Ngubane ontduik vrae by Eskom-ondersoek

Ben Ngubane, voormalige Eskom-raadsvoorsitter. Foto: Chantall Presence/ANA

Ben Ngubane, voormalige voorsitter van Eskom, het Woensdag geweier om antwoorde te verskaf oor bewerings dat Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings, ingegryp het om die skorsing van die kragvoorsiener se voormalige waarnemende uitvoerende hoof, Matshela Koko, te verhoed.

Adv. Ntuthuzelo Vanara, die bewyseleier in die ondersoek, het Ngubane gepols oor getuies se bewerings dat hy verlede jaar net voor ʼn raadsvergadering ʼn oproep van Brown gekry het oor die besluit om Koko te skors.

Vanara het Ngubane gevra om reguit te praat oor die inhoud van dié oproep en of dit waar is dat Brown wou seker maak Koko word uitstel gegee.

“Waaroor het die minister gebel om met jou te praat? Moenie in sirkels praat nie.”

Ngubane het geantwoord: “Dit was ʼn normale oproep.”

Vanara het teruggekap: “Ek gee op, Dok.”

Khulani Qoma, die nou geskorste woordvoerder vir die Eskom-raad, het verlede jaar aan die komitee gesê hy het voorsitter Zethembe Khoza aangemoedig om Koko te skors weens die skade wat hy geglo het Koko aan die maatskappy se beeld aanrig. Qoma het gesê Khoza het redelik maklik ingestem dat dit gedoen moet word, maar het gewaarsku dat Ngubane ook teen Koko wou optree, maar deur die minister verhoed is.

“Hy het my toe vertel dat dr. Ngubane eintlik baie naby daaraan gekom het om Koko te skors, maar dat hy in sy spore gestuit is deur min. Brown,” het Qoma destyds getuig.

Hy het gesê Ngubane het die res van die raad oortuig dat dit die korrekte ding was om te doen, maar die Gupta-broers is ingeroep om van die besluit ingelig te word. Hulle het op hul beurt vir Brown gebel, wat weer vir Ngubane gebel en beveel het om dit nie te doen nie.

Vanara het Ngubane Woensdag aan Qoma se getuienis herinner en gesê: “Daar is bewyse voor hierdie komitee dat jy ʼn oproep van die minister af ontvang het waartydens sy jou opdrag gegee het om nie mnr. Koko te skors nie.”

Maar Ngubane het volgehou: “Ek weet nie waar dit vandaan kom nie.”

Hy het beweer die besluit om nie vir Koko te skors nie was gegrond op die feit dat die raad verdagmakende inligting van ʼn fluitjieblaser af ontvang het en dat dit onwettig was om direk op te tree op grond daarvan sonder om deur die voorgeskrewe proses te gaan. “Hy sou ons KVBA en arbeidshof toe gevat en gewen het,” het hy gesê.

Ngubane het in Julie verlede jaar as Eskom-voorsitter bedank. Brown is verlede week deur pres. Cyril Ramaphosa uit haar ministerpos afgedank. Koko het verlede maand uit Eskom bedank.

Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Ngubane is ook uitgevra oor Brown se eksplisiete goedkeuring van die omstrede besluit om vroeë aftrede met volle pensioenvoordele aan Brian Molefe, die voormalige uitvoerende hoof, toe te staan ten spyte daarvan dat hy slegs op ʼn vyfjaar-kontrak aangestel was. Dit het gelei tot die omstrede R30 miljoen-pensioenuitbetaling wat ʼn hooggeregshof sedertdien beslis het terugbetaal moet word.

Ngubane het gesê Molefe se salarisvlak het geensins verskil van vorige uitvoerende hoofde by Eskom s’n nie en aangesien die departement van openbare ondernemings se direkteur-generaal ʼn bewys van ontvangs van ʼn brief aan Eskom se raad gestuur het, het die raad voortgegaan op grond daarvan dat “die minister weet waarmee ons besig is”.

Brown het verlede jaar in die openbaar beswaar aangeteken teen die uitbetaling aan Molefe, en het toegelaat dat Molefe vir ʼn kort tydperk weer aangestel word voordat ʼn ministeriële taakspan opdrag gegee het dat sy kontrak beëindig moet word.

Toe Ngubane met vrae gepeper word oor die oënskynlike vermorsing van openbare hulpbronne by Eskom en die hooggeregshof se waarneming dat korporatiewe bestuur by die kragvoorsiener in duie gestort het, het Ngubane net die bewyseleier se vrae ontduik. Hy het gesê gierigheid is algemeen in die samelewing en regters kan net uitsprake maak oor die inligting wat aan hulle beskikbaar is.

DA-LP Natasha Mazzone het weer teruggegaan na Qoma se getuienis en gesê daar is getuig dat Ngubane oorbeskermend was oor Molefe, dermate dat Ngubane Eskom se destydse regshoof gevra het om hom te vergesel om “morele ondersteuning” aan die afgedankte uitvoerende hoof te gee.

Ngubane het prontuit ontken dat hulle Molefe besoek het om hom te troos. “Die enigste keer dat ek met Molefe vergader het, was nadat die minister gesê het hierdie ding is onuithoudbaar,” het hy gesê met verwysing na die pensioenuitbetaling.

Hy het ontken dat hy dit gedoen het om Molefe en sy aftredepakket te beskerm. Hy het aangevoer hy wou eerder die dooiepunt oplos en indien moontlik Molefe se dienste behou omdat Molefe syns insiens ʼn kragvoorsieningskrisis verhoed het.

“Hoekom sal ons probeer om Brian Molefe te verryk? Die enigste ding wat ons wou aanraak, is sy ontevredenheid … so, dit was net ʼn poging om hom binne te hou, om ʼn manier te kry om die saak op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel Strydom ·

Meer ‘bytkrag”of “slaankrag”vir hierdie kommitees. Brown wel afgedank maar geen stappe is nog teen haar geneem nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.