Die Helen Suzman Foundation en Freedom Under Law voer in die bykomende verklaring aan dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) steeds inligting versamel om hul saak te probeer versterk.
Volgens die organisasies het hulle Woensdag bewus geraak van ʼn dagvaarding wat op die uitvoerende hoof van die administrateurs van die regering se pensioenfonds beteken is. In die dagvaarding word Krishen Sukdev onder meer versoek om statistieke beskikbaar te stel rakende die vroeë aftrede van Ivan Pillay sowel as 3 000 ander werknemers wat vir vroeë aftrede goedgekeur is.
Sukdev word ook versoek om bewyse te lewer dat Gordhan in vyf van die sake goedkeuring gegee het.
Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman Foundation, het gesê die dagvaarding wys dat die NVG oorhaastig vir Gordhan aangekla het sonder die nodige bewyse en nou ʼn saak teen hom probeer bou.
“Die dagvaarding is eerder ʼn aanklag op die ondersoekende en vervolgingsproses,” voer Antonie aan. “Dit is ook duidelik dat die NVG nooit voldoende ondersoeke voltooi het of voldoende bewyse het om Gordhan aan te kla nie.”
Freedom Under Law en die Helen Suzman Foundation het die hof genader en versoek dat die aanklagte teen Gordhan teruggetrek word. Gordhan moet op 2 November in die hof verskyn.
En dan is z bekommerd oor n moonlike piesang -republiek. Die kas piesangs is lankal suur en vrot.