NGV ‘nie ontwerp om te werk nie’

prof-alex-van-den-heever

Prof. Alex van den Heever het gesê hy glo nie die NGV is ontwerp om te werk nie. Foto: Solidariteit/Twitter.com

Die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal dokters, mediese spesialiste en pasiënte stroop van keuses terwyl dit alle mag na die minister van gesondheid sentraliseer.

Boonop sal die NGV-beleid te veel kos om in te stel terwyl dit die kanse vir korrupsie vergroot. Die voorgestelde gesondheidsversekering hou ook nie tred met die werklikheid van ʼn ingewikkelde gesondheidsorgstelsel soos dié van Suid-Afrika nie en bevat daarby heeltemal te min besonderhede oor hoe sekere aspekte van die versekering ingestel sal word.

Dit was die mening van talle kenners wat Dinsdag sprekers was by die vakbond Solidariteit se krisisberaad oor die NGV. Die geleentheid is by Leriba Lodge in Centurion aangebied waar mediese, regs- en ekonomiese topkenners, onder wie die ekonoom, Dawie Roodt, dr. Chris Archer, die voorsitter vir die Vryemark Stigting se gesondheidsbeleidkomitee, en prof. Alex van den Heever, ʼn kenner van beleidstellings vir gesondheidsorgstelsels verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, hulle kommer oor die uitwerking van die stelsel op landsburgers en die mediese bedryf uitgespreek het.

Van den Heever het gesê hy glo daar is talle sleutelfoute in die voorgestelde NGV-beleid.

“Ek glo nie die NGV is enigsins ontwerp om te werk nie. Die NGV is ’n lugkasteel, ’n onbereikbare droom, niemand kan regtig enige uitkomste lewer nie, maar waaroor daar eindelose beloftes tot ver in die toekoms gemaak kan word,” het Van den Heever gesê.

Hy het gesê sy grootste probleem met die private én openbare gesondheidsorgstelsel tans is dat daar te veel individue met gevestigde eiebelange is en ʼn model van patronaatskap bestuur die stelsels.

“Mense praat van ʼn openbare stelsel, maar in hierdie stadium dien dit nie die landsburgers nie maar eerder individuele belange, en niemand het enige aansporing om hierdie stelsel te verbeter of te verander nie.”

Van den Heever meen ook private gesondheidsorg word tans toegelaat om te misluk en hy glo daar is mense wat groot voordele uit die mislukking van die stelsel trek.

“Mense moet ook verstaan die reguleerders van hierdie stelsels is glad nie onafhanklik van politieke invloed nie.”

Hy meen dat private en openbare gesondheidsorg sal bly versleg omdat die regering geen politieke wil of beleidsriglyne gereed het om dít wat faal in die bedrywe daadwerklik aan te pak nie.

dr-chris-archer

Dr. Chris Archer is bekommerd oor die onkunde rondom die NGV. Foto: Solidariteit/Twitter.com

Archer het gesê die vlakke van onkunde rakende kwessies van die NGV gaan sy verstand te bowe.

Hy het gemaan dat die publiek die NGV nie met die Wêreldgesondheidsorganisasie se idee van universele gesondheidsdekking moet verwar nie. “Dit is ʼn goeie idee en iets waarna ons moet streef, maar die NGV is nie die middel waarmee dit uitgevoer kan word nie. Ek voel die NGV is beslis nie in die beste belang van hierdie land nie.”

Hy het sy kommer uitgespreek oor die finansiering van die NGV wat na raming Suid-Afrika teen 2026 sowat R268 miljard sal kos. Hy het ook gesê dat die tekort vir die NGV-begroting soveel sal beloop as byvoorbeeld om vier Wêreldbeker-sokkertoernooie aan te bied of 1,1 miljoen HOP-huise te bou.

“Ierland het dieselfde soort beleid in 2015 voorgestel as deel van ʼn werwingsveldtog vir ʼn verkiesing. Hulle het later bevind die instelling van so ʼn beleid is onbekostigbaar duur en kan nooit ingestel word nie.

“My bekommernis is teen die tyd dat Suid-Afrika tot dieselfde gevolgtrekking kom, sal ons private gesondheidsorg onherstelbaar verwoes wees.”

Dr. Hlombe Makuluma, ʼn algemene mediese praktisyn, het gesê sy grootste probleem met die NGV is dat dit keuses verminder. “Pasiënte sal nie kan besluit wie hulle dokters is of waar hulle gesondheidsorg wil ontvang nie, en mediese praktisyns en spesialiste sal nie kan kies wie hulle wil bedien of waar hulle wil praktiseer nie. Ek het ʼn probleem met die mag wat weg van praktisyns en pasiënte geneem word en toenemend op hoër vlakke gesentraliseer word.”

nicolien-welthagen

Nicolien Welthagen, ‘n senior navorser by die SNI, sê mediese praktisyns is ongelukkig en onseker oor die NGV. Foto: Solidariteit/Twitter.com

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het ook tydens die beraad ʼn navorsingsverslag oor ʼn ondersoek wat onder mediese praktisyns oor die NGV gedoen is, bekendgestel.

Volgens Nicolien Welthagen, ʼn senior navorser verbonde aan die SNI, het die navorsingsverslag getoon mediese praktisyns voel daar is nie genoeg met hulle beraadslaag oor die NGV nie terwyl hulle die mense is wat dit in werking sal moet stel.

“Mediese praktisyns voel hulle beskik nie oor genoeg kennis rakende die NGV nie en daar is groot wantroue in die stelsel wat die NGV voorstaan. Vir my is die grootste vraag: hoe gaan mediese personeel gemotiveer word om deel te neem aan hierdie stelsel en die NGV te laat werk,” het Welthagen gesê.

Welthagen het voorts gesê dit is uiters kommerwekkend dat sowat 83,2% van gesondheidsorgwerkers daarmee saamstem dat private mediese beroepslui die land sal verlaat indien die NGV ingestel word. “Die omvang van hierdie kwessie word ook ondersteun deurdat respondente (81,7%) aangedui het hulle glo die NGV kan die gesondheidsektor destabiliseer.”

Solidariteit het ook sy beroepsgilde vir gesondheidspraktisyns by die krisisberaad bekendgestel. Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond, is die doel van die gilde om onder meer mediese praktisyns by te staan en die beroep in geheel te beskerm.

  • Klik hier vir die volledige navorsingsverslag van die SNI.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Geen mediese personeellid wat hul sout werd is, sal hierdie gemors kan (of wil) hanteer nie. Daar is wereldwyd n tekort aan dokters en verpleegsters. Hoekom sal hulle wil bly? Ek weet, want ek is een v hulle! Dankie, maar nee dankie. Dan praat ons nie eens van salaris nie…

LB S ·

Ja, waar het jy gesien dat hulle nou ‘n dokter ‘n SALARIS gaan betaal, en diè salaris hang af oor die grootte area en van die pasiënte wat hy sal moet dek. So, my dokter in Edgemead bv, gaan maar a kranige salarissie kry. Ek sou nie twee keer dink om my goedjies te pak as ek hy is nie. En ONS mense is diè wat gaan swaarkry.

Paul ·

Esté, so lyk dit my is die land na 1994 ontwerp om ook nie te werk nie.

bgj van der westhuizen ·

NIKS WERK WAT DIE ANC EFF EN DIE DOM REGERING IN DIE LAND BEPLAN OF DOEN NIE WAND HULLE WEET NIE WAT HULLE DOEN NIE EN STEL NET BELANG IN GELD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.