Niemand ná 17 jaar nog vir man se dood vervolg

V.l.n.r. Wico Swanepoel, Andrew Leask, adv. Phyllis Vorster, Slang Maangwale, adv. Gerrie Nel en Anthony Sehas tydens ’n vorige hofverskyning.(Foto: Verskaf)

Die geregtelike doodsondersoek van ’n man wat 17 jaar gelede in polisieaanhouding dood is, is Maandag in die landdroshof in Brits op die hofrol geplaas vir die week van 28 Februarie volgende jaar.

Dít volg nadat die voorsittende beampte in die doodsondersoek na die dood van Solomon (Solly) Nengwane in 2006 self onlangs dood is. Die saak sou vandeesweek begin het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, tree namens Nengwane se familie in hierdie ondersoek op nadat hulle dié eenheid om hulp genader het omdat niemand bykans twee dekades later nog vir sy dood aanspreeklik gehou word nie.

Die persone van belang is sewe senior polisiebeamptes onder wie se toesig die slagoffer destyds in aanhouding dood is.

Volgens Wico Swanepoel, ’n prokureur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het slegs

vyf van die sewe Maandag in die hof verskyn, ondanks die feit dat hulle almal gedagvaar is om teenwoordig te wees.

Hulle het ook versuim om vir ’n vorige hofdatum op te daag.

Nel het Maandag in die hof aangevoer dat die twee afwesige persone, genl.maj. Ntebo Jan Mabula en kol. Ishmail Dawood, tegnies gearresteer moet word omdat hul afwesigheid ’n misdaad ingevolge wetgewing is. Nel het egter aangevoer dat die lasbriewe vir hul arrestasie tot Februarie 2022 oorgehou moet word wanneer die doodsondersoek begin.

Die Nasionale Vervolgingsgesag se aanklaer is die getuienisleier in hierdie ondersoek.

Die regsverteenwoordiger van die persone van belang het egter aangevoer dat dit lyk of die privaatvervolgingseenheid die ondersoek oorneem, waarop die eenheid geantwoord het dat hy alles in sy vermoë sal doen om te verseker dat geregtigheid geskied.

“Die privaatvervolgingseenheid sal toesien dat al die relevante getuies in hierdie doodsondersoek geroep word, insluitend Robert McBride en genl. Johan Booysen.

“Die persone van belang se regsverteenwoordiger het vroeër vanjaar gedreig om ’n aansoek te bring dat Nel nié namens die Nengwane-familie mag optree nie omdat Mabula die beampte is wat Nel in 2008 gearresteer het tydens van die vervolging van Jackie Selebi.”

Swanepoel meen die saak kan nie aanhou sloer as gevolg van persone wat gewaarsku word om by die hof te wees en dan bloot versuim om op te daag nie.

“Geregtigheid moet geskied vir Nengwane se familie. Dit is waarom ons betrokkenheid by hierdie ondersoek so belangrik is – ons kan nie toelaat dat sommige persone anders behandel word deur die regstelsel bloot omdat hulle polisiebeamptes is of was nie.”

Nengwane is een van vyf mense wat in 2006 gearresteer en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollar, asook dwelms, by ’n Benoni-polisiestasie gesteel is. Die sewe persone van belang in die ondersoek was destyds deel van die taakspan wat saamgestel is om die saak te ondersoek.

Die gesteelde geld en dwelms is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het luidens mediaberigte onder verdagte omstandighede verdwyn. Nengwane is op 6 Junie 2006 dood nadat hy deur die persone van belang gearresteer is.

Een weergawe is dat die polisie Nengwane na die Dr. George Mukhari-hospitaal geneem het en dat hy reeds geruime tyd dood was toe hulle by die hospitaal aangekom het.

Die polisie het sy liggaam by die hospitaal gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

N mens het nie meer woorde vir die sleg anc nie.

Blikke

Hierdie Rot het voorwaar n baie skerp klankie…..

modiglianigirl

Ons regstelsel is verguis en oneffektief gemaak deur dieselfde mense wat veronderstel is om dit af te dwing.

Frank John

Duidelik respek vir gereg nie meer daar.

Bushy

Sou dit in Januarie 2006 gebeur het is dit nou maar 15 Jaar 9 maande. Berig se 17 Jaar? Dis hoekom basiese wiskunde in Suid Afrika so belangrik is. En dan lag ons vir regerings amptenare wat nie kan syfers lees nie. Laat mens dink.