Ngcobo-polisiemoorde: ‘Staat het sterk saak’

Die beskuldigdes in die hof. Foto: ANA.

Die ses mans wat beskuldig word dat hulle in Februarie verantwoordelik was vir die moord op vyf polisiebeamptes en ʼn soldaat wat nie aan diens was nie, het Donderdag vlugtig in die Ngcobo-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.

Andani Monco, Kwanele Ndlwana, Siphosomzi Tshefu, Siphesihle Tatsi, Phumzile Mhlatywa en Phutumile Mancoba het glo polisiewapens insluitend R5-gewere, pistole, ammunisie en koeëlvaste baadjies geroof tydens die gewapende roof by die plaaslike polisiestasie op 21 Februarie.

Die ses is in hegtenis geneem ná ʼn skietery by die Mancoba Seven Angels Church op 23 Februarie waartydens die polisie sewe persone doodgeskiet het. Daar is ook beslag gelê op van die vuurwapens wat tydens die rooftog gesteel is.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede.

Staatsaanklaer Nomapha Mvandaba het Donderdag tydens hul verskyning gesê dat die ondersoek na die voorval voltooi is en dat die dossier tans by die direkteur van openbare vervolging is vir ʼn besluit.

Die Valke het intussen ook laat hoor dat hulle vertroue het in die sterkte van die staat se saak. “Ons is vol vertroue dat ons saak sterk is en die bewyse wat ons bymekaargemaak het spreek daarvan.”

Ndlwana en Tshefu het reeds hulself en ander tydens hul aansoek om borgtog by die misdaad impliseer. Hulle het toe later dié aansoeke laat vaar. Hulle het bevestig dat hulle teenwoordig was toe twee polisiebeamptes naby aan Nyanga Hoërskool vermoor is en drie ander by die Ngcobo-polisiestasie. Hulle het ook bevestig dat hulle teenwoordig was tydens ʼn poging om geld vanuit ʼn kitsbank te roof.

Vyf van die ses hanteer hul eie regsverteenwoordiging terwyl Phuthumile Mancoba deur ʼn prokureur van regshulp verteenwoordig sal word.

Die koelbloedige moord van die soldaat en polisiebeamptes het destyds skokgolwe deur die land gestuur.

Die saak is tot 27 Julie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.