NGV: ‘Mediese instellings moet nou sáám in kryt klim’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit het sy sterkste beroep nóg op mediese beroepslui en instellings gedoen om saam tot die stryd teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) toe te tree.

Tydens ʼn NGV-beraad van Solidariteit is die impak wat die stelsel op gesondheidsdienste in die land kan hê, sou die wet bekragtig word, in diepte bespreek. Die werksaamhede van diegene in mediese beroepe gaan ook op talle vlakke daardeur geraak word.

Mediese instellings en verenigings is gevra om Solidariteit se beplande regstryd teen die NGV te steun.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die gevolge daarvan om niks hieromtrent te doen nie, kan verwoestend wees vir die mediese bedryf en lewensbedreigend vir Suid-Afrikaners.

“Die NGV is ʼn werklikheid indien dit nie deur die gemeenskap stopgesit word nie. Die instelling van die wet gaan erge gevolge vir medici in die land inhou. Die mediesewaardeketting word in die hande van die staat geplaas – ʼn staat met ʼn lang geskiedenis van groot mislukking.”

Volgens Hermann lê die antwoord in privatisering en nie in staatsentralisering nie. Die staat is ʼn mislukking en die gemeenskap en bedrywe moet teen die NGV-wetsontwerp opstaan.

“Dieselfde staat wat reeds die staatshospitale verwoes het, sal onder die NGV en die inwerkingstelling daarvan drakoniese magte oor die hele mediese sektor uitoefen.”

Die regering het tot dusver geen belangstelling getoon om na instellings, kenners en individue se insette en waarskuwings oor die NGV te luister nie, sê Hermann. Solidariteit staan volgens hom egter gereed om die regering in ʼn reusestryd in die hof te pak en glo dit is in die beste belang van diegene in die mediese bedryf om dié regstryd te steun.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit en hoof van regsake, sê Solidariteit glo die wetsontwerp is in sy geheel ongrondwetlik.

“Dit is duidelik dat die NGV wesenlike belastingimplikasies gaan veroorsaak – en in so ʼn geval bepaal die Grondwet dat so ʼn belastingimplikasie ʼn geldwetsontwerp moet wees wat deur Enoch Godongwana, die minister van finansies, ingestel word,” sê Van der Bijl.

Geen geldwetsontwerp is deur die minister van finansies vir die NGV opgestel nie en die vrae rakende die uitwerking van die NGV-wetsontwerp op belasting bly dus onbeantwoord.

Van der Bijl is verder van mening dat enige wetgewing met ʼn behoorlike volhoubaarheidstudie gepaardgaan. Volgens hom het die regering geen onlangse of behoorlike volhoubaarheidstudie rakende die NGV gedoen nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Martie Smartie ·

Hoe gouer ons almal gratis mediese sorg kry, hoe beter. Weg met duur mediese fondse!

Manie ·

@MartieSmartie, mense betaal vir goeie mediese sorg. Vra maar gerus vir enige Brit, hulle sal vir jou sê hoe swak die mediese sorg in Engeland is, dieselfde wat die SA regering nou beoog. Indien jy nie vir medies wil betaal nie, is daar opsies soos staatshospitale waarvan jy kan gebruikmaak. Indien jy nie daarmee tevrede is nie, moet jy gerus jou stelling heroorweeg.

Yolandie ·

Ek weet nie hoe daar selfs mense daar buite kan wees wat hierdie gratis mediese sorg sal steun nie. Dit mag miskien in Kanada “werk” omdat hulle ‘n 1ste wereld land is en omdat hulle ‘n werkerskorps het wat nie 70% van hulle bevolking wat werkloos is se medies te befonds nie. Daar werk mense almal om by te dra tot die “gratis” sorg deur die hoë belasting wat hulle betaal. Die medies is ongelukkig nie juis wereldklas nie want mense moet jare wag vir operasies en noodsaaklike mediese intervensies……..maar dis okay want dit is gratis. Ons is nie ‘n 1ste wereld land nie – en ons belasting betalersklas kan onmoontlik nie betaal sodat die werkloses verniet medies geniet nie. Ons is nie ‘n welsyns land nie. En hoe gouer hierdie regering ophou met hulle social grants hoe beter. Die enigste mense in my opinie wat staats hulp benodig is ons ou mense wat hulle hele lewe lank gewerk het en ook bygedra het as ‘n belastingbetaler.

James ·

Daar gaan nie gratis mediese sorg wees nie want daar gaan geen reg werkende klinieke of hospitale wees nie. Die staat wil beheer watter dokters waar in die land hulle mag werk. Ons gaan al ons goeie dokters verloor.

Vanessa ·

Ek verkies om steeds te betaal vir mediese sorg, dankie. Hou op krap waar dit nie juk nie. Hulle wil alles verander en dan is dit net een groot gemors spul. Die staatshospitale kan reeds nie voorbly met al die pasiënte nie!!!!!!

Hendrik ·

Ek weet van ‘n SA dokter wat in Kanada werk wat sy skouer erg beseer het wat al die volgende week SA toe gevlieg het dat ‘n spesialis skouer dokter op hom moes opereer het. Die feit is dat SA mediese fondse baie duur is en die situasie baie uitbuit maar dat jy toegang het tot baie goeie dokter is ‘n feit.

annie ·

Die noorde van Afrika het reeds padkaarte na Suid-Afrika bekom. En g’n rubberbootjie is nodig nie. Die massa karre wat hierheen ry op langnaweke en vakansies bewys SA se gewildheid. Limpopo is al een groot stad(t). En die sowat 90 000 visas wat lê en broei is nog ‘n bewys. Ons private hospitale gaan binnekort lesopsê soos ons skole. Cyril het reeds die voorbeeld gestel wat ons met ons spaargeldjies behoort te doen… en selfs daar is dit nie veilig nie.

domheks ·

Wonder of die persoon wat dit goedkeur deur n Kubaanse dokter wat nie eers engels kan praat nie ondersoek en gediagnoseer wil word? Wat nog in n staatshospitaal gaan le? Nee dankie vir NGV! Ek vrek liewer in my huis!

Ilze ·

annie. Ons het 22 jaar in Polokwane gebly. Trek volgende maand Pretoria toe. Ons kan ook nie meer die toeloop hanteer nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Private gesondheidsorg sal oorleef. Hulle is sakemense, word gedryf deur sakebeginsels en werk met briljante mediese praktisyns. Private hospitale wat verliese maak word gesluit. Oop fondse is winsbejag en geslote fondse wil gelyk breek. Werkgewers verlang gesonde werkers wat vinnig toegang het tot kwaliteit dienste. Net minder as 10 miljoen word ingesluit, dis 15% van die bevolking. Dis onvolhoubaar. Ons weet die staat gaan ‘n gemors maak. Instede van dreig en kla, kom vorendag met oplossings wat alle partye gelukkig hou.

Gert ·

@ Martie smartie….. waar is jou lalaland sodat ons ook daar kan gaan kuier. In n land waar die regering armoede afdwing met hul drakoniese regeer styl sal al hoe meer wat niks het dinge verniet wil “demand”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.