NGV: Kommer oor finansiering, rol van mediese fondse en vaardighede

Die Charlotte Maxeke-hospitaal se nuwe ongevalle-eenheid. (Mei 2022) (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in sy huidige vorm sluit enkele geringe wysigings in, maar hierdie wysigings skiet tekort aan die uitgebreide aanbevelings wat gemaak is deur die private gesondheidsektor, opposisiepartye, verskeie kundiges en ander rolspelers.

Die drukgroep Health Funders Association (HFA) verwerp daarom die NGV in sy huidige vorm, aangesien dit verskeie beginsels permanent maak wat – volgens die HFA – die kwaliteit van gesondheidsorg sal ondermyn asook die doelwit om na universele gesondheidsdekking in Suid-Afrika te beweeg.

Die finale weergawe van die NGV is verlede maand deur ʼn meerderheid van die portefeuljekomitee oor gesondheid in die parlement aanvaar. Die finale wetsontwerp gaan nou na die Nasionale Vergadering vir debat en goedkeuring.

Die HFA, wat ongeveer 73% van oop mediese skemas en 50% van die totale medieseskema-lidmaatskap in Suid-Afrika verteenwoordig, is onder meer bekommerd oor beperkings op mediese skemas oor die voordele wat hulle mag voorsien, die finansiering van die NGV, ʼn verlies aan vaardighede en die kwaliteit van gesondheidsorg indien die NGV in sy huidige vorm deurgevoer sou word.

“Volgens die Wetsontwerp sal mediese skemas, sodra die NGV-fonds ten volle geïmplementeer is, slegs toegelaat word om voordele aan te bied vir dienste wat nie deur die NGV gedek word nie. HFA glo dat die byvoeging van die byna nege miljoen lewens wat deur mediese skemas gedek word by ‘n reeds oorbelaste en mislukte openbaregesondheidstelsel nadelig sal wees vir die kwaliteit van gesondheidsorg,” sê Simmi Bassudev, voorsitter van die HFA.

Om die rol van mediese skemas te beperk sal groter implikasies op die ekonomie hê aangesien dit beleggingsvertroue negatief kan beïnvloed, met toegang tot gesondheidsorg wat ‘n sleuteloorweging vir beleggings in Suid-Afrika en vir Suid-Afrikaanse werkgewers is.

Rakende die beginsels van kruissubsidiëring, is dit nie duidelik of bekostigbaarheidstudies gedoen is nie en of ‘n langertermyn finansiële strategie ontwikkel is om die voorgestelde finansieringstelsel te onderhou nie.

“Die wetsontwerp verwys verkeerdelik na die medieseskema-belastingkrediete wat aan mediese skemas betaal word eerder as om ‘n vermindering in belasting vir individue te wees. Dit is ‘n kommerwekkende wanvoorstelling aangesien dit daarop dui dat die fiskale impak van die voorgestelde belastingverhogings nie behoorlik beoordeel word nie. Voordat belastingkrediete aan die NGV toegeken kan word, moet hierdie belasting eers ingevorder word en dit kom neer op ‘n onaanvaarbare hoë belastingverhoging op ‘n klein basis van belastingbetalers.”

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Daar is ook kommer oor die verlies van nog gesondheidsorgvaardighede sou die NGV in sy huidige vorm aanvaar word. “’n Strategie om met die private sektor saam te werk om opleidingskapasiteit van gesondheidsorgvaardighede te verhoog, moet deel vorm van die implementeringsplan vir die NGV,” meen Bassudev. “Dit moet gepaardgaan met ‘n omvattende retensieplan om hierdie vaardighede in die land en deel van die gesondheidsorgstelsel te hou.”

Die HFA ondersteun ook nie die enkelfondsmodel nie, aangesien dit kwesbaar sal wees vir korrupsie en diefstal. “Volgens die huidige Wetsontwerp sal hierdie Fonds nie outonoom wees nie aangesien die minister van gesondheid verreikende magte oor die Fonds sal hê wat betref aanstellings en regulasies. Die HFA is veral bekommerd dat die onbedoelde gevolge van die veranderinge aan ander wette wat in die NGV-wetsontwerp ingesluit is, nie behoorlik aangespreek is nie.”

Alhoewel daar eilande van uitnemendheid in die openbaregesondheidsektor is, voldoen die meeste van die fasiliteite en die gesondheidsorg wat hulle bied nie aan die standaarde wat deur die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde (OHSC) gestel is nie.

“Dit wek kommer oor die algehele gehalte van gesondheidsorg onder die NGV sowel as die tyd wat dit sal neem om voldoende fasiliteite daar te stel wat aan die nodige akkreditasievlakke voldoen om volle implementering te ondersteun.

“Ons is bewus daarvan dat daar nog ‘n lang proses is wat ondergaan moet word voordat hierdie wetsontwerp ingestel word. Ons glo egter dat die wetsontwerp in sy huidige vorm nie geskik is vir die doel as die kwessies wat aangeroer word, nie dringend getakel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.