Ngcobo-verdagtes wil eie verdediging behartig

Die gemeenskap van Ngcobo het Maandag buite die hof saamgedrom. Foto: ANA.

Die vier mans wat aangekla word in verband met die aanval op die Ngcobo-polisiestasie in die Oos-Kaap waarin vyf polisiebeamptes en een afgetrede soldaat doodgeskiet is, het Maandag aan die Ngcobo-landdroshof gesê hulle sal hul eie verdediging behartig.

Andani Monco (30), Banele Ndlwana (22), Siphosomzi Tshefu (23) en Siphesihle Tatsi (19) staan tereg op vyf aanklagte van moord, twee van roof met verswarende omstandighede en een van poging tot moord.

Dié vier is na bewering deel van ʼn sewelidbende wat verlede Woensdag die Ngcobo-polisiestasie binnegestorm en op die beamptes aan diens losgebrand het. Die verdagtes se drie medepligtiges is onder die sewe mense wat Vrydagaand deur die polisie doodgeskiet is toe die taakspan toegeslaan het op ʼn kerk wat deur die verdagtes as wegkruipplek gebruik is.

Tien mense is ook tydens dié operasie in hegtenis geneem. Nog twee verdagtes het hulself later aan die polisie oorgegee.

Die 12 verdagtes het vroeër Maandag in die hof verskyn, maar is uit die beskuldigdebank gelei toe dit aan die lig kom dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) steeds besig is om die aanklagte te finaliseer. Agt van die mans is daarna vrygelaat weens ʼn gebrek aan bewyse.

Landdros Nozuko Mviko het die oorblywende vier verdagtes ingelig van hul regte om deur ʼn gekwalifiseerde prokureur verteenwoordig te word en die straf wat verbonde is aan die ernstige aanklagte waarop hulle teregstaan, maar hulle het daarop aangedring dat hulle hul eie verdediging wil behartig.

Groot getalle mense van die Ngcobo-gemeenskap het by die hof opgedaag om teen borgtog vir die beskuldigdes te betoog. Monco en Tatsi het vir die hof gesê hulle sal nie aansoek doen om borgtog nie terwyl Ndlwana en Tshefu aangedui het dat hulle wel om borgtog sal aansoek doen.

Dit het ook aan die lig gekom dat Tatsi nie ʼn huis het nie aangesien hy en sy ma alles prysgegee het om by die Mancoba Seven Angels Ministries Church in die Nyanga-nedersetting, waar die skietgeveg tussen die verdagtes en polisie plaasgevind het, te gaan bly.

Die hofsaak is tot 8 Maart uitgestel.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het Dinsdag gesê nog ʼn 45-jarige verdagte is ook in verband met die aanval in hegtenis geneem. Hy sal binnekort in die hof verskyn.

Volgens kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, sal ʼn gedenkdiens vir die gevalle polisiebeamptes vanoggend by die Ngcobo Metodistekerk gehou word.

Tonjeni het bygevoeg die polisiestasie is ook weer oop vir die publiek.

Die beamptes wat doodgeskiet is, is AO Zuko Mbini (45), konst. Zuku Ntsheku (38), konst. Nkosiphendule Pongco (32), konst. Sibongiseni Sodlana (32) en konst. Kuhle Metete (27).

Freddy Mpandeni (58), ʼn afgetrede soldaat van die Suid-Afrikaanse weermag, is ook doodgeskiet toe die verdagtes van die toneel gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ISABEL ·

Shoe…. hoe kekker sal dit wees as alle verdagtes hulle self oorgee… of wag.. hoe lekker sal dit wees as almal twee keer dink voordat hulle n crime pleeg…. ja ek weet in my wildste drome ne.

Dafer ·

Vanaf die eerste oomblik wat hierdie storie begin het, het dit vir my verdag gelyk!
Dit doen, nog steeds!

Tweede ·

YES laat hulle hulle eie verdediging hanteer, ek dink ek het MIN in die geskiedenis nog mense gesien wat hulleself verdedig wat LOSGEKOM het .. PROBEER gerus om die regsmanne wat weet wat hulle doen aan te vat …

Lientjie ·

Ons verwelkom hulle eie verdediging hulle dink mos almal hulle is wetsgeleerdes. Spaar ons belastingbetalers ‘n klomp geld. Ruik solank die traliedeure !!

FOOLISH ·

‘A man who is his own lawyer has a fool for a client’

MB ·

Hoeveel kerke in SA is genuine. Dit is minder as die wat “fronting” praktiseer. Kaap het die meeste om al die drug geld te was…

GM ·

Wel, as van hul ALS opgegee het om by dié kerk aan te sluit, is dit seker makliker om in die tronk te gaan sit, en elke dag kos te kry en ‘n dak oor jou kop te hê, as om op borgtog vrygelaat te word. Siek samelewing wat ons het.

Riouna Martin ·

Hier gaan meer aan as wat ons weet
Dit sal my nie verbaas as hulle gaan los kom nie
Ons regstelsel laat ons in die steek oral. Hulle werk met n plan hier

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.