‘Nie veel’ wat regering aan brandstofprys kan doen – Sapia

Argieffoto (Foto: IADE-Michoko/Pixabay)

Die prys van petrol word streng deur die staat gereguleer en daar is min wat die regering – en vulstasies – kan doen om verligting te bring vir verbruikers wat steier onder stygende brandstofpryse.

Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van die SA Petroleumbedryfsvereniging (Sapia), het Vrydag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne en energie gesê wanneer daar probleme aan die begin van die waardeketting is – dus waar olie geproduseer word – word dit regdeur die waardeketting tot by die verbruiker gevoel.

En hoewel die oorlog tussen Rusland en Oekraïne bygedra het tot die styging in oliepryse, het Suid-Afrikaanse verbruikers stygende brandstofpryse al maande tevore aan hul sakke begin voel.

Sommige ekonome waarsku reeds dat ʼn prys van R40 per liter vir brandstof nie onmoontlik is nie, maar omdat elke gedeelte van die basiese brandstofprys spesifiek toegewys word aan elemente soos vervoer, raffinaderye en heffings soos dié op die Padongelukkefonds, is dit haas onmoontlik om verligting te bring sonder dat daar elders finansieel ingeboet word.

Die bedryf bepaal egter nie die formule waarmee die brandstofprys bereken word nie.

“Sapia beheer nie die basiese brandstofprys en die elemente wat dit bevat nie; dit word deur die departement van minerale hulpbronne en energie bepaal. Die departement het egter ook nie beheer oor al hierdie aanduiders en beperkings nie, aangesien dit buite ons land gesetel is.”

Tshifularo sê Sapia – wat onder meer BP, Sasol, Engen, Shell en Astron Energy verteenwoordig – is egter nie gekant daarteen om alle opsies oor die brandstofprys en die vasstelling daarvan te oorweeg nie.

“Daar moet geen heilige koeie wees nie,” het hy aan LP’s gesê met verwysing na ondersoeke na kwessies soos die marge op brandstof, kosteverhaling en uiteindelik die basiese brandstofprys.

“Ons moet met alle betrokkenes hieroor vergader. Ons is nie gekant teen ʼn hersiening van al hierdie faktore nie,” sê hy.

Tshifularo sê dit is in hierdie stadium net olieproduserende lande wat “kan glimlag” en hoewel die rand verstewig het teen die dollar, “is pryse steeds besig om weg te hardloop”.

“Daar is niks wat op kort termyn in die basiese brandstofprys aangepas kan word, wat noemenswaardige verligting vir die verbruiker gaan beteken nie.

“Enige veranderings dra die risiko oor na die invoerder, met ʼn beduidende moontlikheid van ʼn besnoeiing in voorraad as die basiese brandstofprys nie die koste van invoere kan dek nie,” waarsku Tshifularo.

Hy het Maandag aan eNCA gesê verbruikers moenie asem ophou vir enige verligting nie en hoër vervoer- en brandstofkoste is op hande.

Sapia verwag ʼn styging van sowat R2 per liter in die prys van petrol en sowat R3 per liter in die prys van diesel.

Volgens Vrydag se syfers van die Sentrale Energiefonds was die onderverhaling vir petrol tussen R1,83 en R1,91 en die onderverhaling vir diesel tussen R2,99 en R3,14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wondermaarnet

Weer eens STAATSBEHEER! Wat het die staat al vir SA gedoen sedert 1994?

Jean

Ons almal weet as die regering sê hulle kan nie dan beteken dit hulle kan.

Annamarie

Kan Nie ?? Of Wil Nie??

Anel

En die taxis is so stil soos ‘n oorlogskip in vrede!! In 1984 is die prys van petrol met 1 sent verhoog, van 84 sent per liter na 85 sent per liter toe brand hulle die land af. Verseker subsidieer ons as gewone mense hulle ook nog.

JL

En ons land besit nie ‘n publieke vervoerstelsel nie en dit wat daar is, is in konstante konflik met faksies.