Die Staatsveiligheidsagentskap sê daar is in dié stadium nie voldoende bewyse beskikbaar om die bewerings te ondersteun dat die Iranse regering ʼn komplot smee om Lana Marks, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, te vermoor nie.
Mava Scott, woordvoerder van die Staatsveiligheidsagentskap, het Vrydag in ʼn verklaring gesê regeringsamptenare het nou versoek dat die Amerikaanse regering bykomende inligting aan Suid-Afrika verskaf. “Die inligting sal weer hersien en beoordeel word sodra ons dit ontvang.”
Volgens Scott neem die Suid-Afrikaanse regering alle beweerde bedreigings ernstig op.
“Ons het daarom die veiligheidsituasie en waaksaamheid verhoog. Dit is ons plig om alle diplomatieke sendings en hul personeel in Suid-Afrika te beskerm.”
Bewerings van ʼn komplot teen Marks het verlede naweek die lig gesien nadat die Amerikaanse webwerf Politico berig het dat Amerikaanse amptenare luidens ʼn Amerikaanse intelligensieverslag reeds ʼn geruime tyd bewus is van ʼn beweerde sluipmoordpoging op Marks.
Dít na bewering uit weerwraak vir die dood van die Iranse generaal Kassem Soleimani. Soleimani is in Januarie vanjaar in ʼn Amerikaanse hommeltuigaanval in Irak dood.
Iran ontken egter die bewerings ten sterkste.
Marks (66) is in Suid-Afrika gebore en is verlede Oktober as Amerikaanse ambassadeur beëdig. Sy en pres. Donald Trump van die VSA ken mekaar al twee dekades lank. Politico berig sy word vermoedelik weens haar jare lange vriendskap met Trump geteiken.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
Die vraag bly nog staan. Aan wie se kant gaan die ANC regering hulle skaar . Amerika of Iran ???
Onder Zuma is ons Intelligensie Dienste tot op so n vlak afgebreek dat dit niks beteken nie. Wat ook kommerwekkend is is die feit dat die ANC bondgenote van Iran is en nie by Iranse operasies sal inmeng nie.
Staatsveiligheid – Slaap gerus voort. Moenie dat ons julle steur nie.
Al Bashir is voldoende bewys vir julle leuens en komplot smee mentaliteit .