NGV: AfriForum kla gesondheidsdepartemente aan weens wanbesteding

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid. (Foto: Reint Dykema)

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag die eerste van nege strafregtelike klagtes van wanbesteding teen die onderskeie hoofde van die land se nege provinsiale gesondheidsdepartemente ingedien. Volgens die organisasie beloop dié wanbesteding sowat R5,8 miljard gedurende die 2017-’18-boekjaar.

AfriForum het vanoggend gedurende ’n mediakonferensie in Pretoria gesê die nege departemente is almal skuldig aan “onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtige besteding”. Die organisasie het tot dié slotsom gekom nadat hy die onderskeie departemente se jaarverslae onder oë gehad het.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê die eerste klagtes is reeds vanoggend teen die hoof van die Gautengse departement van gesondheid ingedien. Dié departement se jaarverslag toon ’n wanbesteding van R1,4 miljard gedurende die finansiële jaar ter sake – die tweede grootste geval van wanbesteding onder al die gesondheidsdepartemente.

KwaZulu-Natal neem die voortou met meer as R1,46 miljard wat wanbestee is, sê Taute.

Daarom voer die organisasie aan dat die beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV)-wetsontwerp nie net onvolhoubaar is nie, maar ook bevooroordeeld en ongrondwetlik is. AfriForum het nou ’n omvattende verslag bekendgestel waarin hy aanvoer waarom die wetsontwerp ter syde gestel moet word.

Volgens Natasha Venter, AfriForum se NGV-woordvoerder, ignoreer die regering enige voorstelle vanaf die publiek of ander belanghebbendes rakende die wetsontwerp. AfriForum voorspel dat dié wetsontwerp sowat R450 miljard uit belastingbetalers se sak gaan jaag.

Natasha Venter, AfriForum se NGV-woordvoerder. (Foto: Reint Dykema)

“Wanneer ’n mens die huidige toedrag van sake in die gesondheidsdepartement oorweeg, het die staat beslis nie die kapasiteit om gesondheidsdienste aan almal in die land te verskaf nie. Dit beteken dus dat dit ongrondwetlik sal wees vir die staat om beheer oor die private gesondheidsektor oor te neem,” meen Venter.

Venter voer aan dat die NVG ook Suid-Afrikaners se reg tot vryheid van assosiasie gaan skend, aangesien die staat nie gemagtig behoort te wees om vir landsburgers voor te skryf watter gesondheidsorg hulle moet kry nie.

“Dit is duidelik dat die regering se voorgestelde NGV-skema polities gemotiveer is en dat dit nie die gesondheidsuitkomste van die armste en kwesbaarste lede van die samelewing wesenlik sal verbeter nie. Die misbruik van belastingbetalers se geld is ’n nasionale krisis. Hierdie skema sal net tot die krisis bydra,” sê Taute.

“Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) plaas om voorbeelde te maak van departementshoofde wat nie hul pligte nakom nie. Hulle is van die grootste oortreders wat die misbruik van belastingbetalergeld betref.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

James ·

Met die NHI gaan die ouens lekker skep. Want as hulle mos gevang word, verloor hy net sy werk.

Skep? ·

James, die se en gee (anc) skep nie net nie hulle vervang die werkende riool pompe met stukkende riool pompe en dan vat hulle die werkende pompe om hulle self te oorstroom met die dom belasting betalers se geld. Kom ons staak ook om belasting te betaal, ons sit ons belasting geld in n wettige oor-seese finansieele instansie, en dan as die vrot gemors wat in die politiek is, verwyder is en ons n ordentlike eerbare regering het, sit ons daardie geld terug in die staats kas en begin oor.

Pieter ·

Nee james hy word bevorder en kry n menisters pos dit is hoe die siek ANC werk

DC ·

Nou is AfriForm n stappie nader aan die kern vd probleem. Hou besluitnemers in Depte aanspreeklik en vervolg hulle privaat. Stap twee is om alle wetgewing en bywette te ondersoek en waar aanspreeklikheid uitgeskryf is, dit herstel word.

Sven ·

Bly maar ‘n onbegonne taak om die staat tot verantwoording te roep. Gegewe die begroting vir openbare gesondheidsorg moet dienslewering dalk geprivatiseer word. Afriforum moet aan voorstelle begin werk.

Lou ·

Ek hoop regtig Afriforum is suksesvol met hierdie sake want dit sal die laaste spyker in die SA ekonomie se kis wees as die NVG ingestel word.
Ek kan nie glo dat CR dit nie kan insien nie.

Sê net ·

As die NGV in sy huidige vorm ingestel gaan word vat ek verseker die pad!

Lorraine ·

Dankie vir jul om te baklei vir ons regte. Dit laat mens beslis rustiger slaap .

Leon Dormehl ·

Alhoewel ek heeltemaal bereid is om vir Afriforum en Solidariteit krediet en erkenning te gee, kry ek soms die gevoel hierdie gedurige klagtes wat by polisiestasies met groot fanfare en mediaberigte gelê word is net vertoon. Bitter selde hoor ons weer daarvan. Die DA én VF + is ook lief om dit te doen. Ek weet nie van ‘n enkele saak soos die wat tot in die hof gevorder het nie. Nog minder tot skuldigbevinding.

KP ·

AfriForum begin sommer by die wat in die eerste plek die geld uitbetaal het of opdrag gegee het om dit uit te betaal, die geld kannie vanself in die kapers se rekening spring nie. Begin sommer by Singh en Molefe wat eers PRASA en toe ESCOM geplunder het.
Dankie dat julle darem probeer.

Boervrou ·

Met al daai geld wat die anc so mors kon hul gerus die ou mense se staats pensoien geld meer maak.En beter sorg vir die oumense gee.

Leon Dormehl ·

Alhoewel ek heeltemaal bereid is om vir Afriforum en Solidariteit krediet en erkenning te gee, kry ek soms die gevoel hierdie gedurige klagtes wat by polisiestasies met groot fanfare en mediaberigte gelê word is net vertoon. Bitter selde hoor ons weer daarvan. Die DA én VF + is ook lief om dit te doen. Ek weet nie van ‘n enkele saak soos die wat tot in die hof gevorder het nie. Nog minder tot skuldigbevinding.

Adam ·

Iemand moet iets doen en ten minste probeer Afriforum. Die realiteit is dat die regering alle goed bedoelde en waardevolle advies ignoreer en voortploeter op hulle pad van ekonomiese verwoesting. Die een groot struikelblok egter is hoe daarin geslaag gaan word om die nodige getuienis voor die hof te kry en lg te beweeg om die regering in die bek te ruk.

jan ·

Hulle kan nie eers die Staats hosp bestuur nie wat se nog n Priv hosp Dan kan jy nerens meer dr toe gaan nie.KRY DIE POLITIEK UIT DIE SYSTEM…….DAN SAL ONS DARM IETS BERUIK…….RAAK ONTSLAA VAN ANC

Gert R@M ·

Vir baie jare word aanskaffings prosedures gereeld verander. Die gevolg dat werklike noodsaaklike toerusting nie aangekoop word nie. Oorbesteding en wanbestuur. Geld gaan erens heen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.