NGV: Regering ‘mislei’ SA; minister kap terug

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Die DA het teruggekap na die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, en sê hy probeer die rampspoedige gevolge wat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan inhou, onderspeel.

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het gesê die wetsontwerp gaan ʼn katastrofiese uitwerking op die gesondheidsorgstelsel en die ekonomie hê.

“Die minister is besig met ʼn politieke magspel met die wetsontwerp en dit is duidelik sy bedoeling is nie om die diepe ongelykheid in die stelsel uit te wis nie.

“Ons stem saam met die minister dat die stelsel hervorm moet word en dat universele gesondheidsorg die antwoord daarop is, maar die minister word heeltemal mislei as hy dink die NGV gaan bekostigbare, gehalte- en volhoubare gesondheidsorg vir almal teweegbring.”

Hy het gesê ʼn gesentraliseerde en genasionaliseerde gesondheidsorgstelsel gaan die laaste spyker in die stelsel se doodskis wees.

Die minister het die afgelope week gesê hy verwelkom die debat oor die inwerkingstelling van die NGV en dat dit maatskaplike solidariteit gaan veroorsaak deur die kruissubsidiëring van siekes deur gesonde Suid-Afrikaners, die armes deur die rykes, en die oues deur jong Suid-Afrikaners.

Mkhize hou ook vol dat talle Suid-Afrikaners die stelsel verwelkom. “Ek is deeglik bewus van die kwessie van korrupsie en ondoeltreffendheid. Ek wil burgers verseker dat ek hulle kommer deel en verbind daartoe bly om dit uit te roei.”

Die minister het gesê die DA is welkom om die wetsontwerp in die Konstitusionele Hof te laat toets – soos hy vandeesweek gedreig het – maar dat verskeie regsmenings daaroor reeds ingewin is.

“Die huidige koste word gedra deur die bestaande toewysings wat reeds bekend gemaak is. Weens verskeie veranderlikhede gaan toekomstige koste bekend gemaak word wanneer dit beskikbaar is. Die NGV gaan egter op ʼn verantwoordelike manier in werking gestel word wat die land kan bekostig.”

Die DA sê hy het verskeie fundamentele besware teen die wetsontwerp. Dit sluit in dat dit nóg ʼn staatsbeheerde onderneming (SBO) gaan skep wat weereens miljarde rande in die hande van diegene met politieke bande plaas. Dit gaan die minister ook ongebreidelde mag en beheer oor die hele stelsel gee.

Die wetsontwerp sentraliseer die verskaffing van gesondheidsdienste deur die bestuur van alle sentrale hospitale onder die nasionale departement te plaas. Die DA sê dit gaan die stelsel fragmenteer en mag en besluitneming verder van mense wegneem, eerder as nader bring. Die finansiering van die NGV gaan ʼn selfs groter belastinglas op gewone Suid-Afrikaners plaas en neem hulle reg weg om oor hulle eie gesondheidsorg te besluit.

“Dit gaan ongetwyfeld lei tot ʼn enorme uittog van kennis en talent. Dokters en gesondheidsorgwerkers gaan geleenthede buite ons grense soek,” het Gwarube gesê.

Die DA-leier Mmusi Maimane het die afgelope week gesê sogenaamde mediese toerisme is algemeen waar bevrydingsbewegings regeer en waar dit hulle verantwoordelikheid is om behoorlike gesondheidsorg aan álmal te verskaf – maar dit nié doen nie.

Maimane het gesê oudpres. Robert Mugabe, wat Zimbabwe 40 jaar lank regeer het, kry mediese behandeling van gehalte in Singapoer, nie in sy eie land nie. Die oudpresident van Angola, Jose Eduardo dos Santos, word gereeld in Spanje behandel. Nigeriese pres. Muhammadu Buhari reis na Brittanje vir behandeling en Patrice Talon, president van die Republiek van Benin, het onlangs ʼn operasie in Frankryk ondergaan.

“Selfs ons eie adj.pres. David Mabuza het mediese behandeling in Rusland ontvang. Daar is ʼn duidelike patroon hier,” het Maimane gesê.

Die burgerregtegroep AfriForum het vroeër al gesê hy gaan ook die NGV met mening teenstaan en dat dit nie sin maak vir ʼn moderne regering om só ʼn universeel mislukte sisteem te wil naboots nie.

Een van die grootste bronne van kommer vir die organisasie is Mkhize se uitsprake dat Suid-Afrikaners onder die NGV nie sekere dienste gaan bekom net omdat hulle dit kan bekostig nie. “Wat dit wesenlik beteken, is dat die staat sal kan besluit watter behandeling jy nodig het, wie dit moet verskaf en waar jy dit moet ontvang.

“Praktiese implikasies hiervan kan insluit dat die staat byvoorbeeld kan besluit wie ’n vrou se ginekoloog moet wees, asook waar en deur watter metode haar kind gebore moet word of watter kankerbehandeling ’n pasiënt moet kry,” het Natasha Venter, veldtogbeampte by AfriForum, gesê.

AfriForum sê die gesondheidsdepartement het jaarliks van die swakste oudits en dat die departement in dié stadium nie eens ʼn akkurate aanduiding van die koste verbonde aan die NGV het nie, maar stééds daarmee wil voortgaan.

Die VF Plus het ook gesê hy is diep bekommerd oor die negatiewe uitwerking wat die NGV reeds op die land se ekonomie het. Philip van Staden, VF Plus-woordvoerder vir gesondheid, het gesê dit is sigbaar in die daling van die aandeelpryse van verskeie maatskappye in die gesondheidsektor en dat dit Suid-Afrika se ekonomie verder gaan verswak.

“In die belang van Suid-Afrika moet die NGV-projek sonder meer gestaak word om verdere finansiële verliese in die ekonomie te voorkom,” het Van Staden gesê.

“Die Suid-Afrikaanse regering het hier ʼn monster geskep wat hy nie sal kan beheer nie en wat noodlottige gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou. Suid-Afrika kan nie meer skade aan die ekonomie en aan sy tans sukkelende gesondheidsorgstelsel bekostig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

60 Kommentare

karen ·

pleks die regering eerder die staats gesondheidsdienste op standaard kry soos wat dit jare gelede was – dan sal die privaatsektor dalk inkoop op hulle plan van gelykheid vir almal. op die oomblik gaan dit chaoties in meeste staatsinstellings. proof in the pudding…
moenie karring aan dit wat werk nie

Swannie ·

Die ANC moet `n nuwe bron vind om te plunder, aangesien alle beskikbare bronne reeds uitgeput is. (Eskom, SAL ens.)

Die kaders wat reeds baat gevind het by BBBEE, is nog nie tevrede met hul welvaart nie en wil nog meer hê.

Johan ·

Ek en my vrou is albei mediese mense en het die gevaar vir ons toekoms gesien kom en na NZ geemigreer om te kan bly werk. Ons dink baie medies professionele mense is baie bekommerd om te moet werk vir die SA regering. Hulle betaal nie op tyd nie en baie praktyke gaan bankrot speel.

Juanita ·

In die land vd blindes is een oog koning…….die minister sal self nie eers droom of van sy eie NGV gebruik te maak nie. Gehalte dokters en verpleegpersoneel sal spore maak oorsee en guess what die NGV sal nog Kubaanse dokters invoer om aan Suid Afrikaners af te smeer

Wonder ·

Hierdie kwessie kom nou al n lang pad. Een of ander tyd gaan die bom bars en dan moet ons betaal en privaat fondse gaan nie meer kan bestaan nie agv ons wat nie dubbele premies/kostes kan bekostig nie ????

Andre Coetzee ·

Die NGV is heeltemal onbeskostigbaar en onprakties vir SA. Die Belastingbetalers is reeds te min net om die land op sy voete te hou.Vergeet maar van die die idee.Maar die klomp gaan nie leer voor die belastingrevolusie hulle ogies oopmaak nie.

Deon ·

Soos in die berig gemeld, top poiltici en amptenare en hul gesinne sal op staatskostes na Singapoer, Dubai en Europa gevlieg word vir behandeling. Die res van ons sal krepeer van ellende.

J ·

Die catz is wanneer jy op pensioen gaan gaan jy eers die skok van jou lewe kry soos wat dit met my gebeur het.
Toe ek nog gewerk het . Is my mediese op die maatskappy se groepskeme. Die maatskappy het trek elke maand my medies af van my salaris. Ek het 30 Junie 2018 op pensioen gegaan.
Raai wat my medies is gelding toe net vir die volgende 6 jaar. Dan skakel ek automaties oor na die staats medies toe.

Al baklei almal daaroor om die privaat mediese fondse te hou gaan julle net geld kos en die staats medies gaan nog steeds intree.
Ongelukkig het die staat die het in die hand.

Kobus ·

Soos dinge sal uitwerk is almal op NGV vanaf 2026. Dan sal mediese fondse net ‘n top up” wees soos die huidige hospitaal en tandheelkundige planne. Die meeste nie-lewensnoodsaaklike prosedures sal uit eie sak betaal moet word, sonder belastingkortings.

marous ·

Ontneem hulle eerste van hul medies . Sloop dan alle privaat hospitale voor hulle hul kloue daarop kan le . As die minister en burgemeester in die ry wil indruk vir ‘n pleister na drie dae se wag voor ‘n kliniek kan hulle nog ‘n warm oor kry ook .

Zumie ·

Dieselfde lot wat nog geen NGO suksesvol kon bedryf nie gaan nou groter….eers die Klein karretjie voos gery en nou kry ons ‘n bus… (net weer ‘n geleentheid om die heuningpot te plunder)

Rina Diederichs ·

Wat ‘n gemors gaan dit nie afgee nie. Ons suffer om medies te betaal om ordentlike sorg te kry, net meer in staatskaste om geplunder te word. kry liewer julle staatshospitale en dienste beter.

J ·

Julle is almal in vir n suprise. Ek het 30 Junie op pensioen gegaan. Ek mag net medies kry vir die volgende 6 jaar. Dan moet ek oorskyf na die staats mediese fonds.

Ek het met my werks kollegas ook gevra wat saam my op pensioen gegaan het.
Vir my kollegas is ook die selfde meegedeel.

John ·

Ja, vir universele gesondheidsorg… maar nee, dit sal die werk nie. Wat sè dit? Ja, ons moet op Mars gaan bly… maar nee, dis te ver. So what! Die DA probeer gelyktydig op twee stoele sit, net ingeval… Lees op CNN oor die krisis in ryk Finland en die wonderlike stelsel se papwiel en Sanders se demokratiese droom wat hy nou begin afwater omdat sy towerstaffie se batterye ingee. Daarvolgens kon/kan mense hul eie dokters sien, maar moet self vir ekstras soos plastiese sjirurgie en duur pille betaal en… en… Wie gaan vir al die mooi-maak van die ANC-anties betaal… of gaan dit noodgevalle wees… en die lewer en nieroorplantings? Vertel ons wie die fonds gaan bestuur want Gumpie-gene is glo gewaar…

Jimmy ·

Tans speel private hospitale ook ‘n groot rol by die opleiding van nuwe spesialiste, dink maar aan orgaanoorplantings en oogoperasies. Sonder dit sal spesialiste se opleiding agteruitgaan. Dan is dit net ‘n kwessie van tyd voordat geen SA dokter se kwalifikasies internasionaal erken sal word nie, behalwe in Kuba, ons nuwe rolmodel.

Ben ·

As die ANC regering nie eers die huidige Staat’s stelsel kan administrateur nie, hoe gaan hulle ‘n Nasionale Gesondheid Stelsel laat werk? Verder is daar ook bewyse dat nie een SOE die mas opkom nie. Waar gaan hulle die geld vandaan kry om Eskom ens plus die nuwe stelsel te finansier? Hospitale het n tekort aan Toerusting, Medisyne, Dokters. Daar is Wan administrasie, sekuriteit probleme ens. ‘n Flop hier en dit is die einde van SA en die ANC. Terloops die verhoging van VAT het die Staat uitgawes vergroot want in SA is die staat ook betrokke by besigheid. Die “Experts” het dit mis gekyk.

bambi ·

Ek wag al 8jaar vir n kniegvervanging by staatshospitaal; hul nie eers n werkende teater of protestese nie! Ek moet bedank wat ek kan nie meer loop nie; ek het nou nie meer woorde.

Kallie ·

In Brittanje is mense op NGV in dieselfde situasie. En dít in ‘n ontwikkelde land.

Louis ·

Glo vir my,nie eers in ‘n land soos Kanada werk dit nie!Lang wagtye ens.Die idee is “social justice”(almal is mos gelyk)Dit gaan eenvoudig nie deur die regering geadministreer kan word nie.Resultaat gaan totale chaos wees!

Santie ·

Als wat hulle aanpak is twyfelagtige mislukkings. Beperk liewer die spul kleintjies wat so los en vas gemaak word.

Jimmy ·

Gegewe wat die staat spandeer aan gesondheid behoort die mediese sorg onder die top 5 in die wêreld te wees. Die amptenare is bloot pateties verby.

M ·

Hier kom groot moeilikheid. Die staat kan nie by bly met mediese nalatigheids eise nie. Nou gaan hulle besluit om jou te stuur na n dokter toe wat keuring vir medies gekry het op grond van sy C gemiddeld. Maak reg om julle geliefdes se begrawe. Julle het geen idee watse gaos gaan hier plaas vind nie

Ella ·

Vroeër is berig oor miljoene Rande wat alreeds gemors is op toetslopies, ondersoeke, navorsing en wie weet wat nog
Is iemand al daaroor aangespreek of vervolg?
Hierdie stelsel gaan ons almal sleg tref want hulle kan dit nie ordentlik opbou of bestuur.

Jerry ·

Die NVG is maar net nog n entiteit wat die ANC gaan omskep as n SOE vir belastingbetalersgeld wat na ANC kaderstrukture binne die SOE sal vloei. Van dienslewering gaan daar nie veel sprake wees nie en die ANC sal dit verwelkom as gesondheidslui wat nie ANC kaders is nie, die beroep en land gaan verlaat. Die NGV het dit ten doel om gesondheid te nasionaliseer asook te de-koloniseer! Die DA, VF en Afriforum kon staatskaping nie keer nie, daarom kan niemand verkwalik word as hulle bedenkinge koester oor die partye se kanse om enigsins hond haaraf te maak om die implementering van die NGV te verander of te stop! Die ANC speel woer, woer met opposisiepartye en burgerregte organisasies, omrede staatskaping die opposisie in n gyselaarsituasie geplaas het waaruit die opposisie nie weet hoe om te kom nie! Losprys na losprys word betaal terwyl die gyselaarstatus onveranderd bly!

Kallie ·

Die regering sal die IMF waarskynlik voor 2026 moet nader vir geldelike hulp. Dan sal die IMF streng voorwaardes stel. Ons kan net hoop die NGV sal dan geskrap word.

Vic ·

As die anc nie eers ‘n riool aanleg kan bestuur nie hoe gaan hulle ‘n kliniese inrigting bestuur???

honourable member ·

Daar is nie n manier wat hierdie plan kan werk met die swak gehalte waarin staatshospitale is nie. Die hele plan voorspel ook weer net diskriminasie.

Anoniem ·

Ek voorsien dat talle mediese personeel die land gaan verlaat. Hoekom sal hulle tevrede wees met sulke swak werksomstandighede as goeie mediese personeel in aanvraag is wereldwyd?

Hanna Hoekom ·

Is reeds in die buiteland en ek wil glad nie terugkom RSA toe nie. Ek en my Suid-Afrikaanse kollegas is almal gespesialiseerde verpleegkundiges. Behalwe vir swak salarisse en weinig kans op bevordering, het die NGV die laaste spyker in die kis geslaan. Ons het vir n rede uit staatshospitale padgegee…

EK WEET ·

J, jy gaan nog wens vir daai mediese fonds. Ek weet dis duur en ons almal trek swaar, maar kyk net na die staats hospitale dan weet jy wat voorlê. Hoekom nie maar dan nou al jou medies kanselleer nie? Jy gaan nogsteeds betaal vir die nuwe mediese struktuur, die verskil gaan net wees jy gaan ure in rye moet staan, indien hulle dit vir jou gaan goedkeur om ‘n dokter te sien. Onthou, hulle gaan besluit of jy mediese dienste nodig het of nie, en jy gaan STEEDS jou geld moet betaal elke maand. Dis die catch! Hulle het almal gevang met “goedkoper dienste” net om eintlik vir jou te sê, jy gaan geen didnste benodig nie, want hulle besluit vir jou.

Gert ·

Ek hoop die DA ondersteuners lees hierdie verklaring, waar die DA uitdruklik stel dat hulle universele gesondheidsorg ondersteun. Weereens bewys hulle dat hulle net so sosialisties is soos die ANC en EFF. Saam is dit dus meer as 90% se steun in hierdie land wat gaan aan partye wat gekant is teen private mediese sorg, en dis na my mening baie duidelik hoe aaklig staats-medies is.

Kobus ·

Gert, ek dink ons almal wil hê dat die wat nie mediese fondse kan bekostig nie wel toegang het tot kwaliteit gesondheidsorg, net soos onderwys. Dit is beslis nie sosialisties nie. Die DA het nerens gesê private mediese sorg moet verban word nie. Die huidige openbare sisteem werk nie want politici en amptenare is laks, behalwe in die Wes-Kaap waar die DA ‘n goeie job doen.

Kobus ·

Gert, Solidariteit se kern besigheid is vakbondwese wat ook maar sosialisties is. Tog kla ons nie daaroor nie, want werkers moet beskerm word.

Gert ·

Kobus, dis wat sosialisme is: waar die staat dienste verskaf wat betaal word deur belastingbetalers. Dis in teenstelling met die vryemarkstelsel, waar privaat ondernemings die dienste verskaf teen vergoeding. In Suid-Afrika het ons tot dusver beide gehad, nl staatshospitale en privaat klinieke. Die voorneme is nou oor en oor gestel, nl dat die privaat klinieke vervang gaan word deur die sosialistiese staatshospitale, en dat alle dokters in diens van die staat sal wees. Ek herhaal, dis sosialisme.
In enige regverdige stelsel moet mense se toegang tot produkte en dienste in verband gebring word met hulle persoonlike inkomste, anders kry jy wat ons nou het waar dienste ineenstort (bv. Eskom), omdat daar nie voldoende inkomste is nie. Julle sosialiste moet begin verstaan dat dit onregverdig is om van een persoon te verwag om sy swaar verdiende inkomste te gee om vir ‘n ander persoon se uitgawes te betaal, terwyl die begunstigde geen bydrae lewer nie.

Kobus ·

In een van die nege provinsies gaan dit relatief goed in staatshospitale, omdat die DA sy werk doen. In die ander agt waar die ANC in beheer is gaan dit beroerd. Hou dus maar op om die DA se ‘sosialisme’ te kritiseer. En onthou, daar is ook baie werklose witmense. Hulle kan ook nie mediese fondse bekostig het. Wat nou? Het jy geen simpatie met hulle nie. Die kern van SA se probleem is oorbevolking. Daar is geen manier dat 5 miljoen mense vir 54 miljoen kan sorg nie. En dit groei net 1 miljoen per jaar. My vraag is steeds: Wat van vakbonde? Dit is tog kommunisties. In ‘n sterk kapitalistiese omgewing is daar mos nie bestaansreg vir Solidaritieit nie.

Kallie ·

Die DA is nie teen private gesondheidsorg nie Gert. Die mense wat so sê versprei fop nuus.

Jimmy ·

Dis die pad wat die ANC nou inslaan. Die staat gaan jou goewernante wees wat vir jou sê wat jy moet doen en nie mag doen nie. Nou is dit gesondheid. Die staat sal vir jou sê wie en hoe jy behandel moet word, ook wanneer en waar. Dit sal gevolg word deur onderwys, beroep en werk. Dan gaan die staat die aankoop van eiendom beperk. Die staat sal vir jou sê waar jy moet woon, wanneer en waar jy moet aftree. Die staat sal besluit wat jy mag eet en drink, klere wat jy mag aantrek, wat se vervoer jy moet gebruik, wat se energie jy mag gebruik, wat jy op TV mag kyk. Indien die staat besluit daar is te veel van een etniese groep in ‘n streek, dan sal die mense beveel word om te trek na waar hulle ‘n minderheid is. Die staat sal jou finansiële beheer oorneem. Die staat sal besluit wat jy na werk mag doen. Watter sport jy mag beoefen. Wanneer jy verjaar, sal die staat vir jou ‘n briefie gee om ‘n koek in ‘n staatswinkel af te haal. Elke huishouding sal ‘n inspekteur hê wat nou en dan sal inloer om seker te maak almal is gelukkig en nie ‘n bedreiging vir die staat nie.

Waarheid ·

Die ????????is op daai GELD reserwes wat MEDIESE FONDSE het daar gaan beslag (gevat) word vir begin kostes vir die ngv MAAR die gesamentlike bedrag gaan nie eers 3maande die ratte van versekerings wa kan laat draai nie dis gek verby.

tom kirsten ·

Wat gaan in die mediese mandtjie wees, dus waarvoor gaan die ngo betaal en wat gaan my bydraes wees. Wie gaan besluit dat ek ‘n dokter mag sien en watter dokter gaan dit wees.Is dit die gesoindheids werkers wat op die hoek vir 3 tot 6 maande opleiding ontvang het.

Petrus ·

Hou asseblief aan, jou oproep sal beantwoord word. Skakel 1 vir……

Lynn Weber ·

Ek hoop dat ál die ander partye in hierdie land gaan sáám staan teen die ANC en hierdie belaglike NGV droom en nie elkeen op sy eie mishopie wil koning kraai nie!

Greg ·

Ons 10% wat dit moet dra moet net weier om daai extra tax te betaal. Gaan hulle almal in tronk gooi – nee, maar hulle sal vb. maak van paar van ons en soos ek ons mense ken, sal ons ingee en betaal. Ons aanvaar mos net alles. Ons kan mos niks doen nie.

Petrus ·

Vir die wat ‘n formele werk is daar nie veel keuses nie, die staat verhaal jou bydrae van jou salaris, soos PAYE.

Liamari ·

Waar is die duisende mense wat vir mediese fondse werk se unies? Hulle is onseker of hulle teen 2026 werk gaan he, so hoekom hou hulle nie optogte nie? Hoe hou mediese fondse hul werkers positief met al hierdie onsekerheid? Die belasting koek word by die dag kleiner soos besighede en opgeleide mense van SA af “vlug”. ‘n Donker prentjie is ‘n SA oor 10 jaar wat verskroeide aarde sal wees soos die massas alles afbrand as die regering nie meer toelae kan betaal nie.

Kallie ·

Al daardie werkers sal seker vir die NGV gaan werk, dalk met baie groter salarisse.

Annari ·

Wel Afriforum begin sy eie skool, dalk moet hulle n hospitaal ook begin met eie onafhanklike dokters….dit is net so beroerd oorsee SA het nie die verstand om dit beter te kan doen, kyk net na alles om n mens.

Erik ·

Anneri, dit sal feitelik onmoontlik wees om privaat hospitale op te rig. En wie sal daarheen gaan sonder ‘n medies? Dink nie almal verstaan mooi die implikasie nie. Soos belasting, gaan NHI van jou salaris afgetrek word. Jy gaan nie keuse hê nie. En dit gaan nie juis goedkoop wees nie. Blykbaar tussen 3.5 -5% van jou salaris. Dan kry jy presies dieselfde sorg as iemand wat NIKS bydrae nie.

Hanna Hoekom ·

Is reeds in die buiteland en ek wil glad nie terugkom RSA toe nie. Ek en my Suid-Afrikaanse kollegas is almal gespesialiseerde verpleegkundiges. Behalwe vir swak salarisse en weinig kans op bevordering, het die NGV die laaste spyker in die kis geslaan. Ons het vir n rede uit staatshospitale padgegee…

Erik ·

Hierdie is ‘n nagmerrie. Ek sien die NHI het reeds ‘n webwerf. Ek begin te dink dis tog beter om te emigreer – al wil ek nie. Dalk beter om ongelukkig in NZ of Aus te wees sonder my familie en vriende as ongelukkig in SA te sit? Hierdie is vir my ook die laaste strooi! In China werk NHI glad nie en dokters word omgekoop vir mediese sorg. Dis hoekom hulle so gesond eet en leef – te bang om siek te word. Nou wil ons land dit instel nadat ons nie eers ‘kardioloog’ kan spel nie of uitspreek nie!!!

Corrie Boshoff ·

Het iemand al ooit gewonder waar die mdisyne vandaan gaan kom. Reeds is daar so baie medisyne uit voorraad / nie beskikbaar in staatshospitale nie. Ander medisyne moet selfs ingevoer word van die buiteland want dit word reeds nie meer vervaardig in S.A. nie.

Rubber ·

Nog ‘n soustrein. Nie lank nie en alle privaat hospitale sal gelyk wees aan staatshospitale. Ons gaan een oggend opstaan en hoor privaat hospitale is genasionaliseer. Kommunisme is ‘n wonderlike ding. Dit maak almal gelyk en brandarm. Net die regeerders trek voordeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.