Niemand glo by Sun City afgedank nie

Sun City Foto: suncity.hotel.co.za

Sun City Foto: suncity.hotel.co.za

Sun International het Sondag gesê geen personeellede is by die Sun City-oord in Noordwes afgedank nie.

“Sun International bevestig dat ongeveer 160 werknemers van die maatskappy by die oord ondersoek word vir die diefstal van voedsel- en drank,” het Michael Farr, woordvoerder van Sun International, in ʼn verklaring gesê. “Slegs 30 persone is werknemers van Sun City. Die res is deur vier eksterne diensverskaffers aangestel.”

Die vakbondfederasie Cosatu in Noordwes het vroeër beweer dat Sun City personeellede afgedank het. Farr sê die maatskappy wag op die uitslag van die ondersoek voordat hy stappe doen.

Solly Phetoe, streeksekretaris van Cosatu, het Saterdag gesê honderde mense betoog buite die oord. Die betogers het glo geëis dat tussen 200 en 250 van hul kollegas, wat vroeër die week afgedank is, dadelik weer aangestel moet word. “Die betogers het aangevoer dat die maatskappy videokameras in toilette en in kombuise geplaas het om hulle te ondersoek,” het Phetoe gesê.

Sommige van die werkers is glo afgedank nadat hulle te lank in die kombuis en ruskamers spandeer het en ander is glo verfilm dat hulle gesteel het, het Phetoe gesê. Hy het die bestuur van die oord versoek om bewyse hiervan te verskaf.

Farr sê hy kan wel bevestig dat personeellede wat deur een van die vier diensverskaffers aangestel is, geskors is hangende die uitslag van die ondersoek en tugproses. “Die ondersoek handel oor honderde voorvalle van diefstal wat verfilm is,” het Farr gesê. “Die bestuur van Sun City is gemaklik dat hy die korrekte prosesse gevolg het en die erkende vakbond, Saccawu (SA Commercial, Catering and Allied Workers Union) is in kennis gestel het en geen beswaar is aangeteken teen die ondersoek nie.

Farr sê tussen 100 en 150 persone het Saterdag aan die “onwettige betoging” deelgeneem, en nie 3 000 soos wat Cosatu beweer het nie. “Van die personeellede wat ondersoek word, was deel van die betoging,” het hy gesê. “Ons ken nie die ander persone wat saam met hulle betoog het nie. Sun City was steeds werksaam, ondanks pogings deur die betogers om werknemers toe te laat om die oord te betree.”

Gebeurlikheidsplanne is getref om die welstand en gerief van besoekers te verseker.

Farr sê Cosatu Noordwes se bewerings van rassisme en dat kameras in toilette opgestel is, is ongegrond. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.