Ngcobo-saak: ‘Beamptes na hul dood gelok’

Foto: ANA.

Meer besonderhede het Maandag in die borgtogaansoek van vier van die ses verdagtes in die Ngcobo-aanval aan die lig gekom oor hoe twee van die vyf Ngcobo-polisiebeamptes na hul dood gelok is.

Die ses verdagtes, Andani Monco, Kwanele Ndlwana, Siphosomzi Tshefu, Siphesihle Tatsi, Phumzile Mhlatywa en Phuthumile Mancoba, staan tereg op vyf aanklagte van moord ná hulle na bewering vyf polisiebeamptes doodgeskiet het. Hulle staan ook tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede ná hulle die polisiebeamptes van hul wapens en koeëlvaste baadjies beroof het. Daar is ook ʼn aanklag van poging tot moord nadat ʼn polisiebeampte in die nek geskiet is, maar oorleef het ná hy hospitaal toe gehaas is.

Kapt. Thembinkosi Bambelele, ondersoekbeampte, het Maandag getuienis gelei teen die toestaan van borgtog vir Tshefu, die enigste beskuldigde wat in daardie stadium nog wou aansoek doen om borgtog ná die ander beskuldigdes almal hul aansoeke teruggetrek het.

Bambelele het aan die hof gesê dat Mhlatywa, een van die beskuldigdes, die polisiebeamptes na die toneel waar hulle vermoor is, gelok het.

“Mhlatywa het verby die polisiewa gery en ʼn skielike U-draai gemaak reg voor die polisievoertuig. Die polisiebeamptes het hom agternagesit. Hy het stilgehou naby die plek waar sy makkers gewag het. Hulle het die beamptes aangeval toe laasgenoemde hom wou konfronteer.”

Bambelele het gesê Tshefu en sy medebeskuldigdes het die twee beamptes aangeval met vuurwapens wat van polisiebeamptes in onderskeidelik Butterworth en Cala gesteel is. Volgens hom sal dit nie in die belang van geregtigheid wees om borgtog aan Tshefu toe te staan nie aangesien ernstige skeduleses-misdrywe hom in die gesig staar.

Bambelele het voorts gesê Tshefu en sy medebeskuldigdes het vyf polisiebeamptes vermoor en hul wapens en koeëlvaste baadjies gesteel. “Hy en drie medebeskuldigdes was saam met Thandazile Mancoba en Siyasanga Mfazwe toe die twee beamptes in die lokval gelei en naby Nyanga Hoërskool vermoor en van hul wapens en baadjies beroof is.”
Volgens hom sal die gemeenskap woedend wees en onveilig voel as Tshefu op borgtog vrygelaat word.

Hy het gesê die beskuldigdes het ʼn skietbaan by die rivieroewer waar hulle oefen om te skiet. Dit sal volgens hom moeilik wees om Tshefu op te spoor omdat hy nie ʼn identiteitsboek het nie.

Tshefu, wat homself verdedig, het gesê dit is onwaar dat hy nie ʼn identiteitsboek het nie. “Ek het een, maar dit is in die motor gelos wat ons gebruik het. Net Siphesihle Tatsi het nie een nie.”

Hy het ook ontken dat hulle koeëlvaste baadjies by die gevalle beamptes gesteel het. Volgens hom het hulle die twee baadjies by die polisiestasie gesteel.

Bambelele het egter volgehou hulle het die baadjies by die vermoorde beamptes gesteel en dit neergegooi naby die plek waar hulle die polisiewa gelos het.

Landdros Nozuko Mviko het vir Tshefu gesê hy moet sy vrae hou by bewyse wat verwant is aan redes hoekom hy borgtog moet kry. Ná dié raad het Tshefu ook sy aansoek om borgtog laat vaar.

Malusi Sakwe, Phuthumile Mancoba se regshulpprokureur, het vroeër aan die hof gesê Mancoba het hom opdrag gegee om sy aansoek om borgtog tydelik terug te trek “totdat hy sy huis in orde gekry het”.

Die gemeenskap eis intussen dat die kerk waar die polisie die verdagtes in ʼn hoek gedryf en sewe van hulle doodgeskiet het, gesloop word. Die polisie wag nou vir die hofbevel.

Mhlatywa, beskuldigde nommer vyf, het ook tydelik sy aansoek om borgtog laat vaar.

In plaas van die aansoek het hy vir die hof gevra om vir hom klere te reël wat hy tydens sy verskynings kan dra. “Ek het ʼn T-hemp en kortbroek gedra toe ek in hegtenis geneem is en dit was geskeur; ek het hierdie klere wat ek nou aanhet, geleen,” het Mhlatywa gesê.

Landdros Mviko het ʼn beroep gedoen op van sy familielede wat die hofverrigtinge bygewoon het om hom by te staan met sy versoek.

Ndlwana, wat ook vroeër vandeesmaand sy aansoek om borgtog laat vaar het, het gevra om ʼn dokter te spreek. Hy het aan die hof gesê hy ly aan ʼn sinusinfeksie en het nie medikasie nie; hy het ook ʼn kombers gevra. Hy sê hy bedek homself net met klere en dat al die beskuldigdes toiletware benodig.

Mviko het weereens die families gevra om hulle by te staan met daardie behoeftes.

Al die beskuldigdes word by Mthatha-gevangenis aangehou en sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning in Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marous ·

Plaas hulle onder huisarres en vra die gemeenskap om hulle 24 /7 op te pas tot hul volgende verskyning .

EQUALITY ·

Ek voel NIKS vir die aangeklaagdes wat sinusprobleme het of nie klere het nie .. HET hulle daaraan gedink toe hulle ander mense gaan beroof en vermoor het? Verder wil ek ook weet WORD DIE PLAASBOERE SE FAMILIES OOK BYGESTAAN soos die polisiemanne se gesinne? Onthou as die boer dood is is daardie gesin se INKOMSTE ook daarmee heen. Hulle het soms nog kinders op universiteit of op skool maar julle voel VERE VIR DIE PLAASBOERE wat wreed vermoor word . jammer maar voordat ALLE moorde nie equal behandel word deur die polisie en regering nie, sal ek GEEN empatie kan betoon met hierdie saak nie!

christa ·

Die polisie weet al hoe lank van die sekte wat daar skuil maar hulle het niks gedoen nie. Dalk was dit nog vir hulle ‘n kuierplek. Plaas om vir elke sekte lid n Bybel te gee in die selle sodat hulle hulself kan besig hou met iets goeds

Pieter ·

Net nog een van baie voorbeelde van die onbevoegdheid van die sapd ,dat gewone kriminele wat geen opleiding het hulle ore aansit nie.

Kas ·

Pieter,ek glo die polisiebeapmtes by die stasie is heeltemal onkant betrap en daar is losgebrand op hulle.Daar is egter vrae
1 Waar het die aanvallers die vuurwapens gekry,
2 Hulle het ‘n skietbaan gehad waar hulle geoefen het om te skiet,
3 Die twee beamptes is in ‘n lokval gelei m a w hulle het nie geweet wat by die stasie gebeur het nie,
4 Niemand het ooit iets geweet van die oefensessies by die skietbaan nie,
5 wat was hulle motief vir die onsinnige daad,
6 As hulle nie ge-arresteer was nie hoeveel ander aanvalle sou hulle uitgevoer het.Iets maak nie sin nie

MAGDA ·

Ek stem saam – hier is ‘n hele paar vrae wat ontstaan waarvoor daar nie duidelike antwoorde is nie. Iewers maak iets nie sin nie. Die saak moet behoorlik in diepte ondersoek word. En ek dink hulle is arrogant om vir klere/medikasie en toiletware te vra – dink hulle dis ‘n verdomde hotel? Jammer maar ek kan nie enige empatie/simpatie he vir hulle nie, hulle het nie 2 keer gedink om onskuldige mense brutal dood te skiet nie. En ons moet net aanhou betaal vir hierdie belaglikhede ?

christa ·

die polisie behoort nie onkant betrap te word nie. Hulle was heelwat daar en as hulle waaksaam was moes hulle die manne reeds buite gesien het. Hulle het seker geslaap of so verdiep in hulle gesprekke dat hulle nie op ge let het nie. Did nogtans baie erg. Skelms is baie skerper as die gewone man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.