Nie een enkele verkragtingstoetsstel in Oos-Kaap beskikbaar

Argieffoto: SAPD

Bobby Stevenson, DA-woordvoerder oor veiligheid in die Oos-Kaapse wetgewer, het Donderdag skokonthullings gemaak oor die tekort, of eerder die algehele gebrek aan verkragtingstoetsstelle asook stelle wat vir die versamel van DNS gebruik word in dié provinsie.

Volgens Stevenson het Wesiwe Tikana, die provinsiale LUR vir veiligheid, in antwoord op ʼn vraag in die wetgewer bevestig dat die Oos-Kaap nie een enkele verkragtingstoetsstel vir die 2018/19-boekjaar het nie.

Sy het verder erken dat daar ook nie ʼn enkele DNS-versamelingstel in die provinsie is nie.

Stevenson het gesê verkragtingslagoffers word van geregtigheid ontneem. Hy meen verder dat dit skokkende verraad teen vroueregte is. “Dit sal die vervolgingskoers van verkragtings, wat reeds laag is, nog verder laat daal,” het Stevenson gesê.

Volgens Tikana se antwoord het die polisie tydens die afgelope finansiële jaar 41 545 verkragtingstoetsstelle en 44 600 DNS-stelle gebruik. “Dit is dus duidelik dat dit ʼn reuseprobleem is om nié die stelle te hê nie,” sê Stevenson.

Volgens Stevenson het 16,15% van die 2017/18-boekjaar se verkragtings in die Oos-Kaap plaasgevind (8 094 gevalle).

“Dit is eenvoudig nie aanvaarbaar dat hierdie verkragtingstoetsstelle nie beskikbaar is nie,” het hy gesê.

Stevenson het gesê Tikana het die blaam verskuif toe die vraag aan haar gestel is oor hoekom daar so ʼn tekort is. “Sy het gesê die saak is ʼn nasionale uitdaging en nie geïsoleerd in die Oos-Kaap nie.”

Maroela Media het intussen Tikana se woordvoerder om kommentaar genader en wag op terugvoer.

Stevenson het onderneem om opvolgvrae aan Tikana te stel om duidelikheid te kry oor wanneer hierdie tekorte aandag sal kry. Hy sou dit ook met Zakhele Mbhele, skaduminister van polisie, opneem.

“Die polisie moet toegang hê tot die nodige toerusting om hul werk te kan doen sodat die oortreders aan die pen kan ry. Verkragtingslagoffers het reeds soveel hindernisse om te oorkom net om na vore te kom en die misdaad aan te meld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skandelik ·

Jis dit maak my trots op die ANC !! SJOE en almal stem WEER vir hulle, volgende jaar gaan hulle met ‘n oorgrote meerderheid wen en die EFF gaan by hulle aansluit dan sal daar in GEEN provinsie meer pleisters wees nie.

Bella ·

Dis heeltemal onaanvaarbaar!!!!! Sien, stem ANC of EFF en dis sulke tipe dienslewering wat jy kry.

Cherokee ·

Lees jy hier Mabel Jansen? Ek hoop Gillian Schutte lees dit ook.

Sarel ·

Hoe bekamp hulle misdaad teen vrouens & kinders? Hoe moet die Polisie hulle werk doen indien hulle nie toegerus word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.