Nie ʼn sent verder op Nkandla nie, sê DA

Pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning.

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Sondag gesê nie ʼn sent van belastingbetalersgeld mag verder spandeer word “tot voordeel van een man” nie.

Die DA het enige nuwe of verdere opgraderings aan pres. Jacob Zuma se privaat huis in Nkandla verwerp, “ongeag hoe dit beskryf of gekategoriseer word deur die nasionale regering”.

“Dit is skandelik dat ʼn man wat eiehandig ons land in rommelstatus laat beland het, in ʼn paleis van luuksheid moet bly, wat deur die mense se geld gebou en onderhou word. Indien Jacob Zuma opgraderings wil hê, moet hy self daarvoor betaal,” het Maimane gesê.

“Die presidensie het Sondagoggend baie vinnig Zuma verdedig en die water vertroebel deur in ʼn verklaring gesê dat daar tans geen herstelwerk aan die gang is vir die privaat huise by die president se woning nie en dat geen staatsdepartement enige aanbod ingedien het vir opgraderings nie.

“Die reaksie is eenvoudig onvoldoende. Die president moet alle toekomstige opgraderings by sy huis verwerp wat belastingbetalersgeld gebruik – maak nie saak hoe dit beskryf of gekategoriseer word nie. Suid-Afrikaners kan nie die las dra deur vir nog opgraderings of herstelwerk te betaal by Zuma se paleis van korrupsie nie.

“Die DA sal sy pogings voortsit om Jacob Zuma uit sy amp te verwyder, sodat die aanslag op ons land, ons Grondwet en die publiek se geld finaal gestop kan word,” het Maimane gesê.

Die presidensie het vroeër Sondag mediaberigte ontken van verdere opgraderings op belastingbetalers se onkoste by Nkandla.

“Die presidensie neem met kommer kennis van ʼn berig in die Sunday Times oor beweerde planne deur die departement van openbare werke om sekere aspekte van die president se Nkandla-huis op te knap,” lui ʼn verklaring deur die presidensie.

Zuma wil dit graag bevestig en benadruk dat daar geen opknappingswerk gedoen is aan Nkandla nie en dat geen staatsdepartement enige voorstel ingedien het vir opknappingswerk nie.

“Ons wil ook daarop wys dat geen staatsdepartement, insluitend die departement van openbare werke, toegelaat sal word om enige opknappingswerk te doen aan die president se huis in Nkandla nie.”

Die Sunday Times het vroeër berig dat die regering gereed maak om nog belastingbetalersgeld te spandeer aan Zuma se omstrede Nkandla-tuiste, wat reeds teen R246 miljoen opgegradeer is.

“Zuma is nie afgeskrik deur die publiek se ontsteltenis of ʼn bevinding deur die konstitusionele hof dat hy versuim het om die Grondwet te handhaaf wat betref geld wat op sy privaat woning spandeer is nie, en die departement van openbare werke het vandeesweek bevestig dat nuwe werk binnekort gedoen gaan word,” het die koerant berig. “Daar is prosesse aan die gang om die eiendom op te knap – in sommige gevalle beduidend op te knap – om slordige werk te herstel en, weereens, veiligheidsbekommernisse aan te spreek.”

Alhoewel die assessering nog nie afgehandel is nie, sal die bykomende opgraderings en herstelwerk miljoene rand kos en van die huise op die eiendom kan selfs oorgebou word.

Barnie Ntlou, hoofdirekteur vir regsdienste by die departement, het glo skriftelik aan die Sunday Times gesê “die proses het sopas begin” om dele van die eiendom te herstel en beamptes het reeds die woning besoek.

In ʼn reeks opvolg telefoonoproepe om dit te bevestig, het Ntlou dit benadruk dat die werk definitief sal voortgaan. “Ons is gedwing om dit te doen. Ons kan nie toelaat dat ʼn presidensiële woning vervalle is nie,” het hy glo gesê.

Fikile Mbalula, die minister van polisie, het in reaksie op ʼn SMS of hy ingelig is oor toekomstige opgraderings by die woning, geskryf: “Ja.” In reaksie op ʼn opvolgvraag oor die aard van die werk het Mbalula die koerant na die presidensie verwys.

Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het in haar verslag oor die Nkandla-skandaal bevind dat die opgraderings aan die eiendom, wat met belastingbetalersgeld gedoen is, ʼn gastehuis en twee privaat huise, ʼn swembad, besoekersentrum, veekraal en hoenderhok, helikopter-landingsplek, geheime tonnels en ondergrondse skuilplekke insluit.

Die konstitusionele hof het in Maart 2016 beslis dat Zuma versuim het om die Grondwet te handhaaf, te verdedig en te respekteer nadat hy Madonsela se aanbevelings geïgnoreer het dat hy van die geld moet terugbetaal wat spandeer is aan opgraderings by sy huis. Die tesourie het bepaal die bedrag wat hy moet terugbetaal, is R7,8 miljoen en die presidensie het gesê Zuma het ʼn lening by VBS Mutual Bank aangegaan om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Middelburger ·

Zumpie en buddies.. As julle wil lieg oor die opknappings lieg darem ten minste net dieselfde en uit een mond! Liefde SA

ken benoni ·

Daar is ‘n gat in die hoenderhok, die beeskraal se hek hang skeef en daar is blare in die Brandpoel. Dis groot uitgawes daardie vir so ‘n arm huishouding!!!

Sputnik ·

Daardie plek gaan ons as belastingbetalers vir nog baie lank groot bedrae kos, daarvan is ek oortuig.

AL ·

Hy onderpresteer geweldig, onder sy leiding het armoede en werkloosheid toegeneem, infrastruktuur vervalle geraak, staatskaping, korrupsie, nee wat uit moet hy uit, laat hy sy eie grasdakke en hoenderhokke herstel

cor ·

Dit is nou deel van radikale ekonomiese bemagtiging, die hele kompound moet nou oorgedoen word en daar gaan ‘n mini kernkragstasie ook bygevoeg word. Blykbaar ook nog huise vir die uitgebreide familie en beton muur van 4.00m hoog regrondom die perseel. Die hele perseel gaan ook selfonderhoudend word wanneer hongersnood amper soos noag se ark.

graskopper ·

goed vir jou mmusi. as die department van openbare werker soveel geld het om op strooi te spandeer kan hulle gerus ons melaatse paaie hier in en rond om graskop mp kom herstel. daar is nie een pad in ons dorpie wat nie gat op gat is nie. die is n toeristedorpie. ons is afhanklik van die toeriste wat nie meer wil kom en hulle voertuie kom beskadig op hierdie vrot paaie nie. die bikers wil nie eers meer hulle Paradise rally hier hou nie. nee Jacob. sorg jy vir jou huis. jou vroue en kinders met hulle vet staatstoelae kan jou help betaal. of jou vriende, die Gupta’s.

Big daddy ·

Ek self is n bouer. En kom ek se julle n ding. Destyds het hulle mos n volledige lys gepubliseeer tov verbeterings en opgraderings by die plek. Vir interesantheid het ek somme gemaak. Ek het uitgekom op R24 miljoen vir alles. En glo my ek is reg. Kom ons sit nog R5miljoen by vir goed wat ek moontlik kon uitgelos het. Maar ek twyfel baie sterk dat ek het. Waar is die ander geld heen?

Rox ·

Skande wat betaal is vir die eenvoudige simpel huisies en dit terwyl sy eie mense wintermaande gaan verspoel. Het daardie Zuma nie iets soos n gewete nie. Sies man is n skande en hy klou soos neet.

marous ·

Geen staatsdepartemente betrokke . Is dit dan privaat kontrakteurs wie se rekening deur die belastingbetaler vereffen moet word?

Alida ·

Ek se julle die werk is KLAAR gedoen. Die DA moet dit intens ondersoek en daai stortkop moet dit uit sy eie sak betaal. Eintlik betaal ons daarvoor met die geld wat reeds gesteel is. Belaglik.

graskopper ·

weg is my mening. as die department van openbarewerke miljoene het wat rondlê, kan hulle eerder Graskop MP se melaatse paaie kom regmaak. laat die guptas vir nkandla sorg.

Johann ·

Julle????? Arme NUMBA WHONE het wye.sosiale verpligtinge! Hy moet tog in VOLUME kan huisves…die Guptas kuier met vliegtuie vol, antie Zuma sy X en haar fanfare soek gereeld veielige oornag plek na haar roof (tog)…sy huidige harem se xtended families is wel…XTENDED…en al.die Zumaikies wat al die jare hom NUMBA WHINE gehou het gaan gereeld n POOL PARTY wil kom hou! Siesa julle…dis als vir the people…NUMBA WHONE gaan in n modder hut bly, naby sy hoenders en bokke en beeste en miskruiers en aasvoelnes en Indiese Maiers en….

KZN ·

Shame vir julle – Zuma se Paleis maak julle witmense regtig waar siek. Jan Van Riebeek en Pk Botha het vir julle so alles reg gemaak. Gaan skuit julle almal laat die voels kan kos kry. Julle sake is vet van ons voorvaders se geld….Vat Zuma vat!! Waar kry julle al die gronde op die wereld, Stellenbosch se hele gronde behoort aan witmense…..julle ou skelms dus waarom julle Zuma as n’ ou skelms sien. Julle is ook die grootste skelms.

KZN ·

Thuli moet eers met Die Stad van Kaapstad gaan begin ondersoek….daar is ‘n klom Bestuurders wat nie eens kwalifikasies het nie….en mense wat net mekaar in smokkel en mekaar huur. Dieselfde met Weskaapse Tenders……hands off van Zuma…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.