NGV-krisisberaad: ‘My en my gesin se gesondheid mag nie misluk nie’

Dirk Hermann. (Foto: Maroela Media)

Die vakbond Solidariteit se beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns het Dinsdag kommentaar van dié gilde se lede ingesamel tydens ʼn krisisberaad oor die uitdagings van die regering se voorgestelde nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Gesondheidskenners het ʼn donker prentjie vir die toekoms van gesondheidsorg in die land geskets indien die konsepwetgewing vir die NGV in werking gestel word.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die bedryf en sy praktisyns nou bystand nodig.

“Die openbare gesondheidstelsel misluk tans. Die toetslopies van die NGV het misluk, maar ons staat hou nie van klein mislukkings nie, hulle hou van groot mislukkings.

“Hierdie beraad dien as inset van die Solidariteit-beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns se kommentaar op die voorgestelde wetgewing. Ons regspan, onder leiding van adv. Albert Lamley, gaan elke inset wat vandag gemaak is, oorweeg vir ons kommentaar,” het Hermann gesê.

Hy het benadruk dat die woord krisis nie ligtelik gekies is vir die benaming van die beraad nie.

“Suid-Afrika se gesondheidsorg is reeds in ʼn krisis. Gesondheidsorgdienste sit met veelvoudige druk van MIV, tuberkulose en talle ander oordraagbare en nie-oordraagbare siektes, terwyl die staat nou 30 minder hospitaalbeddens as in die 70’s het.

“Die regering se reaksie op die probleme is om net nog meer mag te wil sentraliseer terwyl hulle die private omgewing eintlik meer moet laat doen. Dieselfde staat wie se besluite tot die dood van 146 pasiënte in die Life Esidimeni-saak gelei het, wil nou almal se gesondheid administreer teen ʼn tekort van sowat R210 miljard.”

Hermann het benadruk dat daar nie iets soos gratis gesondheidsorg bestaan nie. “Die NGV gaan belastingbetalers miljarde rande kos. Die koste om die NGV in werking te stel is gelykstaande aan die hoeveelheid geld wat nou tot die staatskoffers gevoeg is met die 1%-verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW). BTW sal dus verdubbel moet word om die NGV te finansier.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê staatsinmenging het gelei tot verhoogde mediese koste, swakker diens en sieker mense in Suid-Afrika.

“Hierdie ongesonde toedrag van sake is die oorsaak van oorregulering wat koste opjaag, prysvasstelling wat byvoorbeeld die mark vir medisyne verwring, apteke wat sluit en vrye mededinging verhoed. Plafonne op die ontwikkeling van meer hospitale en regulasies wat die opleiding van meer dokters en spesialiste verhoed, skep albei tekorte wat pryse vir mediese sorg opstoot.

“Te min geld is nie die rede vir die probleme in ons gesondheidsorg nie, die staat se swak bestuur is hiervoor te blameer.

“Die NGV hou wel ʼn groot bedreiging vir almal se gesondheid in, maar weens die staat se onvermoë is dit eerder soos ʼn skilpad, as ʼn kwaai renoster, wat geleidelik op ons afpyl. Daarom is dit nou lewensbelangrik dat ons die tyd gebruik om die beleid te beïnvloed,” het Buys bygevoeg.

Freek Robinson, anker van talle aktualiteitsprogramme en gespreksleier van die krisisberaad, meen die mediese sorg vir veral die armes is totaal inkorrek. “Die stelsel lewer nie ʼn werklike diens nie. Ons moet ʼn bydrae maak, maar dit is vir my verbasend dat die regering nou so ʼn groot projek aanpak terwyl die ekonomie en talle staatsbeheerde ondernemings sukkel en ons terselfdertyd oor grondonteiening sonder vergoeding praat.”

Robinson het gesê hy glo die NGV sal ʼn moeilike beleid wees om in te voer en uit te voer. “Die NGV sal veral die middelstand tref. Ons sit tans in ʼn ekonomie waar 10 miljoen mense werkloos is. In sewe van die nege provinsies is daar meer mense werkloos as dié wat wel werk het.

“Ek glo baie van die oplossings vir Suid-Afrika se probleme lê by ons eie mense. Die venster om kommentaar oor die voorgestelde wetgewing te lewer is nou oop en moet teen September ingedien word. Dit is nou tyd dat die samelewing verteenwoordig word.”

Hermann het gesê Solidariteit verwag ook dat tienduisende mense die kommentaar van die vakbond en sy beroepsgilde sal steun. “Elke stem is nou nodig. Groot regeringsprojekte kan nog misluk, maar my en my gesin se gesondheid mag nie – daarom durf ons nie nou stilbly nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JAN ·

Baie moeilike onderwerp .
Die privaat siekefonds versekering is beslis ń helse probleem. Van opgepotte kapitaal van R60 miljaart tot data “warehousing” soos Facebook oa. Tot dienste soos ń Lotto sonder enige waarborg betalings. Geweldig duur. Kort algehele herontwerp.
Die staatsdiens doen uitstekend goed. Van klinieke tot hospitale.
Maar staatsdokters kry baie swaar.
Kort ook totale herontwerp.
Maar die beginsel van privaat en staats medies is die oplossing soos elders in die wêreld..

Stuiwer ·

Hoe doen die staatsdiens uitstekend goed (van klinieke tot hospitale)?

LB S ·

Jan, dis goed as jy dink die staatsdiens is uitstekend. Jy weet seker nie van beter nie. Glo my, dit is een groot gemors.

Paul ·

Dr Drik Hermann, jy sê die staat hou nie van klein mislukkings nie, maar van groot mislukkings. Klein of groot is vir hulle uitdagings.

JAN ·

Oplossing:
Persoonlike spaarplanne saam met trauma versekering.
As die premies van huidige med fondse gespaar word kan jy genoeg na een jaar hê vir die grootste siektes. Wanneer jou fondse uitgeput is word jy sobyso ń staatspasient.

Piet ·

Liewe JAN. Een jaar se premies op jou fonds is noe naastenby genoeg vir ń opname van 2 dae in ń privaat hospitaal nie. Ek het onlangs ń niersteen gehad en was vir 2 nagte opgeneem teen ongeveer R30k. My mediesefonds premie vir die jaar was maar R12k gewees. Waar moes ek die ander R18k vandaan gekry het??? Nasionalisering van die gesondheidsektor werk slegs in 1ste wêreld lande en ons is 5de wêreld. Ierland kon dit nie eers regkry nie so wat is SA se kans? Ja meer bedrog, meer korrupsie, meer geld vir korrupte amptebare. Die HOD van staats hospitale reguleer nie klagtes of dienste gelewer nie. Hul verdien reeds R1mil+ sonder voordele per jaar en skep net al die pad. Gauteng se departement van gesondheid het eise van der miljarde teen hulle wat die staat nie kan betaal nie. Dink aan al die addisionele eise wat gaan voortspruit uit NGV… Gaan wag jy van 10h00 tot 23h00 in ń staats hospitaal (dis ń goeie hospitaal in die Weskaap) vir ń gefraktuurde enkel dan neem hul xtrale en stuur jou met pyn pille huistoe in die reën. Nee ou maat, dink weer daaroor dán lewer jy jou opinie..!!

ZAR ·

Ek sou ‘n skakel waardeer het waar ons kan gaan kommentaar lewer oor die voorgestelde wetgewing.

JAN ·

Begryp Piet maar niersteen opname word deur traumaversekering gedek > R400 duisend..
Versekering uit en spaarplanne die antwoord.

Kobalt ·

JAN, lees dan ook sommer oor die uitbreking van Klebsiella Pneumonia. Nie waar nie, in ń staats hospitaal in Vosloorus. Die 61 bed neonatale eenheid huisves soms 90 babas. Die ataat het nie geld om die fasiliteite te verbeter nie en dis bo en behalwe die R250 miljard slegs vir die implementering van NGV dan praat ons nie eers van die opgradering of vernuwing van vervalle staats hospitale nie. Kempton Park se massiewe staats hospitaal gaan gesloop word teen ń astronomiese koste. Waarom??? Net om nog ń tekort te skep..!! Want die regering kan nie met geld werk of goeie besluite neem nie.

Stuiwer ·

Miskien moet die regering eerder die hospitale opknap en nuwes bou in plaas van om gratis tersiêre onderrig te bied. Die hele prentjie is op die oomblik totaal skeefgetrek. Die ANC is DESPERAAT vir stemme!

Willem ·

Jan, en wat maak jy met ‘n Chroniese kwaal? Ook medikasie na katerakke verwyder is?

Hanna Hoekom ·

As die regering dink hulle gaan kundige dokters, verpleegsters en ander mediese personeel behou, is hulle in vir n hengse verrasing! Baie van ons verpleegsters weier om in due staatsdiens te werk. Ek weet, want ek kon net een jaar in n staatshospitaal uithou. Die wereld het n tekort aan mediese personeel. Wees dus gewaarsku: hier kom n hengse uittog van uiters kundige mense!

Antiestabliesment ·

Sa’ners, kry julle eetgewoontes reg dan sal mediese kostes julle gespaar bly.
Vermy geprosesseerde voedsel ten alle koste.

Die gesondheidsorg industrie het geen plan om jou gesond te maak nie, net om van jou ‘n lewenslange klient te maak. Bayer, Aspen, Adcock, Johnson&Johnson ens.

Ons gesin kom al langer as 18jaar reg sonder n mediese fonds, net n hospitaal plan die afgelope 6 maande (omdat ons motorfietstoere doen) Ek en my vrou is 52 en jongste kind 19. Mediese kostes uit sak betaal in die 18jaar = R32854.96. = R1825 per jaar.
Waarom? Ons eet reg!

Eet reg en bly weg (van hospitale en dokters) You are what you eat!
Eet geprosesseerd dan word jy geproseseer (deur kanker)

Of moet nie klae nie, leef soos jy wil en betaal die prys, dis mos die wet van transvaal. Waarom met n gesonde liggaam graf toe gaan, dit moet afgeleef, misbruik en stukkend wees, dan het jy mos geleef, of hoe?

Stuiwer ·

NIEMAND is gevrywaar teen siekte nie, dit maak nie saak hoe goed jy eet en hoe gesond jy leef nie. Kan nie glo sekere mense glo actually dit is so nie…

Andre ·

Hulle kan nie eens die bestaande Gesondheidsorg behoorlik administreer nie. Soek net nog n koei om te melk. Volgens nuusberigte bestaan daar geen departement in Regering of Munisipaliteit bestuur deur die ANC sonder n geskiedenis van ongerymdhede nie, wat wil hulle nog met Gesonheidsorg maak.

Stuiwer ·

Jy kan nie alles in hierdie land gratis vir sekere mense gee en dan moet ander mense (waarteen ooglopend gediskrimineer word op alle vlakke) die gelag betaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.