkende aanval op die Ngcobo-polisiekantoor vroeër vanjaar, het Maandag in die hof daarop aangedring om hulself gedurende dié saak te verteenwoordig.

Al ses verdagtes het Maandag in die Mthatha-hooggeregshof in die Oos-Kaap verskyn waar die hof gehoor het dat Andani Monco, Kwanele Ndlwana, Siphosomzi Tshefu, Siphesihle Tatsi en Phumzile Mhlatywa verkies om hul eie verdediging in die saak te behartig.

Slegs een van die beskuldigdes, Phuthumile Mancoba, het hierteen besluit en het gekies om van regshulp gebruik te maak.

Regter Zamani Nhlangulele het die ander vyf beskuldigdes ten sterkste aangeraai om hul besluit te heroorweeg weens die erns van die aanklagte waarvan hul beskuldig word. Hy het ook die beskuldigdes se naasbestaandes gevra om hulle te help om tot hul sinne te kom.

Nhlangulele het verder in ’n poging tot herbesinning die verdagtes daaraan herinner dat hulle ʼn reg tot regsverteenwoordiging het.

Die ses beskuldigdes staan tereg op vyf aanklagte van moord ná hulle na bewering vyf polisiebeamptes in Februarie vanjaar doodgeskiet het. Hulle staan ook tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede ná hulle na bewering die polisiebeamptes van hul wapens en koeëlvaste baadjies beroof het. Daar is ook ʼn aanklag van poging tot moord nadat ʼn polisiebeampte in die nek geskiet is, maar dit oorleef het.

Die verdagtes was almal lede van die Mancoba Seven Angels-kerk in Ngcobo ten tyde van die moorde. Sewe ander verdagtes is destyds tydens ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet. Ander verdagtes wat ook in hegtenis geneem is, is later vrygelaat nadat hulle nie met die misdade verbind kon word nie.

Die saak is Maandag tot volgende jaar uitgestel waarna Nhlangulele, ondanks sy aanbeveling aan die beskuldigdes, beveel het dat alle dokumentasie en hofstukke aan die vyf verdagtes oorhandig word om die nodige voorbereiding te doen voor die saak weer hervat.

Die verhoor sal na verwagting van 16 tot 26 April 2019 plaasvind.

Al ses beskuldigdes bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Al ·

Absurd om die families van die beskuldigdes te oorreed dat hul tot hul sinne kom en regshulp kry.
Hul is volwassenes en kan besluit wat hul wil doen.
Kriminele word gekoester in die land.

Peanut ·

Ag vader, dis net n vertragingstaktiek.
Gaan aan met die saak, laat hulle hulself verdedig. Wat gaan verander – hulle is skuldig punt.
Nou moet alles tot April uitgerek word, vir wat, om belastingbetalers se geld verder te mors. Dis tog nonsens.

christa ·

laat hulle self hul saak verdedig. Hulle is mos slim en weet hoe om te lieg en bedrieg. Hulle hoort mos in elkgeval toe gesluit te word vir ewig met of sonder regshulp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.