Nie-deelname aan sensus het impak op die toekoms

Argieffoto (Foto: Ag Ku/Pixabay)

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het sy kommer uitgespreek oor die swak deelname aan die sensus in sy provinsie omdat dit ʼn direkte impak op inwoners kan hê in die toekoms.

Winde sê die Wes-Kaap is ver agter die res van die land in die 2022-sensusopname. Die sensus word deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) behartig.

Volgens die organisasie is sowat 55,5% van inwoners in die Wes-Kaap getel, in vergelyking met die gemiddelde getal in die res van die land op 87%. “Dit is veral kommerwekkend omdat ons net vier dae oor het tot die uitstel op 30 April 2022 tot ʼn einde kom.”

Winde sê as dit só bly, sal dit voorkom of die provinsie ʼn laer bevolkingsgetal het as wat werklik die stand van sake is, ongeag beduidende groei in bevolking. “Dit het ʼn impak op begrotingstoewysing deur die provinsiale gelyke aandeel en ander toewysings en hulpbronne wat nasionaal vrygestel word.”

Winde sê as die sensus nie akkuraat is vir die provinsie nie, sal minder hulpbronne beskikbaar gemaak word om dienste te lewer. “Dit kan ʼn impak op ieder en elke inwoner hê. Dit is ʼn enorme risiko en ons moet dit voorkom.”

Winde doen ʼn dringende beroep op inwoners om hul kant te bring en so vinnig as moontlik deel te neem. “As jy reeds getel is, vra asseblief ook jou kollegas, vriende en familie of hulle al getel is en moedig hulle aan om dit so vinnig as moontlik te doen. Dit is uiters noodsaaklik en iets wat ons moet prioritiseer.”

Winde sê die provinsie is alreeds nie tevrede met die begrotingtoewysing uit die nasionale begroting nie en moes gereeld baklei vir meer hulpbronne gegewe die verandering in bevolkingsgetalle die afgelope 10 jaar. “Hierdie is ons geleentheid om uiteindelik akkuraat te reflekteer. Dit is reeds ʼn moeilike ekonomiese klimaat. Talle mense sukkel om kos op die tafel te sit en as ʼn provinsiale regering het ons ook begrotingsbeperkings. Ons kan nie bekostig om ʼn enkele sent te verloor weens ʼn foutiewe telling nie.”

Vir meer inligting oor die sensus, besoek https://getcounted.statssa.gov.za/#!/home

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gert ·

Ek is saam met Winde bekommerd oor die sensus, maar om ander redes.
Hier by ons in die Noord Kaap was daar nog niemand by ons nie en hulle kry seker geld vir niks doen.
Die ander rede is dat sensus help nie as daar nie beplan word daarop nie. In die verlede is dit ook gedoen en steeds werkloosheid wat die hoogte inskiet, gesondheid wat beroerd is en skole totaal ontoereikend
Sensus wat werk kan toekoms verseker, maar helaas niks werk met anc bevrydings oorlog wat steeds in hulle oë gevoer word.
Gert

Marius ·

Die regering het nie ‘n idee hoeveel mense in die land is nie. Ek dink ook nie die wat onwettig hier is gaan voor in die tou staan om getel te word nie.

Nie Verbaas ·

Wel Mnr. Winde, beveilig nedersettings en mense sal dan miskien sensus oordentlik doen. Of kan jy lede se veiligheid verseker wat opname moet doen?

Agge nee ·

Die sensusopnemers sit onder die bome in die koelte. Dis hoe hulle sensus opneem en word daarvoor betaal. Ook spoggerige nuwe voertuie wat by die baie dosyne gekoop is vir koeltesit.

Jaco ·

Goed, ek sal maar deelneem aan die sensus, wel wetend dat my besonderhede oor ‘n jaar of 2 vir onteiening sonder vergoeding en radikale ekonomiese transformasie gebruik gaan word.

twaalfboor ·

Tipies 3de wêreld waar inwoners fisies getel word. Hoekom kan daar nie van Binnelandse sake register gebruik gemaak word nie. Of dalk nie…… al die vervalsde ID’s.

Johanncb ·

Hoe gemaak as géén sensusopnemer tot nou na jou kompleks gekom het nie? Jy versoek hulle teenwoordigheid per e-pos, maar niks gebeur nie! Jy kom net sover as jou persoonlike inligting verskaf op die internet, maar daar stop dit! Wat nou?

Johan ·

Hahaha…as jy weet dit is 55.5%, maal alles net met 1.8 dan het jy 100%.

annie ·

Wees gerus Alan ek moes nou al 4x my inligting aanstuur en wag angstig op die volgende geleentheid om presies te verduidelik waar ek bly, straatnommer en ligging via internet ens. Baie opwindend. Moenie bekommer nie ons werk nóú saam. Die sensuskantoorbeamptes is flink en vinnig. Die syfers sal die ware weergawe van die land se aantal burgers en alle ander detail weergee. Glo my.

Misky ·

As hulle maar weet hoeveel ou gogs sit hier in die “rural” areas van KZN, ver van enige paaie en infrastruktuur met ‘n hele spul kleintjies wat die ouers daar los vir ouma om groot te maak. Nuttelose inligting en gee hulle rede vir meer skep.

Swerwer ·

Hoeveel in my huis woon het niks met die Regering te doen nie, nog minder of ek ‘n spoel toilet en lopende water het. Ons wit mense betaal vir eiendom en dienste, ons ontvang nie alles mahalla nie. En nee ek het nie blyplek vir 20 duisend ander nie.

capie ·

Wat lees die geagte meneer Winde uit die niedeelname. Die Weskaap is nie “happy” nie. So kry die Weskaap weg van die rowers af.

Lillian ·

Hierdie korrupte regering het niks te make met wat in my huishouding aangaan nie, hoeveel toilette, warm water, inkomste ens. ek het nie! Gaan kyk by Binnelandse sake hoeveel mense daar is, en SARS, hoeveel ek verdien, die res van dié wat nie by Binnelandse sake geregistreer is nie, kan julle maar gerus deporteer. Ek is redelik keelvol vir al die poef wat ons voer net om jul sin te kry!

4ntj13 ·

Statssa moet dalk beter kyk: My baie ou woonbuurt word nie deur sy elektronika erken nie. Net ʼn baie klein, nuwe deeltjie daarvan wat Swart mense herbenoem het! Hoeveel mense het só moed verloor om getel te word?

Mense, laat tel julle aanlyn, maar wees kreatief as die masjien dom is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.