Nico Henning in hof oor vrou se moord

 

Nico Henning kom by die Villieria-polisiestasie aan. Foto: eNCA / Twitter

Nico Henning kom by die Villieria-polisiestasie aan. Foto: eNCA / Twitter

Nico Henning, die vervreemde man van die vermoorde Chanelle Henning, het Vrydag in die Pretoriase streekshof verskyn op aanklagte van haar moord.

Lt.kol. Lungelo Dlamini het gesê die saak is tot 10 Desember uitgestel vir sy formele aansoek om borgtog. Dlamini het aan Maroela Media gesê Nico bly in aanhouding tot dan.

ENCA het berig Nico sal na verwagting aangekla word van sameswering om haar moord te pleeg.

Nico het homself Vrydagoggend by die Villieria-polisiestasie oorgegee. Sy prokureur was saam met hom.

Dit volg nadat Nico se vriend, die moordveroordeelde André Gouws, Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof Nico direk aan Chanelle se moord betrek het en aangevoer het dat Nico hom R1 miljoen aangebied het om Chanelle te vermoor. Gouws het gesê die motief vir Chanelle se moord was sodat Nico toesig oor hul seuntjie kan bekom nadat hulle huwelik verbrokkel het.

Chanelle is in November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Gouws en Ambrose Monye is skuldig bevind vir hul aandeel aan die moord. Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle vroeër skuldig gepleit het op hul aandeel in die moord. Du Plessis en Pieterse was die twee mans op die motorfiets wat deur Monye gehuur is om Chanelle te skiet. Gouws het op sy beurt Monye gehuur wat met die skieters ʼn ooreenkoms aangegaan het. Gouws en Monye moet nog gevonnis word.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Claud ·

Mag almal wat daarby deel gehad, lewenslank kry, bring eerder die doodstraf terug en kry doodstraf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.