‘Nie aanvaarbaar om te moor, roof, terroriseer’ vir slagoffer se besittings

(Argieffoto: pixabay)

“Die duidelike indruk waarmee die beskuldigde die hof gelaat het, is dat hy geen respek vir die lewe, waardigheid of veiligheid van mense en hul besittings het nie.”

Só het regter Judith Cloete Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad gesê voordat sy Angelo Klein (41) lewenslange tronkstraf vir die moord op Peter Goliath opgelê het.

Klein is van moord, poging tot moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede aangekla, nadat hy in die vroeë oggendure toegang tot Goliath en sy vrou, Elizabeth, se woonplek in Surry Estate in Manenberg, gekry het. Die egpaar het geslaap toe Klein hulle oorrompel het, het kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.

Hy het Peter Goliath met ʼn skerp voorwerp gesteek, hom geslaan en geskop. Elizabeth is ook gesteek en gewurg, maar het die aanval oorleef.

Klein het hulle televisiestel en ʼn selfoon gebuit en gevlug. Dit was nagenoeg R8 000 werd. Hy is later vir die aanval aangekeer.

“Die beskuldigde is ʼn gevaarlike misdadiger en die gemeenskap moet teen hom beskerm word. Die sterk boodskap wat uitgestuur moet word, is dat dit nié aanvaarbaar is om te moor, te roof en te terroriseer net omdat jy iemand anders se besittings wil hê nie,” het die regter bevind.

Klein is lewenslange tronkstraf vir die moord, 12 jaar tronkstraf vir poging tot moord en nog 15 jaar tronkstraf vir huisbraak met die doel om te roof, asook vir die gewapende roof, opgelê.

Die regter het ook die ondersoekbeampte in die saak, sers. Jeffrey Witbooi, verbonde aan die Manenberg-speurtak, vir sy werk geloof, het Van Wyk gesê.

Die regter het gesê Witbooi het die saak opgelos met bykans geen leidrade of inligting nie en het hom op ʼn uiters professionele manier gedra. Sy het die speurder ook bedank vir sy bydra en toewyding om mense veilig te help hou.

Die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt.genl. Yolisa Matakate, het Witbooi ook vir sy ondersoekwerk geprys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leon ·

So hierdie is een uit 100 000de moorde en rowe. Wat van die ander 999 999?

ES ·

Leon, hierdie kon 0 uit 100 000 gewees het. Partykeer moet ons net bietjie minder pessimisties wees. Daar is polisielede wat baie hard werk en baie deernis het en trots is op hul werk.

Piet parys ·

Volgens die opskrif is dit nie aanvaarbaar om te roof, moor vir besittings nie volgens die REGTER . SO MET ANDER WOORDE DIS AAN VAARBAAR IN WATTER OPSIG DAN ?

Africangrey ·

Gaan kyk die movie platteland, dan ruil en skuif jy na hartelus met die hedendaagse?(begin by 1993)

zettie ·

Ek wil net se dat soveel van die moorde word die mense nie eers gevang nie. Hulle kom weg daarmee. Ek voel ons moet begin saam staan en in ons dorpe en plase moet radio beheer uitgevoer word.

Jakes ·

So een moord word opgelos en die speurder word geprys omdat hy sy werk ordentlik gedoen het. Welgedaan Witbooi maar sal jy die duisende ander moorde vir ons oplos siende dat die res van die mag onbekwaam is om dit te doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.