Nie (meer) te vet vir NZ

Mondelea Bezuidenthout en haar gesin. (Foto: Verskaf)

Ná ʼn jarelange stryd het die oud-Suid-Afrikaner Mondelea Bezuidenhout en haar gesin uiteindelik permanente verblyfreg in Nieu-Seeland gekry.

Die Kiwi-regering se immigrasie-afdeling het die gesin se aansoek destyds afgekeur omdat Bezuidenhout oorgewig is.

Sy het egter teen dié besluit geappelleer en ook hard gewerk om die oortollige kilo’s af te skud.

Ná ʼn lang, emosionele proses het die gesin op 16 Desember 2021, meer as twee jaar later, hul verblyfreg ontvang. Bezuidenhout het die nuus egter eers in Februarie op haar Facebook-blad gedeel.

“Die reis wat ons moes deurmaak, was nie maklik nie, maar ek is so dankbaar aan elke liewe persoon wat ons in hul gebede gehou het, want aan die einde van die dag kan my God berge versit en het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie,” het sy op Facebook geskryf.

Bezuidenhout het Dinsdag aan Maroela Media gesê die departement se ommeswaai was hoofsaaklik aan haar harde werk te danke.

“Hulle het nie vir my gesê hoeveel om te verloor nie, maar ek het so 25 kg verloor. Dit vat my langer om gewig te verloor weens polisistiese ovariumsindroom (PCOS), maar verder is ek gesond en het geen kwale soos bloeddruk of suiker nie.

“Die hoofrede was my harde werk en dat ek kon wys dat ek wel gewig verloor en my lewenstyl verander het. Ek het baie sleg geëet. Baie mense dink mos vet mense eet net. Dit is egter waar én vals. Ek het glad nie geëet nie en dis ook sleg vir jou.”

Bezuidenhout sê die nuus “sink nog in”, aangesien hulle al in September 2019 om verblyfreg aansoek gedoen het. In Julie 2020 is sy aangesê om gewig te verloor.

“Dit was ʼn baie lang, stresvolle en onsekere proses. Die kanse op verblyfreg het in ʼn stadium glad nie goed gelyk nie en die prokureur wat aan ons saak werk, het gesê hy sou verbaas wees indien ons wel verblyfreg kry. Ek het aanhou bid en vertrou. My hoërskool se leuse was ‘volhard en oorwin’. Jy gaan lê nie wanneer iemand iets negatiefs sê nie. Ek is mal oor ʼn uitdaging en dit was iets wat ek vir myself moes bewys en nie net vir immigrasie nie.

“My kinders is my grootste motivering in die lewe. Dis juis vir hul toekoms dat ons hier is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
domheks

Mooi so!!!

Wat Wou

Baie geluk met jou gewigs verlies en julle aanvaarding in NZ. Die ou gesegde se mos “waar n wil is, is n weg”. Wel gedaan. Ek wens julle alle voorspoed to in NZ.

Windhond

Mens moet darem baie graag wil emmigreer as mens deur dit moet gaan

Stofdonkie

Dis toe makliker om aan NZ se reels te voldoen as om hulle reels te probeer beveg.

Annelize

Ek het letterlik net vanmore eweskielik aan die vrou gedink, en gewonder wat toe gebeur het, dis nou wat ek toeval noem.

Baie bly verblyfreg is aan hul toegeken, want genade tog, waarnatoe sou die mense tog nie teruggekom het as hulle moes terugkom nie?