‘Nie alle skole is korrup’

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto: Unsplash)

Die Corruption Watch-verslag oor korrupsie in onderwys in Suid-Afrika is op sigwaarde ontstellend, maar het ook beperkinge wat met die interpretasie daarvan in ag geneem moet word.

Só sê die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

Die korrupsiewaghond het Donderdag ʼn verslag, “Sound the Alarm”, oor meer as 36 000 gevalle van korrupsie wat by openbare skole aangemeld is, bekend gemaak. Hierin word bevind dat diegene in magsposisies, veral skoolhoofde en skoolbeheerliggame, dikwels van ongerymdhede beskuldig word.

Volgens dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, en Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, skiet die verslag egter tekort in die interpretasie van die inligting deurdat die verslag net na klagtes wat aangemeld is verwys.

“Daar is dus geen feitelike grondslag vir die gevolgtrekking nie. Dit laat ons met sensasionele berigte sonder aanspreeklikheid en alle skoolhoofde en beheerliggame word nou oor dieselfde kam geskeer,” sê Deacon.

Die algemeenste vorms van korrupsie in die sektor wat aangemeld is, sluit in die wanaanwending van hulpbronne (45%), wanbestuur (17%), magsmisbruik (15%), ongerymdhede met verkrygingsprosesse (11%) en ongerymdhede met indiensneming (12%) wat omkopery, seksuele gunste in ruil vir werkgeleenthede en ʼn verontagsaming van werwingsprosesse insluit.

Klopper sê wat in die verslag nie duidelik uitgewys word nie, is dat die voorvalle oor ’n tydperk van 11 jaar aangemeld is. “As ons in ag neem dat daar sowat 23 000 openbare skole in Suid-Afrika is, kom dit neer op ’n gemiddeld van 327 aanmeldings per jaar, of 1,4% van skole,” sê hy.

Beide Deacon en Klopper sê die uitdaging is om die aanmeldings in klagtes te omskep, bewyse voor te lê en deur formele dissiplinêre en strafregtelike prosesse te gaan. “Skole en departemente moet dit makliker maak om wangedrag aan te meld en om fluitjieblasers te beskerm,” sê Deacon.

Sowel Fedsas as die SAOU steun alle aksies om korrupsie in die skoolstelsel te beveg.

“Dit is belangrik dat ’n organisasie soos Corruption Watch die tekortkominge en wangedrag uitwys. Corruption Watch het nou die verantwoordelikheid om die inligting aan die owerhede te oorhandig sodat die formele prosesse kan volg.”

Fedsas en die SAOU fokus daarop om deur verskillende programme en inisiatiewe beheerliggaamlede en onderwysers toe te rus met kennis omtrent goeie skoolbeheer en -bestuur.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die verslag verwelkom en sê dit speel ʼn onmisbare rol om gesonde beleid, en die toepassing daarvan, in die onderwyssektor te verseker.

“Die korrupsie in ons skoolstelsel saboteer die verwesenliking van kinders se reg op onderwys. Skoolgemeenskappe moet as skole se waghond optree en daadwerklik optree waar leerders se reg op goeie onderwys deur swak bestuur, korrupsie, onbevoegde of lui personeel, swak dissipline, vandalisme en misdaad bedreig word,” sê Sarina Prinsloo, woordvoerder van die SOS.

Prinsloo meen verantwoordbare onderwys begin egter by die regering en die regering het die primêre plig om leerders se reg op onderwys in goeie openbare skole te beskerm.

“Die staat moet ʼn geloofwaardige onderwysplan daarstel, dit doelgerig en deursigtig uitvoer en korrupte amptenare uit die stelsel verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

Korrupte amptenare word uit een pos verwyder en net by n ander plek weer aangestel. Viva ANC.

Swerwer ·

Glo nie daar is 1 staats skool waar daar nie korrupsie is nie. Waar die Regering ‘n voet in die deur het, daar is korrupsie!

Christine ·

Afrikaanse skole is ook semi- of ten volle staatsskole en daar is geen korrupsie. Dis hoekom Lesufi Afrikaanse skole wil wegdoen mee, want hulle soek die skoolfonds.

Jinksie ·

oeilik om tw glo. Hulle onderhoude kan as korrup beskryf word. Al die skole waar ek al was vir n onderhoud het iemand wat pas gematrikuleer het wat hulle vir die pos alreeds het. Al is jy gekwalifiseerd kry jy NOOIT die pos nie.

Christine ·

Spaar op salaris. Die arme assistent onderwysers vars van universiteit, werk vir bitter min geld, maar hulle is fluks en lus vir die werk.

Shakespeare ·

95% van staatskole het ongedissiplineerde, onbevoegde en korrupte, onervare en onetiese personeel beginnende by die kader hoof wat lei tot ongedissiplineerde en kriminele leerlinge. KANKER Afrika se grootste probleem wat nooit opgelos gaan word nie agv kanker Parlementslede en stemvee se enorme aanwas.

twaalfboor ·

Met statistiek kan jy enige iets bewys. Selfs die ware prentjie “verbloem”. 327 aanmeldings per jaar. So……. statisties is dit net minder as een geval per dag. Uuuuhmmm…. ja dis nie te erg nie nè.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.