‘Nie in ons naam’ – SA’ners kap Russiese aggressie

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Argieffoto: Sergei Chirkov/AFP)

Die Suid-Afrikaanse regering probeer dalk mooi broodjies bak oor Rusland se inval van Oekraïne, maar talle Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse organisasies neem toenemend sterk standpunt in teen Russiese aggressie.

Die ANC het ʼn lang geskiedenis met die voormalige Sowjetunie en het in die stryd teen apartheid groot steun daarvandaan gekry vir sy pogings om ʼn demokratiese bestel in Suid-Afrika te verseker. Die Sowjetunie het onder meer wapens en ander militêre hulp aan die ANC se gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe, verskaf.

Die regering het Suid-Afrikaners vroeër vandeesmaand gevra om nie kant te kies in die konflik tussen die twee lande nie, omdat dit “teen ons beginsels kan wees”.

Suid-Afrika se afvaardiging na die Interparlementêre Unie (IPU) het hom Woensdag egter gedistansieer van ʼn resolusie wat Rusland se gebruik van mag teen Oekraïne veroordeel. Die resolusie lui dat Rusland se “voortgesette gebruik van geweld teen Oekraïne ʼn skending van die Handves van die Verenigde Nasies (VN) is, insluitende die beginsel van soewereiniteit en territoriale grondgebied”.

Die IPU het die resolusie vir ʼn vreedsame oplossing vir die oorlog in Oekraïne aanvaar en sê hy neem met kommer kennis dat die oorlog ʼn bedreiging vir internasionale sekuriteit inhou, met moontlike wêreldwye ekonomiese onsekerheid in die toekoms.

ANC-standpunt nie almal in SA s’n

Dr. Annelie Lotriet, ʼn DA-LP wat deel was van Suid-Afrika se afvaardiging na die IPU, sê sy het die IPU-mosie ten volle gesteun. “Die DA se standpunt oor die oorlog in Oekraïne is duidelik: Ons glo die aanval op Oekraïne deur die Russiese Federasie onder Wladimir Poetin is ʼn oorlogsdaad waarvoor daar geen regverdiging is nie en veroordeel dit in die sterkste moontlike terme.”

Die ANC en EFF het, ten spyte van die DA se teenkanting, die IPU se mosie verwerp – ʼn stap wat slegs Suid-Afrika en Belarus gedoen het.

“Dit is duidelik dat die ANC en EFF aan die verkeerde kant van die geskiedenis is,” sê Lotriet.

DA-leier John Steenhuisen het die amptelike opposisie se standpunt benadruk by ʼn byeenkoms van diplomate in Pretoria en opnuut gesê daar kan geen regverdiging van die inval wees nie. “Die meeste lande het ekonomiese sanksies teen Rusland goedgekeur in ʼn poging om hom te dwing om sy vyandigheid te staak. Die meeste wêreldleiers het hul duidelik en sterk uitgespreek teen hierdie skending van internasionale reg.

“Maar Suid-Afrika en sy president is nie onder hulle nie,” het Steenhuisen aan diplomate gesê.

Volgens die DA-leier het pres. Cyril Ramaphosa gesê Suid-Afrika kan nie kant kies nie en toe presies dít gedoen.

“Die meeste Suid-Afrikaners steun glad nie die ANC se posisie nie.”

ʼn Onlangse opname deur The Economist het bevind dat ʼn oorweldigende meerderheid van Suid-Afrikaners gekant of sterk gekant teen Rusland se inval in Oekraïne is, sê Steenhuisen.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê Suid-Afrika tel nou onder ʼn rits lande wat bekend is vir hul skending van menseregte en minagting van demokratiese beginsels.

ActionSA het die afgelope week die Oekraïense ambassadeur in Suid-Afrika, Liubov Abravitova, in Pretoria ontmoet.

“Die doel van die vergadering was om ActionSA se steun vir die Oekraïense mense oor te dra en te sê dat die ANC-regering se posisie nie die mening van alle Suid-Afrikaners weerspieël nie,” sê Mashaba.

Mashaba sê die party sien Rusland nie “as ʼn vyand nie”, maar Poetin se magsvertoon teen die Oekraïense mense kan ook nie gesien word as enigiets anders as tirannies nie.

Die EFF het in ʼn verklaring ʼn ander siening ingeneem. Die party sê hy is “oortuig daar is absoluut niks fout met die Russiese Federasie se vermyding van wat ʼn ooglopende en duidelike veiligheidsbedreiging vir Russiese grondgebied en mense deur Navo-magte en veral die VSA” is nie.

Die party het ook die sanksies teen Rusland verwerp en het ʼn beroep op “progressiewe magte van die wêreld gedoen” om hul handelsbande met Rusland te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Twallie ·

Wel, ou Sarel…Weet jy wat is teen meeste SA’ners se beginsels? Diefstal van staatsfondse, maar hier is ons nou.

Kobus ·

Presies my punt. Maar te oordeel aan die baie pro Putin kommentaar is daar heelwat ANC en EEF ondersteuners wat MM lees en kommentaar lewer… SA met hul beleid ter ondersteuning van lande soos Rusland, Kuba, Belarus probeer hard om die muishond status te verwerf. Dit gaan nie ongesiens verby in die wereld nie.

Carolina ·

Ons sal gou uitvind wat all hierdie sogenaamde SA te sê sal hê as China se weerman op ons grense gaan begin kamp opslaan!! Duidelik is almal al weer deur die media en politikuste gebreinspoel want al wat jy hoor is arme Ukraine, blah blah blah!

Kobus ·

Hopelik as dit gebeur en hul al die stede omring en vernietig en mense dood maak en miljoene mense moet vlug, Sal die wereld nie ook van SA blah blah blah se nie. Of verwag jy hul Sal dieselfde, empatie met jou toon, as wat jy toon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.