NGV sal ‘rampspoedige gevolge’ inhou

dokter

Argieffoto

Die sakeregte-waghond AfriSake is van mening dat die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika sal inhou.

AfriSake meen voorts dat die NGV ook nie teen 2025 geïmplementeer sal wees soos beplan word nie.

Dít volg nadat AfriSake sy kommentaar oor die voorgestelde NGV aan die departement van gesondheid voorgelê het.

Volgens AfriSake handel die kommentaar hoofsaaklik oor die onbekostigbaarheid van die NGV weens ʼn gebrek aan ekonomiese groei; hoë werkloosheidsyfers; en die effek van die daarstelling van hoër belasting – om uiteindelik die voorgestelde NGV-model te befonds.

“Geen omvattende navorsing is gedoen om vas te stel of die voorgestelde NGV-model inderdaad die beste moontlike vorm van algemene gesondheidsorg vir Suid-Afrika is of nie,” het Armand Greyling, regs- en beleidsanalis verbonde aan AfriSake, gesê. Volgens hom is daar ook geen navorsing gedoen om enige alternatiewe te vind wat Suid-Afrika se unieke probleme kan aanspreek wat toegang tot gesondheidsorg behels nie.

“Die huidige NGV-model sal deur ʼn omvattende belastingsamestelling gefinansier moet word wat insluit, maar nie beperk is nie tot persoonlike inkomstebelasting, BTW, betaallys en selfs boedelbelasting. Die onkoste van die NGV, in die woorde van die departement, is gekoppel aan ʼn geraamde ekonomiese groeikoers van ten minste 3,5%. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het ʼn groeikoers van slegs 0,7% vir Suid-Afrika in 2016 voorspel, terwyl Pravin Gordhan, minister van finansies, ʼn groeikoers van 0,9% voorspel het. Finansiering van hierdie doelwit van algemene gesondheidsorg blyk buite bereik te wees,” het Greyling verduidelik.

Hy meen ʼn land wat nie groei en ekonomiese welvaart toon nie, kan nie luukshede soos die NGV bekostig nie. “Inteendeel, die idee van algemene gesondheidsorg is nie die probleem nie; dit is die huidige vorm van die NGV-model wat werklikwaar ʼn rimpeleffek op die ekonomie gaan hê indien dit ingestel word.”

Greyling verduidelik indien BTW byvoorbeeld verhoog sou word om die NGV te help finansier, sal onbevoorregte gesinne wat op staatstoelae afhanklik is, ʼn laer beskikbare inkomste hê, wat die behoefte by die regering sal voorthelp om staatstoelae te verhoog en die tesourie dus met selfs minder beskikbare fondse sal laat om sy take te verrig.

Ander tipes belasting sal gevolglik selfs verder verhoog moet word om dieselfde inkomste as voorheen te genereer, maar aangesien die ekonomie nie groei nie of selfs besig is om te krimp, sal dit tot verdere werkloosheid aanleiding gee, en sodoende selfs ʼn groter las op die regering plaas.

“Ons moet alternatiewe maniere oorweeg wat finansieel lewensvatbaar vir die hele land sal wees as dit kom by algemene gesondheidsorg, en in hierdie stadium is dit duidelik dat die huidige NGV-model ʼn luuksheid is wat ons as land eenvoudig nie kan bekostig nie, aangesien dit tot nadeel van ons almal gaan wees,” het Greyling afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Net nog ‘n sogenaamde slim idee van die regering dat ons vir die wanfunksionele staats beheerde medise stelsel moet help betaal en daarvan gebruik moet maak. Op die platteland hier by ons, sal jy beslis vrek as jy met meer as ‘n toonstamp die hospitaal moet besoek.

M'Lady ·

Almal met verstand weet dit sal rampspoedig wees, behalwe die geagte minister en regering. Al hoe dit sal werk as die land n hoe groeikoers het, almal werk het en die bevolking die helfte minder is. Dit werk nie eers in eerste wereld lande nie wat nog te se in n derde wereld land.

Grap ·

Net nog ‘n geld maak skema om korrupte amptenare sê spaarrekening te befonds ons betaal alreeds belasting en behalwe vir grote schuur is daar nie meer een staatshospitaal waar jy verseker is om lewend uit te kom nie.Ek befonds eerder solidariteit/Afriforum want hulle het die kundigheid om sulke projekte suksesvol aan te pak.

Siestog ·

En hierdie klomp buitelanders, wat alreeds staatshospitale binnestroom, gaan hulle ook geakkomodeer word? Die geagte ministers en kie word 3/4 van die tyd gratis/pro-deo gedoen. Daar is heelwat scans pro-deo scans op die geagte god wat 27 jr in die tronk was, gedoen. Die ou wit doktertjies wil tog net polities korrek optree.

John ·

Ons staatshospitale is in chaos en smerig. As ernstige epidemies uitbreek sal daar geen keer wees aan die verspreiding nie. Indien privaathospitale/-klinieke ook geteiken word vir gratis gesondheidsorg, sal dit ook binne ‘n kort tydjie lyk soos die res. Alles wat in eerstewereldlande gedoen word, wil ons hier naboots maar ons regering dink nie aan die koste nie. Afrika glo ook nie aan onderhoud nie. Geld vir munisipaliteite om noodsaaklike dienste te lewer word verduister, hoe op aarde gaan hierdie plan suksesvol uitgerol word.

Cheeki ·

Dit het my elf jaar geneem om ‘n bril te kry – en nou kan ek nie lees daarmee nie! My jong Afrikaanse doktertjie weet nie waar adenoïdes in die liggaam is nie. Sal nie laat sy my blindederm verwyder nie…………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.