‘NGV sál gesondheidsorg in SA knak’

NGV-verhoor in Johannesburg (Foto verskaf deur AfriForum)

AfriForum het vandeesweek by die openbare verhoor vir die wetsontwerp op die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat in Johannesburg gehou is, dit onomwonde gestel dat die instelling van dié wetgewing Suid-Afrika se gesondheidsorg en ekonomie tot op sy knieë sál dwing.

Die verhoor vorm deel van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid se verhore wat in elke provinsie gehou moet word.

Dié burgerregteorganisasie het ’n voorlegging by die verhoor gehou om sy teenkanting teen die instelling van die beplande NGV te laat hoor.

“AfriForum se voorlegging is egter ná slegs twee minute kortgeknip wat weereens dui op die partydige wyse waarop hierdie verhore onderneem word,” sê Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder vir die NGV.

AfriForum het op 19 September reeds in ’n regsbrief aan die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor gesondheid en welstand geëis dat die openbare verhore oor die wetsontwerp dadelik gestaak word, aangesien die organisasie bevind het dat dié verhore voortgaan sonder dat die datums en tye waarop dit gehou word, genoegsaam geadverteer word.

Boshoff het die organisasie se voorlegging hanteer. Hierin het hy uitgebrei op die negatiewe gevolge wat die implementering van die NGV-wetsontwerp kan hê. “Die impak van hierdie beoogde wet sal rampspoedige gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou. Die finansiering daarvan sal tot hemelhoë belastingkoerse lei en mediese kundiges sal die land op groot skaal verlaat om uit die staat se ystergreep op die plaaslike gesondheidsektor te ontsnap. Boonop gaan die NGV nie net miljoene Suid-Afrikaners se toegang tot mediese sorg belemmer nie, dit het ook die potensiaal om die land se ekonomie totaal te knak – ’n krisis wat ’n drastiese impak op elkeen in die land se lewe gaan hê,” benadruk Boshoff.

“AfriForum beoog om die openbare verhore oor die land heen by te woon en sodoende hierdie vernietigende wetsontwerp op elke moontlike wyse teë te staan. Die burgerlike samelewing het nie net ’n reg om by hierdie verhore hul stem dik te maak nie, maar het ook ’n onbetwisbare verantwoordelikheid om in die belang van Suid-Afrikaners op te tree en die gevare van dié katastrofiese wetsontwerp te belig,” sê Boshoff.

AfriForum se deelname aan die openbare verhoor volg op die organisasie se skriftelike kommentaar wat op 6 September ingedien is. AfriForum se teenstand teen die NGV word gesteun deur verskeie kundiges op ekonomiese en mediese terrein en neem die unieke uitdagings van Suid-Afrika ag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.