NGV: Solidariteit ‘reg met hofstukke’

Solidariteit het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie aangekondig hy staan gereed met hofstukke om regstappe te doen die óómblik dat Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wet word. “Ons sal die wet tot in die hoogste hof beveg,” het Morné Malan, strategiese spesialis by Solidariteit, gesê.

Die konferensie is aangebied in samewerking met proff. Jannie Rossouw en Alex van den Heever, wat deur Solidariteit aangestel is om onafhanklike deskundige verslae saam te stel oor die uitwerking van die NGV op die land.

Maroela Media het die naweek oor dié verslae berig. Die verslag bevind dat die ware instellingskoste van die NGV in die omgewing van R226,9 miljard sal wees wat onbekostigbaar is, selfs indien die ekonomie teen ʼn hoogs optimistiese koers van 2% per jaar tot 2025-’26 groei.

Die finansieringsgaping bereken teen huidige geldwaarde beloop sowat R166,5 miljard, of sowat 12,3% van die Suid-Afrikaanse staat se algehele inkomste vir die huidige geldjaar.

Teen 2026 sal die finansieringstekort minstens 10,8% van verwagte staatsinkomste bedra, wat ʼn algehele belastingverhoging van 10,8% sal noodsaak.

Solidariteit het bekendgemaak dié deskundige verslae sal dien as insette vir sy kommentaar aan die parlement. “Proff. Rossouw en Van den Heever se verslae is die mees insiggewende en deeglike ontledings oor die NGV tot dusver. Hierdie onafhanklike navorsing, asook Solidariteit se eie jare lange navorsing beteken dat niemand tans in ʼn beter posisie is om die NGV te stuit as ons nie,” het Malan gesê.

Malan sê die navorsing dui onomwonde aan dat daar geen ekonomiese of fiskale kapasiteit is om die NGV te finansier nie. “Ons eie navorsing het aangedui: Selfs al sou die NGV ekonomies haalbaar wees, sal dit steeds nie aanvaarbaar vir die gesondheidsorgbedryf wees nie. Ten slotte het prof. Van den Heever dit onomwonde gestel dat die NGV, ongeag die stand van die ekonomie of die mening van professionele persone, steeds rampspoedig sou wees bloot op grond van die strukture, stelsel en bestuur wat die wetsontwerp voorstel. Al drie aanwysers is deurslaggewende en nie-onderhandelbare faktore vir die sukses van die NGV,” het Malan bygevoeg.

Tydens die konferensie het prof. Van den Heever aangetoon dat daar geen logiese verband tussen die doelwitte van die NGV en die wetsontwerp self is nie. Hy het verder beklemtoon dat die regering feitlik geen verslae of navorsing het waarop so ’n verband enigsins gebou kan word nie.

Prof. Rossouw het daarop gewys dat die enigste beskikbare syfers vir die NGV nie net bykans ’n dekade oud is nie, maar boonop nog onbetroubaar ook. Sy verslag toon dat ’n fiskale krans onvermydelik sal wees, sou daar halsstarrig en hardkoppig voortgegaan word met die regering se NGV-planne.

Malan sê Solidariteit staan gereed om die wetsontwerp tydens die openbare verhore en in die parlement te beveg en, indien nodig, onmiddellik hul hofaksie van stapel te stuur die oomblik dat die NGV wet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan GL Janzen van Vuuren ·

Miskiem moet belasting onthouding begin word om die wetgewer te dwing om na die kiesers te luister en so ook alle politieke partye en ander koruptes. Net my siening

George in Bloem ·

Pfffttt….die ANC voel vere vir julle en enige feite of enige iets anders. Die plan SAL voortgaan ongeag.

Johan ·

Solidariteit, ek as lid steun julle 100% maar ek is bevrees die ANC/SAKP kommuniste gaan die NGV op ons afdwing. Net nog ‘n stap in hulle plan om SA in ‘n volwaardige Afrika kommunistiese staat te verander.

JohnnyJohn. ·

As Medscheme in Australia baie gebreke het, en sowat 50% van die bevolking bydrae tot die belasting poel, hoe gaan dit in SA werk met 50 miljoen parasiete wat reeds deur belasting betalers gedra word? Om nie eens te dink aan die diefstal, bedrog en onbehopenheid. Dit sal die finale en definitiewe spyker in die doodskis van SA wees.

Judge Dredd ·

Dit sal beter wees as dir NGV gestop kan word voordat dit wet word.

Sonja ·

Mooi Solidariteit! Hierdie is net n cookie jar en die gulsige hande staan gereed om te gryp. Kyk hoe lyk die Provinsiale hospitale, gevul met onbevoegde personeel . Hierdie NGV is net n ander plan om te Loot!

André-Chris ·

Insiggewend wat Tito Mboweni Woensdag 27 Nov 2019 in die parlement gesê het betreffende hul ideologie, en ek haal aan uit FIN24:

Finance Minister Tito Mboweni told the National Council of Provinces on Wednesday afternoon that the National Health Insurance system was the only opportunity for the SA public healthcare system to shape up – government could do much to improve healthcare now, he said.

Mboweni said he did not believe NHI should be considered the only panacea to the challenges dogging the public healthcare system.

“We don’t have to wait for NHI to be implemented to fix our public healthcare system. There are things that are within our power that can be fixed now,” Mboweni said.

Mboweni also urged MPs not to allow ideological persuasions to dictate their views around the NHI without considering the benefits it could yield for South Africans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.