Nico Henning se borgvoorwaardes

Nico Henning Foto: Etienne Creux, IOL

Nico Henning Foto: Etienne Creux, IOL

Die Pretoriase landdroshof het ʼn lys van streng borgvoorwaardes gestel vir Nico Henning, die beweerde baasbrein agter die huurmoord op sy vervreemde vrou, Chanelle, nadat hy Dinsdag op borg van R10 miljoen vrygelaat is.

Henning (47) moes R300 000 dadelik betaal en teen 20 Januarie die ander R9,7 miljoen in die vorm van waarborge lewer. Henning word aangekla van moord en sameswering om moord te pleeg. Sy vervreemde vrou, Chanelle Henning (26) is in November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het. Henning het homself op 6 Desember aan die polisie in Villieria, Pretoria, oorgegee.

Henning se borgvoorwaardes behels dat hy Maandae en Vrydae by die Hartbeespoortdam-polisiestasie moet aanmeld en nie nader as 1 km aan ’n internasionale vertrekpunt mag kom nie. Hy moet toestemming van die ondersoekbeampte, kapt. Petrus van der Spuy, kry indien hy enige van sy private vliegtuie wil nader. Henning mag nie Gauteng of Noordwes verlaat sonder om vooraf toestemming van die ondersoekbeampte te kry nie. Hy mag nie kontak met ʼn lys van staatsgetuies waaronder Andre Gouws, Ambrose Monye en verskeie van Chanelle se familielede hê nie.

Henning moet weer op 20 Januarie in die hof verskyn.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martin ·

Mari, ek hoop regtig nie so nie. Ek hoop die staat sorg dat die grootouers se veiligheid verseker word.

Anon ·

Dink nie hy verdien dit om sy kind te sien nie. Wonder waar kry hy so baie geld, smokkel hy nie met iets nie????

Mariaan ·

Anon, say no more. Kyk wie is sy vriende…aan jou vriende sal jy geken word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.