Nie eens verlof kan polisieduiker stuit

Sers. Marius Geldenhuys. (Foto: Verskaf)

ʼn Dapper polisieman van die Vrystaat waag maande lank reeds sy lewe om gestrande mense tussen Allanridge en Bothaville van verdrinking te red.

Dít omdat die R30 tussen dié twee dorpe sedert Januarie oorstroom is weens swaar reën in die omgewing. Die pad word nou as ʼn hoë ongeluksone bestempel, waar talle mense reeds verdrink het.

Vir sers. Marius Geldenhuys is daar nie iets soos “van diens af” wanneer iemand in vloedwater vasgekeer is nie. Hy beskou duik as sy stokperdjie en het ook menigmaal sy eie private toerusting bymekaar gemaak om mense na veiligheid te bring.

“Wanneer ook al hy gekontak word oor ongelukke skroom hy nie om sy persoonlik duiktoerusting en sy private voertuig te gebruik om hulp aan diegene in nood te verleen nie,” sê sers. Fikiswa Matoti, polisiewoordvoerder.

Byna ʼn week gelede is Geldenhuys in die vroeë oggendure na die berugte pad ontbied nadat ʼn minibus in die water beland het.

“Hy was net voor 02:00 op die toneel waar hy daarin geslaag het om drie mense van ʼn waterdood te red. Hy het ook gehelp om nege liggame uit die water te haal.”

In nog ʼn voorval was ʼn Intercape-bus deur die water vasgekeer nadat die pad oorstroom is. Sowat 80 mense was vasgekeer en in gevaar om te verdrink, maar Geldenhuys en ʼn reddingspan het die vloedwater trotseer en al die insittendes gered.

Kort daarna, terwyl Geldenhuys met verlof was, was die stasiebevelvoerder van die Vierfontein-polisiestasie in diep water op die einste pad vasgevang. Geldenhuys het egter nie gehuiwer om hulp te verleen en die kaptein te red nie.

Genl.maj. Lerato Molale, distrikskommissaris van die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit (Welkom), het Geldenhuys vereer vir sy uitsonderlike dapperheid in sy pogings om mense se lewens te red.

“Dié lid se moed en vermoë om kwesbare mense te red sal nooit ongesiens verbygaan nie,” het Molale gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Alida ·

Ek ken jou nie, maar ek is baie trots op jou. Net weer ‘n bewys daar is nog goeie mense in die SAP. doen so voort.

Delia ·

Wys maar net weet die hele SAPD kan nie oor dieselfde kam geskeer word. Doen so voort jongman

Fred ·

Onselfsugtige diens aan sy medemens en ‘n goeie voorbeeld vir alle Suid Afrikaners!

mattk ·

Net nog ‘n bewys dat daar wel mense is wat dit nog as ‘n roeping beskou en nie net ‘n werk waarvoor hy/sy betaal word nie. Hierdie is persoon verdien die erkenning en gee hom sommer ook bevordering as erkenning vir wat hy doen en die voorbeeld wat hy stel. Voorwaar uitstaande en ek haal my hoed af vir jou.

Margaret ·

Wonderlik om van dìe man te hoor! Ons is dankbaar vir SAP soos hy. Mooi so!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.