Nie ’n enkele Protea toon Covid-19-simptome

Die Proteas op pad terug vanaf Indië. Foto: Twitter.

Nie ’n enkele Protea-krieketspeler toon enige simptome van Covid-19 nie.

Die spelers was vir twee weke in selfisolasie nadat hulle van Indië teruggekeer het.

Quinton de Kock se span moes drie eendagwedstryde teen die Indiërs speel, maar die toer is deur die koronavirus-pandemie kortgeknip. By hul terugkoms in Suid-Afrika moes die spelers vir 14 dae in kwarantyn bly.

Volgens Shuaib Manjra, Krieket Suid-Afrika se mediese hoof, is die spelers konstant vir enige simptome gemonitor.

“Genadiglik het nie een van die spelers enige van die simptome getoon nie, terwyl dié wat hulself wel laat toets het, almal negatief was,” het hy gesê.

Volgens Manjra sal die spelers tuis aan hul fiksheidsvlakke tydens die afsonderingstydperk werk.

Die span se fiksheidsafrigter, Tumi Masekela, het vir elke speler ’n individuele fiksheidsprogram uitgewerk.

“Ons het nou die nodige tyd om aan elke speler aandag te gee sodat hulle genoeg tyd kan hê om te rus en hul rehabilitasieprogramme – indien nodig – te volg. Die probleem met Covid-19 is egter dat alles oor ’n afstand aangepak moet word.

“Ons kan nie ons normale oefenroetines doen waar ons die spelers op ’n daaglikse basis assesseer en dan hul programme ooreenkomstig aanpas nie,” het Masekela gesê.

Die Proteas moet in Junie teen Sri Lanka speel, maar dié toer is nog in die weegskaal.

Die span het onlangs sy eerste reeks onder Mark Boucher gewen toe die Proteas Australië in drie eendagwedstryde geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.