‘Nie voldoende bewyse om Gordhan aan te kla’

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die twee organisasies wat aansoek gedoen het dat die aanklagte teen Pravin Gordhan, minister van finansies, laat vaar moet word, het ʼn bykomende verklaring by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien.

Die Helen Suzman Foundation en Freedom Under Law voer in die bykomende verklaring aan dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) steeds inligting versamel om hul saak te probeer versterk.

Volgens die organisasies het hulle Woensdag bewus geraak van ʼn dagvaarding wat op die uitvoerende hoof van die administrateurs van die regering se pensioenfonds beteken is. In die dagvaarding word Krishen Sukdev onder meer versoek om statistieke beskikbaar te stel rakende die vroeë aftrede van Ivan Pillay sowel as 3 000 ander werknemers wat vir vroeë aftrede goedgekeur is.

Sukdev word ook versoek om bewyse te lewer dat Gordhan in vyf van die sake goedkeuring gegee het.

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman Foundation, het gesê die dagvaarding wys dat die NVG oorhaastig vir Gordhan aangekla het sonder die nodige bewyse en nou ʼn saak teen hom probeer bou.

“Die dagvaarding is eerder ʼn aanklag op die ondersoekende en vervolgingsproses,” voer Antonie aan. “Dit is ook duidelik dat die NVG nooit voldoende ondersoeke voltooi het of voldoende bewyse het om Gordhan aan te kla nie.”

Freedom Under Law en die Helen Suzman Foundation het die hof genader en versoek dat die aanklagte teen Gordhan teruggetrek word. Gordhan moet op 2 November in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

humor ·

En dan is z bekommerd oor n moonlike piesang -republiek. Die kas piesangs is lankal suur en vrot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.