Nico Henning vlugtig in hof

Nico Henning (regs) verlaat die Pretoria-streekhof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Nico Henning (regs) verlaat die Pretoria-streekhof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die saak teen Nico Henning, die vermoorde Chanelle Henning se vervreemde man, is Dinsdag in die Pretoria-streekshof uitgestel.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het aan die hof bevestig dat ʼn ooreenkoms bereik is om die saak tot 13 November uit te stel vir verdere ondersoek.

Henning sal intussen weer in die hof verskyn in verband met sy streng borgtogvoorwaardes. “Die hofdatum moet nog hiervoor bepaal word,” het Nel gesê.

Die Pretoriase landdroshof het ʼn lys van streng borgtogvoorwaardes saamgestel vir Henning, die beweerde meesterbrein agter Chanelle se huurmoord. Hy is in Desember 2013 op borgtog van R10 miljoen vrygelaat.

Chanelle (26) is in November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het. Henning het homself op 6 Desember aan die polisie in Villieria, Pretoria, oorgegee.

Henning se borgtogvoorwaardes behels dat hy Maandae en Vrydae by die Hartbeespoortdam-polisiestasie moet aanmeld en nie nader as 1 km aan ’n internasionale vertrekpunt mag kom nie. Hy moet ook toestemming van die ondersoekbeampte, kapt. Petrus van der Spuy, bekom indien hy enige van sy private vliegtuie wil nader. Henning mag nie Gauteng of Noordwes verlaat sonder om vooraf toestemming van die ondersoekbeampte te kry nie. Hy mag ook nie enige kontak hê met ʼn lys van staatsgetuies nie, waaronder Andre Gouws, Ambrose Monye, verskeie van Chanelle se familielede, en werknemers van die Avis-motorhuuragentskap. – SAPA

Lees alle berigte wat met Chanelle Henning verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.